Die Hervormer

Lewende God, vernuwe en transformeer ons

Met die groot byeenkoms van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Leipzig vanjaar is nie net vergadering gehou nie. Daar is ook kerk gehou, met eredienste in Leipzig, Wittenberg en Berlyn.

Die openingserediens was op 30 Junie in die Nikolai-kerk, een van die twee beroemde ou kerke in Leipzig. Ek het altyd gedink die ander een, die Thomas-kerk, was Bach se kerk, maar hoor toe hy moes albei bedien en op ’n Sondag vinnig van die een kerk na die ander beweeg. Daar in Leipzig is sy kantates en passies die eerste keer gehoor.

 

Die Nikolai-kerk is weer bekend vir die rol wat dit gespeel het in die 1989-revolusie in Oos-Duitsland toe die Berlynse muur geval en Oos- en Wes-Duitsland verenig is. Die gebou is van buite fors en van binne sag. ’n Suid-Afrikaner wat in Berlyn studeer, noem dit haar gunstelingkerk, want dit het nie soveel goud nie. Nie die oordaad aan goud en magsimbole soos baie ander kerke nie, net liggroen blare teen roomkleur mure, met hier en daar goud vir definisie – ’n rustige, vredevolle atmosfeer.

Die Federale President, Frank-Walter Steinmeier, heet die Reformatoriese kerke van die wêreld in “die geboorteland van die Reformasie” welkom. Hy het vertel hoe die Nikolai-kerk in die besonder in 1989 ’n veilige hawe was waar konstant gebid is vir vrede te midde van die politieke onrus in die strate van die stad en elders in Oos-Duitsland. Die kerk was ’n plek van vryheid waar mense weer moed kon skep vir die stryd teen onderdrukking. Vryheid is die kosbaarste erfenis van die Reformasie: godsdiensvryheid, vryheid van gewete, politieke vryheid, vryheid van sensuur en onderdrukking.

In ons tyd waar godsdiens misbruik word om isolasie en afstand te skep en geweld aan te blaas, moet Reformatoriese kerke meer as ooit ’n voorbeeld van versoening wees, ’n instrument van vrede. Die lied wat in die diens gesing is, bid so daarvoor:

Wees ons lig in die duisternis van hierdie eeu.

Wees die pad wat ons kan volg met hoop en geloof.

Wees die deur na ’n genadiger, beter wêreld.

Wees ’n tafel met plek vir jonk en oud.

Wees die brood en wyn vir ’n fees, oop vir almal.

Lei ons na geregtigheid en vrede.

In sy rede verduidelik die president, Jerry Pillay, die tema van die vergadering, ook ’n gebed: Lewende God, vernuwe en transformeer ons. Psalm 8 besing die Skeppergod onder wie se beheer alles is, hoewel dit nie altyd so lyk nie, want die wêreld is vol pyn, lyding, onrus en konflik. Daarom bid ons om die vernuwing en transformasie van sowel kerk as wêreld.

Vernuwing is die hart van die Reformasie. Die Reformatore was al begaan oor korrupsie, immoraliteit en magsug, wat die lewe, werk en getuienis van die kerk ondermyn het. Vandag is daar steeds behoefte aan vernuwing en transformasie in kerk en samelewing.

Met Lewende God erken ons God se teenwoordigheid en krag in die wêreld. Vernuwe impliseer dat iets verloor is wat herwin of herstel moet word. Dit is die kerk se roeping om die goeie nuus van redding en lewe in Christus, wat verloor, verwaarloos en vergeet word, te bly verkondig. Transformeer is om radikaal te verander van binne uit. Die kerk weerspieël die wêreld eerder as om te wys hoe ’n alternatiewe wêreld van geregtigheid, vrede en volheid van lewe vir almal lyk.

Die vergadering is verby, almal is terug in hul eie land, maar ons hou aan bid: Lewende God, vernuwe en transformeer ons. Help die kerke van die Hervorming om altyd hervormend te bly, om te word wat ons moet wees.

(Prof Dreyer is hoogleraar aan UP se Fakulteit Teologie)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=m9j1LM5dtSdBYDPsToEZiwX0dFlfeVh4hZxQ708O5Z57mgpEo0qdSlDDHli%2BGT1Gp482BGMPBAwyGRx2PG4s0A%3D%3D&prvtof=QV9Y%2Feph5seUf5NQNJ1Yb6Tj74GC0AwKzAbhsA0wNDU%3D&poru=jlF46CQ4v059Ey6pEzdVQsvBM3JYfPzsB0ZzVwr1UL5C9u7AlkiHEOKG01K4LSIPHVEfZ26hgHrtj5bIfZQjXi8m58dCnKJC22rlKuqDlfiUckh8%2FWGYrebMjE6pbtnUWhvQ4IbXF2Y3MeuMMHafvKNXpK0DozPONOZ1h6slV9U%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fons-praat-teologie%2F423-lewende-god-vernuwe-en-transformeer-ons">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>