Die Hervormer

Zambië – ’n reisverhaal

Vrydag 21 April 2017 is ek bespreek op vlug SA8152 van Airlink-redery van OR Tambo-lughawe na Simon Mwansa Kapwepwe, die Iughawe in Ndola, Zambië.

Alhoewel ons eers om 08:30 vertrek, is ek al 05:30 op die lughawe, want ek is gewaarsku dat daar lang toue by die immigrasiebeamptes se toonbanke kan wees. Toe nie. Ek stap reguit tot die voorpunt en kon kies uit vier beamptes om my paspoort te stempel. Daar gaan nie baie aan op OR Tambo sesuur in die oggend nie...

Ons is ’n klein groepie in die vertreksaal en pas almal op een bus. Ek dag ons gaan padlangs Zambië toe, so ver het die bus gery om by ons vliegtuig uit te kom. Ons vliegtuig is doer om die hoek van die terminaalgebou geparkeer en die twintig stuks passasiers word vriendelik verwelkom. Ek is heel opgewonde, want na tien jaar sedert ek laas daar was, is ek op pad om die evangelie te gaan bedien in die Koperbeltstreek in die noorde van Zambië.

Na ’n vlug van twee en ’n half uur, land ons veilig op Simon Mwansa Kapwepwe. Daar staan net Welcome to Ndola op die lughawegebou. Ek dink nie die muur van die gebou is lank genoeg om die naam van die lughawe te akkommodeer nie. Die gebou het niks verander in tien jaar nie. Die bagasiehanteringstelsel is nog ewe indrukwekkend – ’n gat in die muur waardeur die tasse aangegee word.

Buite die lughawe wag oom Gawie Nel my in. Hy is die patriarg van die gemeente. Ons ry met die gemeente se Toyota Prado na die pastorie in Kitwe, omtrent ’n uur se ry van Ndola af. Gawie besorg my veilig by die pastorie. Die pastorie is ’n netjiese huis wat goed in stand gehou word. Estha hou die huis aan die gang en Andrea die tuin. Meer vriendelike en hulpvaardige mense sal jy sukkel om te kry. Een van die lidmate, Rachelle, is daarvoor verantwoordelik om die kosvoorrade vir die besoekende predikante aan te koop. Ek onderneem om self die nodigste te gaan aankoop. Gewapen met ’n klomp kwachas, gaan ek na die inkopiesentrum wat intussen op Kitwe verrys het. Behalwe vir die feit dat al die pryse in kwachas aangedui word, kon dit netsowel enige inkopiesentrum in Suid-Afrika gewees het. Ek maak ’n draai by Pick n Pay vir kruideniersware en by MTN om ’n databundel te koop. Al is die wisselkoers R1,40 vir ’n kwacha, is die data steeds aansienlik goedkoper as in Suid-Afrika.

Saterdag pak ek die pad na Mkushi met selfvertroue aan, want prof Bieks het vir my ’n mooi kaart geteken en uitgebreide instruksies gegee. Ek ry maar versigtig, want ek is goed gewaarsku om nie die spoedgrens te oorskry nie. Ek gaan deur ’n hele paar polisieblokkades. ’n Blokkade werk so: Daar is ’n 44-gelling-drom met ’n handgeskrewe kennisgewing waarop Police staan. So ’n ent voor die blokkade ry almal stadiger en sit hul noodflikkerligte aan. Jy ry tot by die geregsdienaar in sy netjiese uniform, wat jou bekyk en dan, woordeloos en uitdrukkingloos, vir jou met ’n waai van die hand wys dat jy verder kan ry.

Die pad is oor die algemeen baie goed, behalwe in en om die stede, waar dit redelik uitgetrap en vol slaggate is, iets wat ’n mens verstaan as jy sien hoeveel vragmotors daar op die pad is. Die meeste van hulle vervoer so 30 ton koperplate en is op pad na Suid-Afrika toe. Die waarde van die vrag op elke vragmotor is so by die twee miljoen rand, vind ek later uit.

Ek ry weer deur Ndola en draai weg by ’n dorpie met die mooi naam Kapiri Mposhe. Hiervandaan is dit nog so 60 km voor ek van die teerpad afdraai na Mike en Magda van Zyl. Die grondpad word al hoe nouer hoe dieper ek die bos inry, maar die selfoonontvangs bly merkwaardig goed. Magda bel kort-kort om te hoor of ek nog op koers is. Net voor donker kom ek uit by hul huisie in die bos, soos Magda hul netjies ingerigte blyplek noem. Ons kyk eers gou hoe die Bulle ’n slag een van hul wedstryde wen, en sit dan aan vir ’n heerlike ete. Mike en Magda is dierbare mense met ’n interessante lewensverhaal. Hulle het eers in Zimbabwe geboer maar toe verskuif na Zambië toe. Mike het nou afgetree, en sy skoonseun behartig die boerdery.

Mike vlieg sy eie vliegtuig en maak verskoning dat hy nie Sondag by die erediens gaan wees nie aangesien hy ’n paar Chinese sakemanne moet rondvlieg. Ons kuier tot laataand, en vroegoggend ry ek en Magda sodat ek erediens kan hou aan huis van Etienne en Charlene Smith. Mkushi is ’n boerderygemeenskap en daar is 11 mense by die erediens. Die meeste van hulle ry ’n halfuur om by die erediens uit te kom. In Zambië is die dominee nie net die prediker nie. Hy is die orrelis wat die begeleiding van die rekenaar af speel en ook sommer die diaken en kassier wat die deurkollekte en offergawebydraes in ontvangs neem. Ons teken aan dat ek die ekwivalent van

R6 300 in ontvangs neem. Ek kom agter die mense in die Koperbelt het ruim harte en oop beursies. Die gemeente beplan ’n basaar. Mkushi onderneem om die vleistafel te hanteer. ’n Hele paar beeste, varke en skape kom op die beloftelys.

Nadat ons saam geëet het, vertrek ek Mpongwe toe. Dis so twee en ’n half uur se ry van Mkushi af. Mpongwe is ook ’n boerderygemeenskap en die erediens is aan huis van Pieter en Elsie van Rensburg. Ek ken hulle van die vorige keer toe ek in Zambië was. Hulle is nog net so hartlik en gaaf. ’n Spinnekop het Pieter gebyt en hy het baie pyn. Hy was by ’n Indiese dokter wat die gat wat in sy been ingeval het, mooi skoongemaak het en toe volgeprop het met watte wat deurdrenk is met antibiotika. Die behandeling klink vir my effe onortodoks, maar dis die beste wat beskikbaar is. Daar is 16 mense by die erediens, en na die diens kuier ons alte lekker onder die groot skadubome in die Van Rensburgs se tuin. Mpongwe se mense sien kans vir die boereworsrolle en skyfskiet by die basaar en belowe ook heelwat slaggoed vir die vleistafel.

Hier teen vyfuur begin ek terugry na Kitwe toe, maar dis ’n storie vir ’n volgende keer.

(Ds Fourie is een van Die Hervormer se twee subredakteurs

en leraar in Gemeente Kempten)

 


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=6qtYyXeWoH2TMOk8zp2502gsLSSqnLkRTGhu4Q1YPR5zSaSJEtTWrcrteRO8pQV44bpoplnU58mb8GAu7hRnEQ%3D%3D&prvtof=8ixlaQWjzKZzH8Gg%2B8vFYUv883we7AVcUoPitqGz1sw%3D&poru=NK3zj1QD7nddvjTlpztCiYcKp9ePv8GoyJNdzZiEzXB3BBcNa%2FP1SACZP6zIxD1d%2FywYlrDgNZJY2zRyciHXR%2FfE12ZKNSYnY85lUdALL3pxmRj2xmB9fva18rh7Lb097o%2BnR%2Fy7Osr96CHfF5jrS3yFuXYKXPchoBwL4qvEZls%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fons-praat-teologie%2F391-zambie-n-reisverhaal">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>