Die Hervormer

Predikantevergadering 2017

Alle mense is soos alle ander mense. Alle mense is soos geen ander mense, en alle ander mense is soos sommige ander mense.

Hierdie aanhaling uit die mond van prof Cas Wepener sê nogal iets van die belewenis van die Predikantevergadering van 2017. Ons is eintlik almal eenders, terwyl ons tog ook van mekaar verskil, en soms is daar mense om ons wat soos ons is. Dit speel ’n belangrike rol in hoe ons Christenwees verstaan en ook hoe ons na die prediking luister. Dit speel ook ’n rol in hoe elkeen oor die vergadering se inhoud en verloop sal oordeel. Wat wel seker is, is dat almal die skaapbraai die aand na die vergadering terdeë geniet het!

6 WEBDie vergadering het gehandel oor twee baie besondere temas. Tom Smith het op sy eie unieke manier elke hoorder laat nadink oor die tema van missionale dissipelskap, die rol van ritmes in die avontuur van die missio Dei – God wat ons die wêreld instuur met sy Boodskap.

Luister jy goed wat Tom vanuit sy verstaan van die Woord van God sê, moet elkeen ’n verskil maak daar waar hy of sy fisies teenwoordig is. Christenskap moet nie vasgevang wees in jou hart of liggaam nie, maar moet in jou aksies en handelinge gereflekteer word. God stuur ons nie die wêreld in (Matt 28: 19-20) om mense net met woorde te oortuig nie. Dit is wel goed om te sê My hart gaan uit na daardie mense, maar die groot vraag is of ek ook iets doen vir mense wat in nood en krisis is.

Vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus is aan ons baie bekend: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Die antwoord: Die wete dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Dit is nie alleen ’n kernbelydenis nie, maar hierdie belydenis moet in my daaglikse lewe gereflekteer word. Dit moet in my doen en late, asook in my optrede teenoor ander, ’n verskil maak. Dit is waarlik missio Dei. Dit is wat dit beteken om gestuurde van die Here te wees. So word die koninkryk van God waarlik sigbaar.

Prof Wepener het sekerlik elke predikant eers laat regop sit en toe geïnspireer met sy aanbieding oor die tema sewe doodsondes vir beter prediking. Die sewe sogenaamde doodsondes volgens prof Wepener is hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en luiheid. Die vraag ontstaan by elkeen wat dit gehoor het en nou hier lees: Wat het dit met die prediking te doen? Dra jy hierdie aspekte egter oor na die prediking, beteken dit geheel en al iets anders as wat jy mag dink.

Elke prediker moet soos ’n hoogmoedige persoon daarna mik om elke Sondag die beste preek te lewer wat daar is. Dit moet daarom kontekstueel wees en die harte van mense aanspreek. Dit vra dat elke prediker deur die lewe sal gaan met fyn aanvoeling vir wat rondom hom of haar gebeur. Elke preek moet, indien dit geëvalueer word, die sogenaamde top 10 bereik. Dit verwys nie na die prediker en sy besondere vermoëns nie, maar na die inhoud van die boodskap. Dit gaan oor die waarheid van die evangelie en hoe konkreet dit die hoorders aanspreek en hulle in beweging bring om dit wat gehoor is, in dade om te sit.

Om hebsugtig te wees, beteken dat jy net meer en meer wil hê. So moet elke prediker poog om die aandag van die hoorders vasgenael te hou. Hulle moet meer en meer wil hoor van God se Woord. Hulle moet meer en meer wil hoor, omdat dit hulle aanvuur om dit wat hulle hoor, ook te gaan leef.

Wellus is ’n begeerte in die hart. Deur die prediking moet elkeen wat hoor, luister na wat die Gees vir die gemeente sê, en elkeen moet daarop reageer deur te sê: Ek wil ook, want dit het my in die hart getref. Die boodskap van die evangelie moet so oorgedra word dat jy as hoorder nie anders kan nie as om ’n brandende begeerte in jou hart te hê om hierdie boodskap aan ander ook oor te dra en uit te leef.

Jy kan nie praat oor woede as jy nog nie self kwaad was nie. So moet elke prediker hom- of haarself in die skoene van die hoorders plaas en hulle indink in elkeen voor hulle se situasie.

As prediker moet jy as’t ware vraatsugtig wees. Jy moet jou hoorders insluk, maar klein stukkies op ’n keer. Selfs in die prediking is minder eintlik meer. Te veel woorde en beelde kan die boodskap laat vervaag.

Predikers moet ook afgunstig wees. Dit beteken elke prediker moet lief wees vir die eie – eie kultuur, eie omgewing en eie konteks. Wat help dit jy preek en as voorbeeld gebruik jy die Amerikaanse president en sy manewales? Daar is soveel van ons eie wat die hoorders meer sal verstaan en aangryp.

Laastens is dit volgens prof Wepener noodsaaklik dat daar stil momente in die prediking moet wees. Die hoorders moet nadink, iets beleef, iets saamvat huis toe.

Elkeen wat die vergadering bygewoon het, het iets gekry om saam terug te neem. Elke prediker se prediking kan opnuut die aandag kry wat dit moet kry, en lidmate kan opnuut versterk word in geloof – geloof wat aanspoor tot dade. Dade wat die liefde en genade van God Drie-enig sigbaar maak in ons gebroke wêreld.

(Ds Van Wyk is uittredende voorsitter van die Predikantevergadering, en leraar in Gemeente Montana-Oos)