Die Hervormer

Die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 (Deel 1)

Die Nederduitsch Hervormde Kerk bely in gemeenskap met die kerk van alle eeue sy geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. So word dit ter aanvang in die Kerkorde gestel waardeur bevestig word dat die Kerk ’n belydende Kerk is. Die belydenis van die Kerk is enersyds geskoei op die Bybel as Woord van God, maar andersyds verwoord aan die hand van die drie ekumeniese belydenisskrifte, asook in die Reformatoriese belydenisskrifte, die sogenaamde formuliere van eenheid.

Die formuliere van eenheid bestaan uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HK), en die Dordtse Leerreëls (DL). Die Nederlandse Geloofsbelydenis is deur Guido de Brès (1522-1567) geformuleer wat hy in die nag van 1 en 2 November 1561 oor die kasteelmuur van Doornik gegooi het, geadresseer aan koning Philips II. Die bedoeling was om die vyandige koning van Spanje wat Calviniste in die Suidelike Nederlande vervolg het, te oortuig dat die Calviniste ’n suiwer Bybelse leer verkondig en aanhang. Sy identiteit word ontdek en hy betaal daarvoor met sy lewe op ’n brandstapel.

Die Heidelbergse Kategismus ontstaan uit ’n opdrag van keurvors Frederik III in 1563, aan die teologiese fakulteit van Heidelberg. Die werkkomitee waarin die hoogleraar Zacharias Ursinus ’n leidende rol gespeel het, maak ruim gebruik van ander bestaande kategismusse en word gefinaliseer nadat ’n kerkvergadering die voorgelegde kategismus agt dae lank bespreek en byna eenstemmig aanvaar het, wat op 18 Januarie 1563 amptelik in Heidelberg onderteken is.

Die Dordtse Leerreëls is die geformuleerde reaksie van die Sinode van Dordrecht op die remonstransie (protes of teenbetoog) van ’n groep predikante wat later as die Remonstrante bekend geword het. Die Sinode, wat in dié stad in Nederland plaasgevind het, word op 13 November geopen en sluit af op 29 Mei 1619.

Die aanloop tot die Sinode word ietwat vroeër gevind in die dispuut wat tussen twee professore ontstaan aan die teologiese fakulteit van Leiden en hul volgelinge, naamlik Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641). Die dispuut tussen hulle ontstaan oor die uitverkiesing wat vir Arminius daarop neerkom dat God van ewigheid besluit het om sommige in Christus vir wie Hy geloof skenk, te regverdig, tot kinders aan te neem en aan hulle die ewige lewe te skenk. Eweneens is die verwerping van ander ’n besluit van die toorn of van die streng wil van God waardeur van ewigheid besluit is dat hulle nie sal glo nie en buite die gemeenskap met Christus gestel is, verdoem tot die ewige dood. Eenvoudiger gesproke het dit ook gegaan oor die vraag of gelowiges ’n bydrae tot saligheid kan lewer al dan nie.

So bekend as wat die Heidelbergse Kategismus oor jare geraak het en die prominente plek wat die geskrif in prediking en kategese ingeneem het, soveel minder is die Dordtse Leerreëls bekend en gebruik. In die debat wat oor dié belydenisskrif tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering gevoer is, was dit duidelik dat onder die indruk verkeer word dat die Dordtse Leerreëls onderwaardeer word en goedskiks geskrap kan word.

Oorweging van die Leerreëls en indien ’n bereidwilligheid bestaan om eers goed te luister, kan alleen reg geskied indien die aanloop tot die Sinode en die heersende omstandighede ook deeglik in ag geneem word. Enige vooropgestelde mening dat in die Leerreëls ’n koue en harde vorm van predestinasie gevind word wat daarop neerkom dat sommige uitverkies en ander van ewigheid verwerp is, verwring die inhoud en bly in gebreke om die Leerreëls essensieel tot spreke te bring.

Die aanvanklike meningsverskil tussen Arminius en Gomarus en hul volgelinge verbreed en loop uit op twee strydende partye wat bekend sou staan as die party wat Arminius gesteun het, naamlik die Remonstrante, teenoor die Contra-Remonstrante wat uit die aard van die saak Gomarus se standpunt verder gevoer het. Behalwe die twee kerklike partye wat teenoor mekaar te staan gekom het, raak die owerheid ook betrokke – wat in dié tyd as normaal beskou is.

Die aard en omvang van die verskille tussen Arminius en Gomarus kom aan die lig in die disputasies of openbare lesings wat respektiewelik op 7 Februarie en 31 Oktober 1604 plaasvind. Die spanning verhoog sodat dit uiteindelik vir die kerkraad van Leiden en die kuratorium duidelik word dat daar inderdaad diepliggende verskille tussen die twee professore was. Arminius wend hom tot die Staten van Holland en Wes-Friesland (die owerheid van twee Nederlandse provinsies), en op 30 Mei 1608 verskyn Arminius en Gomarus saam met vier predikante op las van die Staten voor die sogenaamde Hoge Raad. Die samekoms lewer nie die gewenste resultaat nie, selfs as onder leiding van Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619) (raadspensionaris of landsadvokaat) op 12 Augustus 1609 verdere gesprek gevoer word oor regverdiging, predestinasie en hersiening van die belydenis. Die spanning neem toe en versprei verder in die kerk. Nog voor die vergadering formeel beëindig is, moes Arminius hom weens siekte onttrek; hy sterf op 19 Oktober 1609.

Die Sinode van Dordt kan nie losgemaak word van die heersende politiek wat noodwendig invloed uitgeoefen het nie. ’n Jaar na die Sinode van Emden (1571) wat in die buiteland moes plaasvind, kom die bevryding van Nederland. Dit lei egter tot bepaalde spanning tussen die magte in die Republiek wat wentel rondom die belydenis, die gesag van die kerkorde en die invloed van die owerheid in die kerk. Naas die spanning tussen kerk en owerheid ontstaan ook ’n uiters gespanne persoonlike verhouding tussen prins Mauritz, die seun van prins Willem van Oranje, en Oldenbarnevelt. Uiteindelik sou prins Mauritz ’n keuse maak vir die Contra-Remonstrante, en Oldenbarnevelt die kant kies van die Remonstrante.

Hoe sterk die politieke invloed geheers het, word beklemtoon deur die invloed van die koning van Engeland, Jacobus I (1566-1625), wat hom teenoor die Staten van Nederland, (die regering) uitspreek oor die aanstelling van hoogleraars en waar die moontlike volgende sinode moes plaasvind. Hy beywer hom vir ’n Bybelse geloof wat ruimte bied vir sy biskoplike voorkeure, soos een groot Europese Protestantse kerk waarin die Anglikaanse kerk ’n beduidende rol sou speel.

’n Kerk wat vervolg word deur ’n vyandige owerheid kyk anders na sy situasie in die wêreld as ’n kerk wat naby aan die owerheid leef, selfs onder die beskerming van ’n owerheid soos Guido de Brès dit in Artikel 36 van die NGB verwoord het. As die kerk werklik vry wil wees, geld slegs die maatstaf van die Woord. Maar die siening hier was waar die magistraat gereformeerd was, die kerk nie ’n selfstandige bestaan nodig het los van die leiband van die owerheid nie.

Daarnaas het die eendragtigheid waarmee die binding aan die belydenis by Emden bejeën is, onder kritiek gekom van die weerstand van die Remonstrante teen die binding aan die belydenis. Die sorgvuldigheid waarmee die Sinode van Dordrecht die belydenis vasgestel het, moet teen dié agtergrond gesien word. Laastens moet die invloed van die filosofie nie onderskat word nie, sodat Arminius en Gomarus filosofies gesien kan word as ’n konflik tussen Aristoteles en Ramus.

Die aanloop tot en verrigtinge van die Sinode van Dordt, asook die Leerreëls van Dordt self, moet met begrip bejeën word, met deeglike inagneming van die tyd waarin die Sinode plaasvind, die heersende geestesklimaat, asook die verhouding tussen kerk en owerheid.

(Dr Barry van Wyk is emerituspredikant

en leraar in Waterberg en Zoutpansberg)