Die Hervormer

Die nuwe direkte vertaling van die Bybel

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel waaraan tans gewerk word, naamlik Die Bybel: ’n Direkte Vertaling, is deur die Bybelgenootskap onderneem nadat die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) so ’n versoek gerig het

Feitlik alle kerke en kerkgenootskappe wat Afrikaans in eredienste gebruik, het sittingsreg in hierdie advieskomitee. Met die aanvang van die huidige vertaalprojek het die Bybelgenootskap alle lede van die Kerklike Advieskomitee gevra om vertalers te nomineer. In die span van ongeveer 140 medewerkers is daar dus lidmate van ’n wye verskeidenheid van kerkgenootskappe.

Juis die spanwerk van verskillende kollegas vorm ’n uitstekende skans teen die indra van individuele oortuigings in die vertaling, want elkeen wat dit waag om ou tekste uit ’n ander kulturele omgewing te vertaal, sal weet dat interpretasie van daardie tekste by die voorbereiding van die vertaling onvermydelik is. Dit word vandag ook allerweë erken dat niemand sonder enige voorveronderstellings kan vertaal nie. Elke vertaler moet daarom ook bewus wees van die gevare verbonde aan eie voorveronderstellings en dogmatiese oortuigings, veral in die geval van religieuse tekste waar die dogmatiese oortuigings van die vertaler baie maklik die teks iets anders kan laat sê as wat werklik in die bronteks geskryf staan.

Die Werkboek van die Die Bybel: ’n Direkte Vertaling bevat daarom die volgende bepaling: Teologiese kommentare moet egter met omsigtigheid hanteer word aangesien die gevaar bestaan dat die teologiese oortuigings wat in die kommentaar neerslag gevind het, dominant kan word in die verstaan van die teks, terwyl dit die bepaalde tekseenheid in sy unieke wêreld en met sy unieke teksaanbod is wat bepalend behoort te wees. Die teks is belangriker as die dogmatiese besinning daaroor. Getrouheid aan die bronteks is van die uiterste belang en die eksegeet moet deeglik bewus wees van eie hermeneutiese voorveronderstellings.

Die vertaling was daarom van die begin af nooit net die werk van een persoon nie, maar volledig spanwerk sodat daar baie goeie kruiskontrole kan wees.

Die vertaling verloop in vyf fases. In die eerste fase werk ’n eksegeet (Ou- of Nuwe-Testamentikus) en ’n brontaalkenner (van Hebreeus of Grieks) saam en lewer dan ’n Afrikaanse vertaling en uitgebreide aantekeninge aan ’n persoon wat ’n intravertaler genoem word. Dit is ’n opgeleide Afrikaanse taalpraktisyn (vertaler) of ’n erkende digter of kreatiewe skrywer wat dan die teks in helder Afrikaans weergee. Die eksegeet waak egter steeds daaroor dat die vertaling aan die bronteks getrou bly.

In die tweede fase gaan die teks na Afrikaanse taal- en letterkundiges wat nagaan of die teks wel goed versorgde, verstaanbare Afrikaans is, waarna die eerste eksegeet en intravertaler weer seker maak dat die vertaling steeds getrou is aan die bronteks. Hierna word die teks deur die Redaksionele Komitee, wat bestaan uit brontaalkenners, eksegete, Afrikaanse taal- en letterkundiges en ’n vertaalkundige, nagegaan.

In die derde fase word die teks vir kommentaar en voorstelle na kerklike lesers gestuur wat deur die meewerkende kerke benoem is. Die vertaling word ook op die Bybelgenootskap se webblad en op ander maniere onder ander lesers se aandag gebring. Alle kommentaar word weer aan die Redaksionele Komitee voorgelê.

Hierna volg die belangrike vierde fase waarin die konsekwentheid van die vertaling in bepaalde versamelings boeke (soos die eerste vyf boeke van die Ou Testament, die Evangelies, die briewe van Paulus) gekontroleer word, asook die konsekwentheid van vertaling tussen die Ou en die Nuwe Testament.

In die vyfde fase word die teks deur die Begeleidingskomitee gefinaliseer en dan aan die Bybelgenootskap oorhandig.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die Bybelgenootskap alles in die werk stel om seker te maak dat Die Bybel: ’n Direkte Vertaling werklik ’n getroue weergawe is van wat in die brontekste staan.