Die Hervormer

Wat glo ons volgens die Heidelbergse Kategismus?

Deur die loop van 2018 en 2019 herdenk Reformatoriese kerke regoor die wêreld die Sinode van Dordrecht. Die Sinode het aan die einde van 1618 in die stad Dordrecht sitting geneem en het op 29 Mei 1619, na 180 sittings, plegtig met ’n erediens afgesluit.

Die Heidelbergse Kategismus was een van vele leerboeke wat tydens die Kerkhervorming ontstaan het. Dit is ook bekend dat die opstellers van die Heidelbergse Kategismusvan bestaande kategismusse gebruikgemaak het. Daarom is dit belangrik om te kyk na die kategismusse wat destyds in omloop was en moontlik as bron vir die samestelling van die Heidelbergse Kategismus gedien het. Kategismusse het hoofsaaklik die tien gebooie, Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis) en die Onse Vader as basis gebruik.

 

Die Heidelbergse Kategismusis drieledig gestruktureer, met die bekende inleiding wat handel oor die mens se enigste troos in lewe en sterwe, naamlik dat ons met liggaam en siel aan ons enigste Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus, behoort.

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe. 

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?

Antwoord: Drie dinge: Eerstens, hoe groot my sonde en ellende is; tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word; en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die bekende Switserse teoloog Karl Barth was oortuig dat die drieledige struktuur van die Heidelbergse Kategismus voortvloei vanuit die eerste vraag en antwoord oor troos. Die Heidelbergse Kategismus konfronteer ons met wesenlike vrae: Wie is die mens wat getroos word, hoe word hierdie troos gegee, en waaruit bestaan dit?

Volgens Barth is daar nog ’n belangriker vraag in die Heidelbergse Kategismus teenwoordig, naamlik: Wie is die trooster? Jesus Christus is vanselfsprekend ons Trooster omdat Hy ons plek voor God ingeneem het. Hy kon dit doen omdat Hy die geliefde Seun van God is wat soos ons geword het. Hy los ons ook nie alleen nie. Die Heilige Gees speel ’n belangrike rol in die Heidelbergse Kategismus, veral as die Trooster. Deur die Gees glo ons in Jesus Christus. Daardie geloof gee ons deel aan die verlossing, en dit is die diepste grond van ons troos. Vraag 65 van die Heidelbergse Kategismus stel dit soos volg:

Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so ’n geloof dan vandaan?

Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die heilige sakramente.

Die Heidelbergse Kategismus is ook in ’n ander opsig uniek: Anders as ander belydenisskrifte wat gegroei het uit óf Calvinistiese óf Lutherse tradisies, het dit ontstaan as ’n “ekumeniese” dokument wat die Calvinistiese en Lutherse tradisies met mekaar wou versoen.

Dit is ook van onmiddellike belang vir die lewe en werk van die kerk. Die Heidelbergse Kategismus handel oor die lewe van die kerk, en kerk gaan oor sonde, verlossing en dankbaarheid. Dit is die evangelie wat ons elke Sondag verkondig, en dit is die struktuur van ons prediking en teologie.

Die drie kernpunte van die Heidelbergse Kategismus (sonde, verlossing en dankbaarheid) kan by uitstek as ’n samevatting van reformatoriese leer beskou word en op ’n besonderse manier die algemene evangeliese geloof tot uitdrukking bring. Die Heidelbergse Kategismus is nie ’n stuk teorie nie, maar ’n dokument wat gebruik word om die evangelie te verkondig.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)