Die Hervormer

Die Hervormde Kerk en ekumeniese organisasies

Die 500-jarige herdenking van die Kerkhervorming dwing ons om na te dink oor ons belydenis dat ons glo aan ’n heilige algemene Christelike kerk. Hoewel die Kerkhervorming uiteindelik gelei het tot die ontstaan van verskillende kerke (denominasies) uit die een Westerse (Roomse) kerk, was dit nooit die Kerkhervormers se bedoeling nie. Die Reformatoriese belydenisskrifte beklemtoon daarom, net soos die ekumeniese simbole van die vierde en vyfde eeu na Christus, steeds die belang van die eenheid van die kerk.

Die ekumeniese beweging het aan die begin van die 20ste eeu ontstaan teen die agtergrond van sendingkongresse wat die verskillende kerkgenootskappe se pogings om die evangelie van Jesus Christus regoor die wêreld uit te dra, wou koördineer. Die globalisering waartoe die twee wêreldoorloë ironies genoeg bygedra het, was ’n verdere stimulus wat in 1948 gelei het tot die ontstaan van die Wêreldraad van Kerke (WRK).

NHKA stigterslid van die WRK

Die Hervormde Kerk was ’n stigterslid van die WRK en het aanvanklik aktief en entoesiasties aan die WRK se werksaamhede deelgeneem. Nadat die Nasionale Party egter aan bewind gekom het, bruin landsburgers van die kieserslys verwyder het en begin het om rasgebaseerde wetgewing deur te voer, het die WRK reeds by hul Algemene Vergadering in Evanston (1954) kritiek uitgespreek teen Suid-Afrika se rassebeleid. In die oploop tot die referendum oor republiekwording vind die Sharpeville-skietery op 21 Maart 1960 plaas. Dit gee aanleiding tot die Cottesloe-beraad waar die agt Suid-Afrikaanse lidkerke van die WRK met mekaar sou praat oor die situasie in Suid-Afrika, die kerk se getuienis oor geregtigheid, en oor sending en samewerking.

Die Cottesloe-beraad se kritiek op die regering se rassebeleid lei uiteindelik tot ’n breuk met die Afrikaanse kerke. Die Hervormde Kerk se afgevaardigdes reik ’n verklaring uit waarin hulle stel dat hulle die beraad se gesamentlike verklaring nie kan onderskryf nie, en afsonderlike ontwikkeling verdedig as die enigste regverdige oplossing vir die land se rasseprobleme. Hulle verwerp integrasie in enige vorm as oplossing van die probleem. Die Cottesloe-beraad, wat gestreef het na kerklike eenheid oor maatskaplike aangeleenthede in die land, was uiteindelik die waterskeiding tussen die Afrikaanse kerke (die NG Kerk en die Hervormde Kerk) en die ander kerke, en het gelei tot die NG Kerk en Hervormde Kerk se onttrekking aan die WRK.

NG Kerk hertoegelaat

Die NG Kerk het na ’n halfeeu van isolasie in 2012 weer aansoek gedoen om lidmaatskap van die WRK. Na heelwat korrespondensie, besoeke, en konsultasie met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die plaaslike lidkerke van die WRK, is die NG Kerk in 2016 by die WRK se vergadering in Trondheim (Noorweë) hertoegelaat as lid van die WRK.

Op Dinsdagaand 4 April vanjaar het verteenwoordigers van die Kommissie vir die eerste keer weer informeel gesprek gevoer met ’n verteenwoordiger van die WRK, dr Daniel Buda, die WRK se programdirekteur vir Geloof en Orde en Lidmaatskapaangeleenthede. Dr Buda, wat ook professor in kerkgeskiedenis is aan die Lucian Blaga-universiteit in Roemenië, was op besoek aan Suid-Afrika met die oog op die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria se eeufeesvieringe, en het deur bemiddeling van prof Andries van Aarde die geleentheid gebruik om met die Hervormde Kerk kontak te maak.

Toekomstige hertoetrede van die NHKA?

Tydens ’n ete by Gemeente Philadelphia is gemaklik saam gekuier en gesels oor die uitdagings vir die kerk van Christus in die wêreld, en ook in Suid-Afrika. Dr André Ungerer, voorsitter van die Kommissie van die AKV, het kortliks die historiese breuk tussen ons Kerk en die WRK, en ook later tussen die Hervormde Kerk en die World Alliance of Reformed Churches (WARC), geskets. Hy het vertel dat die Hervormde Kerk in 2014 weer lid geword het van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) wat in die plek van WARC gekom het, en dat ’n afvaardiging van die Kerk eersdaags in Leipzig, Duitsland, sal deelneem aan die WGGK se Algemene Vergadering. Hoewel die Hervormde Kerk tans net waarnemerstatus het by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), maak die huidige regering se minagting van die Grondwet dit noodsaaklik dat daar ’n verenigde getuienis van al die kerke sal uitgaan. Dit is egter toekomstige Algemene Kerkvergaderings wat oor die Kerk se ekumeniese betrokkenheid in die toekoms moet besluit.

Dr Buda het op sy beurt sy ervaring met verskillende kerke oor die wêreld gedeel. Hy het benadruk dat alle lidkerke van die WRK die drie-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees) moet bely, en dat alle lidkerke Jesus as God en Verlosser moet bely. Dit beteken nie dat al die lidkerke van die WRK eenvormig is nie, maar dit beteken wel dat geen lidkerk absolute vryheid het nie. Die WRK bied kerke die geleentheid om met fyn aandag te luister na die getuienis van ander Christelike kerke. So beskerm die interaksie met ander gelowiges ’n mens juis van dwaalleer, van die gevaar dat ’n mens die Woord en die wêreld net vanuit jou eie hoekie interpreteer terwyl jy glo dat jy alleen die volle waarheid in pag het.

Dr Buda het verder verduidelik hoe die NG Kerk se hertoelating tot die WRK verloop het. In baie opsigte het die NG Kerk se aansoek om hertoelating nuwe vrae oor die toepaslike proses gestel. Die WRK het beslis dat dit nie soos ’n nuwe aansoek om lidmaatskap hanteer sou word nie, maar eerder as hertoelating van ’n stigterslid van die organisasie. Nou is die pad egter gebaan sodat dit baie duideliker is watter pad die Hervormde Kerk sou moes loop indien dié Kerk ook sou aansoek doen om hertoelating.

Die Kerk moet byvoorbeeld lid wees van die wêreldliggaam wat sy kerkgroepering verteenwoordig (in ons geval die WGGK). Verder moet die Kerk lid wees van die plaaslike ekumeniese liggaam (SARK) en die kontinentale ekumeniese liggaam (die All Africa Conference of Churches, AACC). Die Hervormde Kerk is tans nog nie lid van hierdie organisasies nie. Uiteraard moet die Kerk ook goeie verhoudings met ander plaaslike kerke handhaaf, en sal plaaslike lidkerke aan die WRK moet bevestig dat hulle die hertoetrede van die Hervormde Kerk steun.

Die Hervormde Kerk se historiese deelname aan die WGGK se Algemene Vergadering in die jaar waarin ons die 500 jaar sedert die Kerkhervorming herdenk, dwing ons om weer te besin oor ons belydenis van die een heilige, algemene kerk. Juis omdat die kerk van Christus voortdurend in ’n stryd om die waarheid gewikkel is, mag ’n kerkgenootskap homself nooit van die algemene kerk afskei of die eenheid van die kerk minag nie.