Die Hervormer

Versameling historiese artikels aan Kerkargief geskenk

Die Kerkargief het onlangs ’n belangrike historiese skenking van prof Casper Labuschagne ontvang. Hy en sy vrou het in die loop van die 1960’s koerantartikels versamel wat Suid-Afrika se onstuimige geskiedenis uitbeeld. Drie volumes, meer as 400 bladsye, met honderde koerantartikels, is nou in die Kerkargief in die gebou van die Erfenisstigting op die terrein van die Voortrekkermonument vir navorsers beskikbaar.

Presies 50 jaar gelede, deur die loop van 1967, het dr Cas Labuschagne Suid-Afrika verlaat om sy loopbaan as dosent in Ou Testament aan die Universiteit van Groningen te begin. Dit was meer as ’n loopbaankeuse – dr Labuschagne was een van die Hervormde predikante wat in die 1960’s, as gevolg van hul weerstand teen apartheid, die Kerk verlaat het en elders ’n heenkome gevind het.

Vir baie jare is die mening gehuldig dat ál die predikante en lidmate van die Hervormde Kerk eenstemmig was in hul ondersteuning van die politieke beleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid). Die geskiedenis vertel ’n ander storie. Daar was verskeie predikante en lidmate wat gekant was teen apartheid. Talle het die Kerk verlaat omdat die Hervormde Kerk, soos ander Afrikaanse kerke, apartheid teologies begrond en regverdig het. In baie opsigte is dit ’n vergete en onbekende deel van die Kerk se geskiedenis.

Die bekendste van die Hervormde predikante en dosente wat die Kerk in die 1960’s verlaat het, was prof Albert Geyser, prof Adrianus van Selms en prof Casper Labuschagne. Prof Jan Stoop, prof BJ van der Merwe en prof Jimmie Loader (dosente by UNISA) was ook uitgesproke in hul kritiek teen apartheid, maar het tog op verskillende maniere by die Hervormde Kerk betrokke gebly. Daar was ook predikante wat bedank het, byvoorbeeld ds Kobie Coetzee. In Pretoria, Randburg en ander gebiede het talle lidmate die Kerk verlaat.

Dié geskiedenis kry die afgelope tyd toenemend aandag in gedenklesings, konferensies en publikasies. Op 3 November 2011 het prof Casper Labuschagne, emeritusprofessor van die Universiteit van Groningen, ’n gedenklesing in Leeuwarden (Nederland) aangebied wat oor Albert Geyser en Beyers Naude gehandel het. 

Behalwe dat prof Labuschagne eerstehands kennis van die gebeure het, het hy en sy vrou deur die loop van die 1960’s koerantartikels versamel wat hierdie geskiedenis uitbeeld. Hulle het dit georden, gedupliseer en gebind. Dit beslaan drie volumes, meer as 400 bladsye, met honderde koerantartikels. Na ’n besoek aan hulle, is hierdie bundels aan die Hervormde Kerk geskenk en in die Kerkargief geplaas. Dit is ’n belangrike bron van historiese inligting om die geskiedenis van die 1960’s te beskryf.

As ’n mens deur die koerantartikels lees, word jy getref deur die spanning en trauma van die tyd. Die gebeure by Sharpeville, die Cottesloeberaad en ander kerklike gebeure, die uittrede uit die Statebond onder leiding van dr HF Verwoerd, republiekwording, apartheidwetgewing, hofsake, die Rivoniaverhoor, die gewapende stryd van die ANC en talle ander gebeure wat die geskiedenis van Suid-Afrika onherroeplik verander het, word op ’n aktuele en aangrypende wyse in die koerantartikels verwoord. Die tragiese is die bitterheid waarmee die interne kerklike stryd gevoer is – iets wat (verbasend genoeg) in die Verenigde Nasies in New York ter sprake gekom het.

 

Die resente geskiedenis van die Hervormde Kerk, met die kerkskeuring wat sedert 2011 in die Hervormde Kerk plaasgevind het, is in ’n sekere sin die slothoofstuk van hierdie spanningsvolle geskiedenis. Daarom is die skenking van prof Labuschagne ’n belangrike bron van inligting vir navorsers wat hulle met die Kerk se geskiedenis besig hou.

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het sowat tien jaar gelede ’n brief aan prof Labuschagne geskryf waarin die Kerk hom om verskoning gevra het vir optrede wat hom en sy gesin benadeel het. Die politieke stryd in Suid-Afrika het onbeskryflike skade en pyn meegebring. Die Kerk en lidmate van die Kerk het dit nie vrygespring nie. Hopelik het ons intussen geleer dat daar ’n radikale verskil tussen kerk en politiek is, maar dat die evangelie van uiterste belang is vir die politiek.

(Dr Dreyer is ’n dosent aan UP se Fakulteit Teologie)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=UjdLlTMre6FYs1k0z%2Btz8FIquTqFiWoA6nr5XwuAOSlngpsrlXbXgi44E%2Fo60sVjcbvnUR2UrXg9%2Bt3tYTgplg%3D%3D&prvtof=Ae9aaR3yCxJ4GfYg8p327nrkPFSz64CFghMlEWjxqr4%3D&poru=rPjlsxCZNFXJq9UfIc5XlsePQsUmcQoXqzVb6pKdamwuvzjC7TNV6QsxosJSLZyR776u7%2FRILc%2FTcf4oHK%2F3a5or4aFOVxyPgZrV5%2FLKeztmsHxIjzPrfU9yWRIkadLNFWRsZywv1I%2BgNXQM5SfUSxibvqST%2BbEoVmwHJMeG4Qz4t10e5OL%2BTxn6uTuEd7bK&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fons-praat-teologie%2F462-versameling-historiese-artikels-aan-kerkargief-geskenk">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>