Die Hervormer

Wat glo ons?

Deur die loop van 2018 en 2019 herdenk Reformatoriese kerke regoor die wêreld die Sinode van Dordrecht. Die Sinode het aan die einde van 1618 in die stad Dordrecht sitting geneem en het op 29 Mei 1619, na 180 sittings, plegtig met ’n erediens afgesluit.

Die Sinode het onder andere die Dordtse Leerreëls opgestel, wat een van die Hervormde Kerk se drie belydenisskrifte is. Saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus, vorm die Dordtse Leerreëls die drie formuliere van eenheid, waarin die kerklike belydenis verwoord word.

Dit is natuurlik ook só dat die Sinode van Dordrecht nie orals met ewe groot vreugde herdenk word nie. Inteendeel – daar is kerke wat in die Reformatoriese tradisie staan wat nie die Dordtse Leerreëls aanvaar nie. Daar was ook deur die loop van die geskiedenis verskeie invloedryke teoloë wat die uitverkiesingsleer, soos in die Dordtse Leerreëls uiteengesit, nie onderskryf nie. Oor die uitverkiesing, of die vraag of God net sommige mense uitkies om gered te word, is daar al hewig verskil.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk het by die laaste Algemene Kerkvergadering (2016) besluit om ’n studie te doen oor die uitverkiesingsleer. Die verslag sal tydens die AKV in 2019 ter tafel wees, wat saamval met die 400-jaar-eeufees van die Sinode van Dordrecht.

As ’n mens die geskiedenis van die drie formuliere van eenheid in Suid-Afrika nagaan, is dit opmerklik dat dit eers deur die loop van die 19de eeu prominensie verkry het. In Suid-Afrikaanse geskiedskrywing word dit dikwels onkrities aanvaar dat die drie formuliere van eenheid presies gegeld het soos dit deur die Sinode van Dordrecht geformuleer is. ’n Mens moet egter versigtig wees om die kerk en teologie tussen 1652 en 1824 (toe die Eerste Algemene Kerkvergadering in Kaapstad sitting geneem het) te tipeer as “tipies Dordts”.

Die predikante en sieketroosters wat in hierdie tyd in die Kaapse kerk diens gedoen het, het wel die drie formuliere van eenheid onderteken. Ander kerke, wat nie die drie formuliere van eenheid erken het nie (byvoorbeeld die Lutherse Kerk of die Morawiese Sendinggenootskap), het nie. Op die oog af lyk dit dus of die drie formuliere vanaf die koms van Jan van Riebeeck deurslaggewend en bepalend was vir die Kaapse kerk en gemeenskap. Die saak is egter nie so eenvoudig nie.

In die 17de en 18de eeu is die kerk en die gemeenskap tot in die fynste detail deur die owerheid beheer. Vir die Kaapse owerhede (soos ook die geval in Nederland tydens die Sinode van Dordt) was politieke stabiliteit en eenheid van uiterste belang. Daarom was die “formuliere van eenheid” ook ’n politieke instrument, waardeur kerklike, godsdienstige en maatskaplike eenheid bevorder is.

In die praktyk het baie min lidmate van die kerk (soos vandag ook?) deeglike kennis van die belydenisskrifte gehad. Inteendeel, die pioniersomstandighede waarin hulle geleef het, het veroorsaak dat tot 80% van die manlike bevolking (wat dikwels as veeboere rondgetrek het) nie formeel kon lees of skryf nie, nie gekatkiseer het nie en ook nie belydenis van geloof gedoen het nie.

Die onbelangrikheid van die belydenisskrifte in die vroeë Kaapse geskiedenis het ook te doen met die feit dat die predikante wat uit Nederland gekom het, sterk deur die Rasionalisme of Piëtisme beïnvloed is, wat beteken het dat hulle om uiteenlopende redes nie baie aandag aan die belydenisskrifte of uitverkiesingleer gegee het nie. In die Piëtisme was dit in elk geval die mens wat (vir God) moes kies. Daar bestaan heelwat kerklike dokumente uit die periode voor 1824 wat dit bevestig.

Daar was ook ’n ander rede waarom die Dordtse Leerreëls nie algemeen bekend was nie. Baie van die mense wat uit Europa na Suid-Afrika verhuis het, het uit ’n gebied gekom waar die Heidelbergse Kategismus baie invloedryk was. Die Heidelbergse Kategismus is as kategesehandboek gebruik, dit is deur die sieketroosters as leerboek vir die kinders gebruik, en predikante moes ook in die prediking daaraan aandag gee. Dit was dus meer bekend as die Nederlandse Geloofsbelydenis of die Dordtse Leerreëls. In hierdie gebied of streek aan die westekant van Duitsland, tussen Duitsland en Nederland tot aan die Noordsee, het die mense “Nederduitsch” gepraat. Daarom het hulle na hulself as Nederduitsers verwys en het die Eerste Algemene Kerkvergadering wat in 1824 in Kaapstad sitting geneem het, die naam van die Kaapse kerk in die kerklike reglemente ingeskryf as die Nederduitshe Hervormde Kerk in Zuidelike Afrika.

In ’n volgende aflewering gaan die verhaal verder en sal ons kyk hoe die belydenisskrifte in die Hervormde Kerk funksioneer.

(Dr Wim Dreyer is ’n dosent

aan UP se Fakulteit Teologie)