Die Hervormer

Hoe sou ’n (Hervormde) gemeente in die toekoms lyk?

Ek het die naam Hervormde in die opskrif opsetlik tussen hakies geplaas. Die vernaamste rede is demografiese vooruitskattings, soos onder andere dié van Clem Sunter (2015) ten opsigte van die jaar 2030.

Vir die ouderdomsgroep 0-24 jaar (in elke groep van 100 mense), meen Sunter behoort die getalleverhouding soos volg daar uit te sien: 91 swart, 7 kleurling-, 1 Asiër- en 1 wit jeugdige. Dit is ’n skrale 14 jaar hiervandaan. My doel met hierdie artikel is nie om swartgallig te wees nie. Ek is oortuig dat ’n realistiese beeld van die werklikheid ons veel verder sal bring sonder dat ons die prooi van verlamming hoef te word.

Is daar hoop? As Christengelowige is ek oortuig dat daar altyd hoop is. Maar ervaring het my geleer dat my prentjie van die toekoms nie noodwendig God se prentjie vir my toekoms is nie. Meer dikwels realiseer God se prentjie vir my deur die moeisame weg van selfprysgawe en nuwe oorgawe. Dit is waarskynlik van die Kerk net so waar. Hoe lyk jou prentjie van die Kerk? Dalk ’n prentjie van ’n stampvol kerkgebou in die 1970’s en 1980’s toe die Kerk getalsgewys ’n hoogbloei beleef het. Hoe lyk God se prentjie van die Kerk in die toekoms?

Met die insigte tot my beskikking (toegegee dalk gebrekkige insig), begin ek die volgende prentjie raaksien, en ek wil dit aan die hand van ’n akroniem met die letters RED (radikaal missionaal, eenvoudige kerkwees, dissipellering) deel. Die woord red hou vele betekenismoontlikhede in. God red die wêreld. God red die Hervormde Kerk van institusionalisme en ’n na binne gerigte instandhouding. God red die Kerk van ’n verouderde prentjie van wat God se kerk is.

Radikaal missionaal

Die teoloog Kennon Callahan het die volgende spreuk gemunt: When the church is in the world, God is in the church. If the church is not in the world – God is in the world. Kan dit dalk ’n rede wees hoekom die kerk só lyk? Daarom dat die Konsepkerkorde wat tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering gaan dien (hierdie artikel is voor die vergadering geskryf) vir my soveel hoop ten opsigte van missionale bediening inhou. In die voorgestelde Ordereël 7 is dit veral die volgende twee punte wat my opgewonde maak:

  • Aanvullend tot die openbare Woordverkondiging kan daar dienste gelewer word aan persone wat nie lidmate van die Kerk is nie.
  • Hierdie dienslewering het lidmaatskap van die Kerk, gemeentevorming, ekumeniese samewerking of algemene diensbaarheid in die oog.

Met 2030 voor oë – wie is hierdie persone wat nie lidmate van die Kerk is nie? Aan wie moet die Woord verkondig word en aan wie kan (behoort) dienste gelewer word? Baie beslis aan die 1 wit jeugdige (ouderdom 0-24 vir elke groep van 100 mense) en ander wit mense wat in daardie stadium gaan leef. Wat van die 99 ander jongmense met hul medevolksgenote?

Soos ek missionale kerkwees verstaan, behoort omvattende verkondiging (dienslewering ingesluit) aan alle mense te wees. Behalwe ons veronderstelde missionale dienswilligheid, gaan sosiodemografiese verskuiwings, verstedeliking, werkloosheid en armoede ons dwing om die moue op te rol en ’n verskil in ons konteks teweeg te bring. Die kloof tussen ryk en arm is ’n tikkende tydbom, en gemeentes kan hoop aan hooplose mense bring deur bronne en veral vaardighede te deel – dit terwyl die evangelie daarmee saam verkondig word.

Dit hoef nie te lei tot die amalgamering van almal in een kerk (gemeente) nie. Ek is veral opgewonde oor die moontlikhede wat die Fresh Expressions beweging bied. Hierdie beweging wil nie die gevestigde kerk aftakel nie, maar daarnaas geloofsgemeenskappe vorm onder diegene wat nie ’n affiniteit vir die institusionele kerk het nie, maar tog vir die evangelie ontvanklik is. 

Daar is ’n legio voorbeelde van hoe dit gedoen word. Ek gaan slegs een plaaslike voorbeeld noem. Ek hoor van iemand wat missionale kerkwees verstaan en een middag begin het om ’n bal in die onmiddellike omgewing van ’n plakkerskamp (daar is tans ongeveer 86 wit plakkerskampe in en om Pretoria waarvan baie gemeng is) rond te skop. Gou was daar belangstellendes op die toneel wat lustig saamgespeel het. Aan die einde van die wedstryd vra hy toe aan die medespelers: Wie van julle wil meer van rekenaars weet en wie van julle wil graag ’n eie besigheid begin...? Dit is ’n vraag wat tot dienslewering gelei het en die vrugbare teelaarde vir die vestiging van ’n geloofsgemeenskap gebied het. Dink net hoeveel affiliasies op hierdie wyse met die Hervormde Kerk kan ontstaan!

Eenvoudige kerkwees

Ons fokus en invalshoek is myns insiens verkeerd. Ons voer die Kerkgesprek. Hoe gaan die Kerk finansieel oorleef? Hoe kan ons die Kerk red? In die proses poog ons nog meer verbete om die Kerk in stand te hou en sukkel ons om van ons institusionele denke los te kom. Kom ons skuif die fokus na ’n Jesusgesprek. Wat impliseer Jesus se bediening vir ons as dissipels? Watter grense het Jesus oorgesteek? Watter grense moet ek en my medelidmate oorsteek?

Die grootskaalse wegbeweeg van hoofstroomkerke wêreldwyd is waarskynlik omrede baie Christene hul geloof op nuwe maniere wil uitleef. Hulle maak hulself los van die kerkgesprek om die Jesusgesprek te voer. Huisgemeentes het ’n algemene verskynsel geword, alternatiewe geloofsgemeenskappe kom op verskillende plekke byeen, en dan nie noodwendig op ’n Sondag nie.

Een manier om eenvoudige kerkwees gestalte te laat kry, is om ons ampsbeskouing nuut te bedink. Die professionalisering van die predikantsamp het myns insiens veroorsaak dat die meeste lidmate passiewe toehoorders geword het. Die dominee word immers betaal om al hierdie werk te doen, en daarom moet sy/haar werkruimte bekostig word. Dit veroorsaak dat soveel energie in instandhouding ingaan, met min of geen energie wat vir missionale kerkwees oorbly. Predikante van die toekoms gaan merendeels gedwing word om ’n tweede beroep te volg om sodoende net deeltyds in diens van ’n gemeente te staan. Ek is oortuig daarvan dat God bedoel het dat elke lidmaat volledig ’n gestuurde dissipel in hierdie wêreld moet wees. Predikante, hoe deeltyds ook al, behoort instrumenteel in die missionale toerusting van lidmate te wees.

Dissipellering (Dissipelmaking)

Om dissipel van Jesus te wees, beteken om ’n vakleerling te wees, ’n volgeling of selfs ’n nabootser van Hom as leermeester. Kerke in die reformatoriese tradisie lê baie klem op die kennisaspek van geloof. Die uitwas hiervan is dat geloof iets abstrak en ideologies kan word. Die regte kennis en gepaardgaande teologiebeoefening is noodsaaklik, maar dan moet dit kennis wees wat beliggaam word.

Effektiewe dissipellering is wêreldwyd een van die kerk se grootste uitdagings. Dit gaan daaroor dat die gesindheid van Christus beliggaam moet word. Eintlik is dissipellering die enigste wyse van evangelisering. Dit beteken dat elke volgeling meer en meer soos Christus wil word en soos Hy wil doen.

Steeds nodig vir (Hervormde) tussen hakies?

Hoegenaamd nie. Die Hervormde Kerk met ’n koninkrykperspektief het soveel aan hierdie land en sy mense te bied. Die hakies kan gerus verwyder word, terwyl elke gemeente nuwe koördinate (RED) navolg: Radikaal missionaal. Eenvoudige kerkwees. Dissipellering.