Die Hervormer

Wetenskap – 'n etiese uitdaging

Gelowiges is ernstig oor etiek. So hoort dit ook, want Bybelse waardes is vir ons die rigsnoer en maatstaf van verantwoordelike gedrag. Met verantwoordelik word bedoel dat gedrag getoets word aan die vraag na wat reg of verkeerd is, in die algemeen én in spesifieke omstan­dig­hede.

Die Galileo-aangeleentheid
Die vraag oor die maatstaf van reg en verkeerd word gedemonstreer in twee groot etiese water­skeidingsmomente in die geskiedenis van die kerk, naamlik die Kruistogte en die Inkwisisie. Dit wat onder die vaandel van dié twee historiese bewegings plaasgevind het, was – ten spyte van goeie bedoelings – so wars van Bybelse en algemeen Christelike waardes dat dit ’n omwenteling gebring het in die selfverstaan en taakvervulling van die kerk.

Die interaksie tussen Galileo en die Rooms-Katolieke Kerk ten tyde van die Inkwisisie dien as ’n voor­beeld. In opvolging van Copernicus se teorie in ongeveer 1510 dat dit nie die aarde is wat die middelpunt van die sonnestelsel uitmaak nie, maar die son, het Galileo dit bevestig met logiese argumente en gevolgtrekkings. In 1610 ontwerp hy die teleskoop, waarmee waarnemings gedoen kon word wat voorheen onmoontlik was. Vir die eerste keer kon die berge op die maan en die planete van Jupiter gesien word. Die kerkleiers wat die Inkwisisie gedryf het, het hom egter gedwing om sy stellings oor ’n heliosentriese sonnestelsel terug te trek omdat dit in botsings was met uitsprake in die Bybel soos Psalm 96: 10 en Psalm 104: 5. Sy boeke is op die lys van verbode werke geplaas, en die Kerk het hom in 1633 onder huisarres geplaas. Volgens oorlewering het Galileo later die volgende aantekening gemaak in sy Dialoog aangaande die twee vernaamste wêreldsisteme:

Pas op, teoloë, want in julle begeerte om van proposisies oor die vaste posisie van die son en die aarde geloofsake te maak, loop julle gevaar om uiteindelik almal tot ketters te moet verklaar wat sê dat die aarde stilstaan en die son beweeg – uiteindelik, sê ek, wanneer dit fisies of logies bewys kan word dat die aarde beweeg en die son stilstaan.

Eers 360 jaar later, in 1992, spreek pous Johannes Paulus ’n apologie uit waarin die Inkwisisie se oordeel oor Galileo tersyde gestel en sy naam gesuiwer is.

Fyn waarneming, logiese argumentvoering en tegnologie kom bymekaar en lei tot nuwe ontdekkings, bewyse en bevindings. Dit is die gang van die wetenskap. Dikwels veroorsaak dit egter ’n etiese krisis, omdat gangbare opvattings bevraagteken en gevestigde belange aangetas word. Die geskiedenis maan ons om versigtig te wees in ons etiese beredenering. Prof Ben Engelbrecht het in hierdie verband opgemerk: Die belangrikste taak van die Kerk by etiese uitsprake is: Maak seker van die feite!

Wat is etiek?
Etiek is die studieveld wat waardevorming en -toepassing by mense bestudeer. Dit is ’n onderafdeling van filosofie, en staan ook bekend as morele filosofie. Daar word drie (soms 4) breë kategorieë van etiek onderskei:
- Deug-etiek – berus op die gedagte dat mense ’n aanvoeling het van wat reg en verkeerd is, en dat hulle in ooreenstemming daarmee moet optree.
- Plig-etiek – berus op die aanvaarding dat mense bepaalde verpligtinge het waarvolgens hulle moet handel, naamlik getrouheid, vergoeding van skade, dankbaarheid, nie-benadeling, regverdigheid, hulpverlening en selfverbetering.
- Gevolg-etiek – doen afstand van motief en konsentreer op handeling. Goeie bedoelings bepaal nie deug nie, maar wel die vraag of die uitkoms goed is.
- Relativistiese etiek – ’n vierde onderskeid het betrekking op die beginsel van wedersydse voordeel as bepaler van gedrag. Hieronder val die sogenaamde Goue Reël wat ons ook in die Bybel kry, naamlik: Doen aan ’n ander soos jy aan jouself gedoen wil hê, of die negatiewe formulering daarvan: Moenie aan ’n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.

Die kategorieë is belangrik, want dit help dat mense appels met appels vergelyk. Dikwels gebeur dit dat gespreksgenote uit verskillende vertrekpunte praat en daarom nie tot ’n vergelyk kan kom oor wat as ’n deug of ondeug, goed of sleg, aanvaarbaar of onaanvaarbaar beskou moet word nie. Godsdienstige en kulturele verskille in uitgangspunt kan veral probleme veroorsaak.

Etiek en die wetenskap
Soos in die geval van Galileo, bring die menigvuldige velde van wetenskaplike navorsing dikwels kwessies na vore wat etiese beslissings verg. Dit geld nie net die resultate van navorsing nie, maar ook die metodes. Die toenemende besef dat ons planeet se bronne beperk en eindig is, bring volhoubaarheid as etiese kwessie sterk na vore. Ekologiese sensitiwiteit, oftewel ’n “groen” ingesteldheid, word al meer die norm van vooruitgang. Dit stel ernstige vrae aan alle mense en konfronteer ons met ’n verantwoordelikheid om ’n toekoms te verseker vir ons nageslagte deur nou die regte keuses te maak. Een so ’n plaaslike aangeleentheid is byvoorbeeld die kwessie van horisontale breking (fracking) in die Karoo met die oog op die ontginning van gas of olie, wat die potensiaal het om grondwater op ’n ongekende skaal te besoedel.

Stamselnavorsing
Die mediese wetenskap word allerweë beskou as ’n altruïstiese veld, wat tot voordeel van die mensdom beoefen word. Enigiets wat gesondheid kan bevorder, kry maklik die ja-stem. Daar is egter ook ’n koste aan verbonde, en die etiese vraag is of die koste nie soms groter is as die voordeel nie. Dit is wonderlik dat dokters en medisyne soveel lewens red. Die vraag is: In hoeverre dra dit by tot oorbevolking, die vernietiging van hulpbronne, toename in rampe en die einde van lewe op ’n reuseskaal?

Die ontdekking van stamselle is een van die mees opwindende vondste in terme van potensiaal. Die menslike liggaam bevat talle organe met verskillende funksies wat in simbiose saamwerk. Elk van hierdie organe bestaan uit selle. Dit word genoem geselekteerde selle wat die funksie uitoefen van die betrokke orgaan, byvoorbeeld die lewer, niere of vel.

’n Stamsel is ’n ongeselekteerde sel, dit wil sê, ’n sel wat nog nie aan ’n orgaan toegewys is nie. As sodanig is dit suiwer potensiaal. Dit moet nog geprogrammeer word. Mediese navorsers het bevind dat hierdie selle aangewend kan word om herstel teweeg te bring by organe wat beskadig is, byvoorbeeld die oë of die hart. Enorme werk word tans gedoen om vas te stel hoe stamselle gebruik kan word by siektes soos kanker, Parkinson se siekte en Alzheimersiekte.

Die etiese probleem tot onlangs was dat stamselle geoes moes word van fetusse. Daar kom die meeste ongeselekteerde selle voor. Medies is dit moontlik om fetusse kunsmatig te skep (in vitro), en dan die stamselle te oes. In die proses word die fetus egter vernietig. Dit bring die etiese vraag na vore van wanneer lewe ontstaan. Is die fetus nie alreeds lewe nie? Mag lewe vernietig word, al is dit vir ’n goeie saak soos gesondheid? Dinge moet teen mekaar opgeweeg word, en dit is dikwels baie moeilik om ’n gebalanseerde beslissing te maak.

Mediese wetenskaplikes het pas bekend gemaak dat hulle daarin geslaag het om stamselle by volwassenes te oes. Dit maak dit onnodig om die fetus-pad te loop. Ons kan dus sê dat die etiese besware teen die skep en vernietiging van lewe bygedra het daartoe dat die wetenskap ’n ander moontlikheid ondersoek en gevind het. So lewer die etiese gesprek ’n bydrae tot die behoud van menslikheid en standaarde van gedrag.

Gevolgtrekking
Elke gelowige moet op die hoogte wees van en betrokke by etiese aangeleenthede. Die waardes wat dien as ons maatstaf vind ons in die Bybel. Hulle staan nie pasklaar daar nie. Daar is talle nuwe situasies en verskynsels wat die Bybel nie geken het nie. Maar die beginsels is daar, en ons moet dit handhaaf.