Die Hervormer

’n Nuwe ou strategie

Die gemeente se bankrekening was nie altyd die spil waarom die gemeente se werksaamhede gedraai het nie. En dit bedoel ek nie in die negatiewe sin van die woord nie. Wat ek hiermee bedoel, is dat dit nie altyd so gewerk het dat gelowiges hul offergawes in die gemeente se bankrekening inbetaal het, en dit van daar verdeel en versprei is na al die plekke waarheen geld moes gaan nie. Eens op ’n tyd het gelowiges besluit waarvoor hulle ’n offer wil bring, en as dit ’n finansiële offer was, hoe en waar hulle dit wou bring.

Presies hoe en waar is moeilik om te bepaal, maar baie jare gelede het dit gebeur dat die Kerk sy diakens begin uitstuur het om mense se offers by hulle te gaan haal en dit kerk toe te bring, sodat die kerkraad kon besluit hoe dit aangewend moes word. Die offergaweboek en die gemeente se bankrekening het twee noodsaaklike ratte in die kerklike masjien geword. Die bedoeling daarmee was nie sleg of verkeerd nie – in daardie stadium was dit net meer prakties om dit so te doen.

In die jare van oorvloed het dit goed gewerk. Kerkgeboue, sale en pastorieë is gebou. Sinodale geboue en strukture is opgerig. Lidmate kon deur middel van kolomme in die offergaweboek aandui waarvoor hul bydraes aangewend moes word. Die regering het ruim bygedra om ons barmhartigheidstrukture (kinderhuise, ouetehuise en maatskaplike dienste – wat terloops in die jare van swaarkry gestig is) se werk in stand te hou. Maar soos ons almal weet, het die wiel aanhou draai...

Vandag staan hierdie werkwyse op sy einde. Die geld wat op hierdie manier in die gemeente se bankrekening ingebring word, is net nie genoeg om alles te betaal wat daaruit betaal moet word nie. Gemeentes begin finansieel swaar trek. Predikante begin finansieel swaar trek. Sinodale strukture begin finansieel swaar trek. Barmhartigheidstrukture begin finansieel swaar trek. En soos ons almal weet: As jy aanhou om dieselfde dinge te doen, moet jy nie ander resultate verwag nie...

As ons die prentjie donker wil skets, kan ons dit sonder twyfel doen. Dink net aan die politieke stand en korrupsie in ons land. Rassisme in al sy lelike vorme. Ekonomiese druk en rommelstatus. Emigrasie, negatiewe bevolkingsgroei en ’n krimpende kerkie...

Of ons kan die ligkant skets. Christus is ons Hoop! Ons verkondig ’n Evangelie van Hoop, van ’n wonderlike, ewige toekoms, vir almal wat in Hom glo. Die leefwyse van die Koninkryk van God is liefde en barmhartigheid, en ons is geroep om dit ryklik uit te deel en uit te leef. Ons Kerk bestaan uit duisende dienende volgelinge van Jesus Christus wat ’n verskil kan bring in die gemeenskappe waar Hy ons geplaas het!

Die ligkant vra dat ons nuut dink oor die manier waarop gelowiges hul offers bring – en die ontdekking dat ons moet teruggaan na die manier hoe dit gedoen is voordat alles rondom ’n gemeente se bankrekening gedraai het. Terug na die offervaardigheid en verantwoordelikheid van die gelowige. Weg van die diaken as kollektant, en terug na die diaken as barmhartigheidsdienaar.

Die Algemene Diakensvergadering (ADV) se alternatiewe, nuwe (ou!) strategie ten opsigte van die befondsing van ons gesamentlike barmhartigheidswerk behels die volgende:

  1. Ons fokus weer opnuut op ons roeping om barmhartig te wees. God het ons immers nie geroep om gedien te word nie, maar om te dien.
  2. Ons is opgewonde daaroor dat ons Kerk bestaan uit duisende gelowiges wat deur God geroep is om sy liefde in ons wêreld sigbaar te maak.
  3. Barmhartigheid behoort in die eerste plek op persoonlike vlak deur ’n gelowige aan ’n ander mens bewys te word. Daarna deur gelowiges gesamentlik, op gemeentevlak. En eers daarna deur gemeentes gesamentlik, op sinodale vlak.
  4. Die heffingmodel waar bydraes vir barmhartigheidswerk deur heffings uit gemeentes se bankrekenings betaal word, word uitgefaseer.
  5. Deurkollektes het met verloop van tyd deel van die bankrekenings geword. Daar word nou teruggegaan na die spesiale deurkollektes vir barmhartigheid (4 per jaar) en die saak waaroor dit telkens gaan, word met oorgawe bekendgestel.
  6. Gelowiges en gemeentes word aangemoedig om op plaaslike vlak by ouetehuise, DPS-huise, Rata-kantore, ensovoorts, betrokke te raak, as vrywilligers, diens-werkers en donateurs. Jou tyd is ’n kosbare donasie!
  7. Baie lidmate van ons gemeentes ondersteun organisasies van hul keuse deur middel van debietorders. Ons het nog nooit ons eie organisasies op dieselfde wyse bemark nie, en die tyd is ryp dat ons dit doen. (So terloops, die organisasies wat ons Kerk gestig het, lewer hoëkwaliteitdiens, vanuit ’n Christelike perspektief en met uiters doeltreffende aanwending van fondse!)
  8. Ons gebruik die instrumente wat in ons land beskikbaar is:
  • Artikel 18A-belastingvrystelling vir individue en besighede.
  • Korporatiewe burgerskap (CSI = Corporate Social Investment).
  • Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBBEE Level 4).

Die doel van die alternatiewe strategie is om die barmhartigheidswerk van ons Kerk uit die gemeentes se bankrekenings uit te kry en in die harte en hande van dienende gelowiges te kry. Dit is tegelyk bevrydend en bedreigend – bevrydend, omdat ons wil wegbeweeg van ’n heffingsmodel waar die lidmaat wat sy/haar bydrae vir die gemeente gee, nie ’n idee het waarvoor dit gaan nie. Bedreigend, wanneer ons probeer vasklou aan die handjievol kwynende bydraers tot die gemeentekas.

Maar miskien moet ons vir eers net werk aan punt 1. Want God het ons geroep om te dien – elke sinodale struktuur; elke gemeente; en veral: elke gelowige!

(Ds Gerhard Stoltz is sekretaris van die Algemene Diakensvergadering)