Die Hervormer

Zambië – ’n reisverhaal (Deel 2)

Dit was my voorreg om van 21 April tot 1 Mei 2017 ’n besoek te bring aan Gemeente Nkana in die Koperbeltstreek van Zambië. In verlede maand se uitgawe van Die Hervormer het ek begin vertel van my wedervaringe daar. Hier is die res van die verhaal.

Na ’n heerlike kuier onder die koeltebome op Pieter en Elsie van Rensburg se plaas in Mpongwe, pak ek die pad terug na Kitwe aan. Die manne wat weet, beduie vir my dat ek meer as genoeg dagligtyd gaan hê om in Kitwe aan te kom as ek teen 16:30 vertrek. In Zambië ry jy nie na sononder nie, word ek ernstig vermaan. Orals kry ’n mens voetgangers langs die pad, veral in die baie klein dorpies waardeur jy elke paar kilometer ry. Sondag is kuierdag, lei ek af.

Die kort-kort 60 km/uur ry in die dorpies maak dat ek stadiger vorder as wat ek verwag het. Dis al sterk skemer toe ek in Luanshya, ’n redelike groot dorp, aankom. Prof Bieks Beukes se handgeskrewe kaart beduie dat ek reguit aan deur die dorp moet ry, maar my GPS-tannie is baie beslis dat ek regs moet draai en deur die dorp moet ry. Ek besluit om die tannie se raad te volg. Miskien moes die naam van die straat waarin ek aangeraai word om in te draai, Cha Cha Cha Road, my laat besef het dat dit dalk nie so ’n blink plan is nie. Maar ek het gedraai, en die tannie vat my op ’n besigtigingstoer van Luanshya. Dis goed donker toe ek uiteindelik deur die dorp is en weer ’n stuk oop pad bereik. Maar die pad is nou en die voetgangers nog net so baie. Ek neurie my eie weergawe van Psalm 146, Moet op GPS-tannies nie vertrou nie, by wie niemand spoor kan vind...

Dis regtig onthutsend as jy besef dat nie net jy nie, maar ook niemand anders wat jou dalk sal kan kom soek enige idee het waar jy jou bevind nie. Ek ry maar voort, albei hande styf vasgeklem aan die stuurwiel met my neus omtrent teen die voorruit soos ek verder die donkerte probeer intuur as wat die motor se ligte toelaat terwyl ek die GPS-tannie blindelings vertrou. Sy laat my toe nie in die steek nie. Uiteindelik, agt uur die aand, draai ek by die pastorie in. As ek geweet het waar die gemeente se Nagmaalwyn gebêre word, sou dit heel moontlik ’n groot knou gekry het...

As die paaie in Zambië iets doen, is dit om jou nederig te hou. Sien, toe ek gedink het dit was senutergend om van Mpongwe na Kitwe te ry, het ek nog nie geweet van die pad Solwezi toe nie. Die eerste leidraad was toe oom Gawie Nel vir my beduie dat ek nie self gaan bestuur nie – hy voorsien vir my ’n bestuurder, ene Edward, ’n gebore Zambiër. Edward ken die pad, en Edward ken van bestuur op Zambië se paaie.

Ek vermoed Edward is bloedfamilie van Lewis Hamilton, Formule Een-renjaer, en Simpiwe Tshabalala, Soweto-minibuseienaar. Edward ken van ry: linkerbaan, regterbaan, middelmannetjie – dis als sy speelveld en dit terwyl die Prado kort-kort dreig om deur die klankgrens te bars. Edward stel die lugversorger al kouer, maar sy passasier sweet net meer en meer.

En die pad! Na Chingola word so te sê die hele pas herbou, en die enigste keer dat jy teerpad ry, is as jy oor die teerpad ry om by die verlegging aan die ander kant uit te kom.

Dan is daar die vragmotors: In my lewe het ek nog nooit soveel vragmotors op een stuk pad gesien nie. Solwezi se bestaan draai rondom die groot kopermyn daar. Die myn produseer sowat 800 ton koper per dag, hoor ek later. Alles wat nodig is om die myn, al die verwante industrieë en almal wat daar werk aan die gang te hou, word per vragmotor ingery. Al die produksie van die myn word per vragmotor uitgery. Dit is nie ongewoon om ’n konvooi van 12 tot 15 vragmotors te moet verbysteek nie – iets wat Edward maklik regkry met net een hand op die stuurwiel.

Ons stop halfpad om die broodjies te eet wat ek vir ons gemaak het. Ek het my gunstelingbroodjies, eierbroodjies, gemaak. Terwyl ons eet, wonder ek of ek nie die noodlot dalk te veel getart het deur begrafnisbroodjies te maak nie...

Ons lê die bietjie meer as 200 km na Solwezi in vier ure af. As ek self bestuur het, sou dit my seker vier dae gevat het. Ek gaan tuis by Hennie en Santa Botha, ou Hervormers uit Messina se wêreld. Ons gesels land en sand oor die wel en die wee van die Kerk. Ons beleef ’n sonsondergang soos net Afrika kan bied. Die erediens is aan huis van Gerbrand van Schalkwyk. Daar is 16 mense teenwoordig. Na die diens kuier almal om ’n koppie tee en smul aan die allerlekkerste verversings.

Die volgende oggend vroeg is dit weer ek, Edward, die Prado en die pad. Teen dié tyd het ek egter soveel vertroue in Edward se bestuursvernuf dat ek dit regkry om, al kopskuddend, ’n uiltjie te knip op pad terug.

Die laaste twee plekke waar ek die Sondag erediens hou voordat ek weer die Maandag terugvlieg, is in Ndola en Kitwe. Ek en oom Gawie ry vroeg-vroeg Ndola toe. Dis omtrent ’n uur se ry op ’n goeie dubbelbaan-teerpad. Die erediens is by Johan en Sylvia en daar is ses mense teenwoordig. Omdat dit ’n langnaweek in Zambië is, is baie mense “uit”. Almal bied verskoning aan vir die min erediensgangers, maar vir my bly dit ’n groot voorreg om ’n diens te kan hou vir mense wat opreg waardeer dat hulle daar kan wees.

Die erediens in Kitwe is onder ’n afdak by die pastorie. Die getroue Andrea het als reggeskuif terwyl ons in Ndola was. Daar is 11 mense teenwoordig. Ek merk op dat dit die eerste keer is dat ek in ’n erediens is waar ek die tweede oudste persoon is. Net oom Gawie is ouer as ek. Die res van die mense is in hulle 20’s en 30’s. Soos in Ndola, word verskoning aangebied vir almal wat “uit” is vir die langnaweek.

Maandag vlieg SA Express my weer terug Suid-Afrika toe. Dit was ’n voorreg om in Zambië te kon werk. Ek het nuwe respek vir mense soos ds Piet Rautenbach en sy voorgangers wat week in en week uit die lang paaie in die Koperbelt moes ry, ook vir prof Bieks Beukes wat die taak nou een keer ’n maand op hom neem. Dis moeisame werk, maar tog uiters bevredigend.

(Ds Fourie is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Kempten)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=Y%2BsPoPxYxm7tquh0yZ2R3Sp%2FIjedAJZXMGYCFiZ5DqxfMLPGDdF5AqTi1C8As5IrSapQOKf5kCSIgHCCWYe%2Bpg%3D%3D&prvtof=fWecMxop31yFsVg%2Bx0c%2Btp0PLfRA6ouAwlO5PvRFrM8%3D&poru=qzH8cGpCPSo%2BgK8K8XIDSotuouOHFYlPbm136rhOW9k9SPLSWpCjmtrL6kO%2FEOQ0EoTsyVyGMPPt0Av0hLN8qrhR04tIbj2rPlg3MGbj%2FjZ5NnaIkXVWxlBcyN67rh%2FScb9m06C%2FJrfR67Ub%2BDeuuqOX4Na1klp4BdHgiS2dWMo%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fons-praat-teologie%2F412-zambie-n-reisverhaal-deel-2">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>