Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 2)

Die gebeure rondom die Sinode en die uiteindelike verloop kan nie losgemaak word van die kerkorde en die binding aan die belydenis nie. Merkwaardig in dié verband het die posisie en waardering van die kerkorde relatief gebly, behalwe wanneer die een of ander kerklike onvergenoegdheid of verskil van mening ontstaan.

Die belydenis van die kerk soos verwoord in die belydenis-skrifte is eweneens van besondere waarde in diens van die keuse om ’n belydende kerk te wees. Skrifberoep word verder versier met belydenis, want dit is merkwaardig dat dwaalleer nie sonder die Skrif geskied nie. Die binding aan die belydenis by Dordt gaan oor die hart van die kerk, naamlik prediking van die genade van God aan skuldige mense.

Die verskil van mening in die aanloop tot die Sinode van Dordrecht het reeds sedert die Sinode van Emden 1571 in politieke en godsdienstige aangeleenthede ter sprake gekom. Uit korrespondensie van die broeders Coornhert blyk ’n bepaalde wantroue teen Calviniste soos Petrus Dathenus (1531-1588), maar ook teen Calvyn met betrekking tot die uitverkiesing. Kritiek oor die Kategismus met betrekking tot die erfsonde het onder sekere predikante byval gevind. Die mens moes volgens Dirk Volkertsz Coornhert (1522-1590) homself met sy verstand en vrye wil ontwikkel tot die beoefening van die volmaakte deug.

Die gedagtes van Coornhert vind ook byval by ’n verdere woordvoerder, naamlik Caspar Coolhaes (1536-1615), wat ook groot moeite gehad het met die belydenisskrifte en homself nie kon vind in die kerklike orde nie. In dispuut met ’n kollega, Pieter Cornelisz, in die gemeente Leiden in 1578, openbaar hy ook die oortuiging wat later deur die Remonstrante gestel sou word, dat die owerheid seggenskap in die kerk moet uitoefen. Dié standpunt word deur die Sinode van Middelburg (1581) verwerp. Verdere name kan hier bygevoeg word, soos dié van Hubert Duifhuis (1531-1581) en ander.

Die standpunt van die Remonstrante en die kritiek op belydenis en kerklike orde, asook op die verhouding tussen kerk en owerheid, was dus veel ouer as die Dordtse Sinode. Dit is interessant dat die Contra-Remonstrante die optrede van die voorlopers verklaar het vanuit die skaarsheid van predikante en sommige predikante wat uit Roomse geledere oorgekom het. Die kritiek vanuit dié oord is dus nie krities genoeg beskou nie. Die driftigheid waarmee die Remonstrante hul saak gepropageer het, was dus nie uit die lug gegryp nie, maar staan in die verlenging van bogenoemde woordvoerders reeds sedert die Sinode van Emden.

Die dispuut is dus nie net tussen die twee genoemde hoogleraars aan die Universiteit van Leiden nie, maar verbreed tussen hul volgelinge en loop uit op ’n kerklike dispuut wat op die tafel van die owerheid beland, wat in die gegewe omstandighede nie uitsonderlik was nie.

Na die dood van Arminius (1609) word die leiding van die Remonstrante deur Johannes Wtenbogaert (1557-1644) oorgeneem. Hy was hofprediker van Prins Maurits (1567-1625), die Stadhouer van Holland. Ook hy het besware teen die uitverkiesingsleer soos verstaan deur die calviniste ná Calvyn, en hy formuleer op 14 Januarie 1610 saam met 43 predikante ’n Remonstrantie (betoog of redeskrif) waarin hy stel dat die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus aan hersiening onderwerp kan word en derhalwe nie as maatstaf moet geld wanneer die owerheid ’n sinode byeenroep om die spanning by te lê nie.

Die indiening van die Remonstrantie op14 Januarie 1610is voorafgegaan deur die sogenaamde pamflettestryd in 1609 en 1610, met dié van Reijnier Dontelock (±1545-1612), predikant van Delft, wat (naas ’n reeks ander pamflette) waarskynlik as die belangrikste geag word. Die vraag kom ter sprake hoe die mens gesien moet word, naamlik voor of na die skepping. Dontelock verskuif die debat sodat die mens ná die skepping gesien word as die een wat in sonde geval het, en God se besluit gaan oor die uitverkiesing van die mens wat in sonde geval het. Vir Dontelock gaan dit om ’n verkiesing tot geloof en nie op grond van geloof nie.

Soos verwag kon word, dien die Contra-Remonstrante op 11 Maart 1611 ook ’n Remonstrantie in. ’n Konferensie om die twee partye te versoen en wat later as die skriftelike konferensie bekend sou staan, vind plaas op 10 Maart 1611. Op 27 en 28 Februarie 1613 word in Delft ’n tweede Schriftelijke Conferentie gehou om ’n weg van vrede uit te dink en aan die kerk vir goedkeuring voor te lê, wat ook misluk.

As gevolg van die toenemende onenigheid op vele plekke, poog Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619), raadspensionaris of landsadvokaat van die Staten, om Koning Jacobus I (1566-1625) van Engeland, regerende monarg vanaf 1603 tot 1625, te nader om by die Staten-Generaal en die Staten van Holland daarop aan te dring om een edict van tolerantie uit te vaardig in ’n poging om die toenemende konflik aan bande te lê. Dit gebeur in 1614 in die Staten van Holland se Resolutie tot de vrede der kercken. Jacobus I tree op volgens ’n eie Bybelse geloof wat ruimte moes maak vir sy biskoplike voorkeure, en koester die gedagte van ’n Europese Protestantse kerk waarin die Anglikaanse Kerk ’n rol kon speel.

Aan die einde van 1616 kom Oldenbarnevelt met ’n nuwe plan na vore, naamlik om stadsbestuurders te magtig om soldate in diens te neem om die oproer in hul gebied in die kiem te smoor, wat wesenlik teen die Contra-Remonstrante gemik was. Dit sou as die Scherpe Resolutie bekendstaan wat op 4 Augustus 1617 uitgevaardig is.

Dit lei tot die finale breuk tussen Maurits en Oldenbarnevelt, veral as Maurits openlik kies vir die Contra-Remonstrante en hul erediens op 23 Julie 1617 in die Kloosterkerk in Den Haag bywoon. Daarmee sluit hy openlik by die Contra-Remonstrante aan en word hy deur sy rang en amp hul aanvoerder. Maurits kom in beweging en hef die aanstelling van alle soldate op, en dreig dat enige weerstand met teregstelling beantwoord sou word. Daarmee saam word Oldenbarnevelt, Hugo de Groot, Hoogerbeets en Gillis van Ledenberg gearresteer. Oldenbarnevelt word verhoor en op 13 Mei 1619 in Den Haag tereggestel. Daar het dus ’n persoonlike stryd gewoed tussen Oldenbarnevelt en Prins Maurits wat hulle elkeen by een van die partye geskaar en uiteindelik ’n botsing tussen kerk en staat onvermydelik gemaak het as gevolg van weerstand teen staatsinmenging in kerklike aangeleenthede.

Op 4 Oktober 1617 besluit die Staten-Generaal met meerderheidstem om ’n nasionale sinode byeen te roep, wat waarskynlik veel vroeër moes gebeur het.

Dit is merkwaardig dat die Sinode hulle deur die inhoud van die Remonstrante se Remonstrantie as’t ware op sleeptou laat neem het sodat die regverdigingsleer nie in die Leerreëls ter sprake kom nie, want die regverdigingsleer kom nie in die Remonstrante se Remonstrantie ter sprake nie. Die probleem is dat Arminius werk met ’n korrelatiewe samewerking tussen God en mens. Eenvoudig gestel, is hy van mening dat ’n mens ’n bydrae lewer tot sy eie saligheid. Geloof word as ’n menslike deug gesien, ’n menslike daad word ’n menslike verdienste wat in sy guns tel en bydra tot sy saligheid, ’n daad van gehoorsaamheid op grond waarvan God die mens regverdig.

In die volgende aflewering word die aandag gevestig op die samestelling en verloop van die Sinode, gevolg deur die Leerreëls as sodanig.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)