Die Hervormer

Volksvreemde teologie?

’n Klein groepie predikante van ons Kerk het jaarliks die afgelope drie jaar vir ’n simposium oor invloedryke Duitse teoloë in Pretoria byeengekom. Verskeie lidmate en selfs sommige predikante sal vra waarom simposia soos hierdie nodig is. Word ’n stokperdjie van ’n paar mense met te veel tyd op hande aan die groot klok gehang, en word in die proses nie baie tyd, energie en geld verkwis nie?

In ’n land en kerklike omgewing waar praktiese vaardigheidsopleiding in die vorm van kort toegepaste kursusse se lof wyd besing word, is dit byna vanselfsprekend dat waardering vir akademiese navorsing sal kwyn. Teologiese navorsing is al tot so ’n mate in ons samelewing gediskrediteer dat gevra word waarom teologiese navorsing as sodanig nou juis nodig is. Soveel te meer wil mense weet wat navorsing oor spesifiek Duitse teologie Suid-Afrikaners in die sak kan bring. Die nuttigheidswaarde van die hele onderneming staan onder verdenking.

Teologie is woorde oor God. Teologie verwoord menslike nadenke oor God. Maar, sou ons kon vra, hoe verskil ’n teologiese uitspraak dan van ’n geloofsuitspraak? Waar geloof nie langer vanselfsprekend is nie en dit verdedig moet word, gee geloofstaal aanleiding tot die ontwikkeling van teologiese taal. Teologie bring daarom God nie abstrak en buite enige verhoudings ter sprake nie, maar wel altyd net in verhouding tot die mens. Waar God uit sy verborgenheid na vore tree en mense ontmoet deur sy Woord, kom mense tot geloof in Hom. Ons kan alleen oor God in terme van die verhoudings praat wat Hy met ons skep, en daarom is teologie ook woorde oor geloof. Teologie is apologie vir geloof.

’n Europese herkoms

Christelike teologie is tot ’n groot mate ’n Europese kultuurproduk. Die wêreld waarin die Christelike geloof beslag gekry het, was die omgewing rondom die Middellandse See. Hierdie omgewing was nog altyd ’n kookpot van kulturele interaksie. In dié omgewing moes die waarheid van die Christelike geloof, wat in die Joodse tradisie geanker was, verdedig word teen die Hellenistiese godsdienste, ideologieë en filosofie.

Die Griekse filosofiese tradisie het gou die Christendom se vernaamste gespreksgenoot geword in die soeke na die waarheid. Die dialoog van die Christendom met die Griekse filosofiese tradisie het aan die Christelike teologie vorm gegee, met die gevolg dat ’n kritiese inslag uit die staanspoor die karakter daarvan bepaal het.

Vier onderskeibare teologiese tradisies het opeenvolgend in Europa ontwikkel, naamlik die patristiese (kerkvaderlike) tradisie in die vroeë kerk, die skolastiek in die Middeleeue, die Reformatoriese teologie in die 16de eeu, en die kritiese teologie in die tyd sedert die Europese verligting. Vanselfsprekend is hierdie vier tradisies nie al wat die Westerse Christendom teologies opgelewer het nie. Die ontwikkeling was baie meer genuanseerd en al hierdie tradisies het opponerende reaksies ontlok. Dit was egter hierdie vier tradisies wat kontinuïteit en stukrag aan die teologiese ontwikkeling gegee het.

In die Hervormde Kerk

Die laaste twee tradisies wat hier genoem word, het in ’n groot mate die aard en karakter van die Hervormde Kerk en haar teologie bepaal. Enige kerklike tradisie word op twee maniere bewaar: Eerstens deurdat dit institusioneel beslag kry en só behoue bly, en tweedens dat teruggevra word na die oorspronge van die tradisie en dit herbedink word met die oog op die hede. Laasgenoemde word in ons eie Kerk al hoe meer afgeskeep in die naam van vooruitgang op teologiese gebied. Die gevolg is nie alleen ’n groeiende oriëntasiekrisis nie, maar ook ’n sluimerende identiteitskrisis.

Verskeie Hervormers weet eenvoudig nie meer wat “Hervormd” beteken nie en weet gevolglik ook nie meer waarom hulle nou juis lidmate van die Hervormde Kerk is nie. Hulle verstaan die kerklike tradisie as ’n onnodige en lastige toevoeging tot die suiwer kinderlike geloof, as kettings wat jou bind aan ’n uitgediende en verslete kerklike leer, en as ’n muwwe bedompigheid wat die lewe uit jou geloof smoor.

Dié wat die moeite wil doen om die kerklike en teologiese tradisie weer krities en kreatief te herbedink, sal gou agterkom dat dit eintlik ’n weg vir ons open om by die mees fundamentele lewensvrae en deurdagte antwoorde daarop uit te kom. Dit kan as vertrekpunt dien om selfstandig krities na te dink oor jou eie geloof en die verantwoording daarvan teenoor ’n wêreld wat nie gaan ophou om ons met vrae te peper nie.

Vanweë spesifieke historiese omstandighede, is teoloë in die Duitse taalstreke van Europa in die Moderne Tyd brutaal gekonfronteer met die mees fundamentele lewensvrae van die mens. Hulle was gedwing om indringend na te dink oor hierdie vrae. Wie ’n goeie Duitse teoloog se werk lees, word op ’n reis vol avontuur geneem. Jou brein word gestimuleer om anders oor die wêreld en die uitdagings van die lewe te dink en om die relevansie van die evangelie van Jesus Christus vir ons lewens opnuut te ontdek.

Ook ’n taalkwessie

Afrikaanssprekendes, soos al die ander sprekers van inheemse tale in Suid-Afrika, ervaar toenemend die politieke druk dat meer en meer aspekte van die lewe verengels moet word. Swak Engels is die algemene spreektaal van ’n verwonde samelewing waarin mense mekaar baie moeilik kan verstaan en die meeste maar sukkel om hulself min of meer te kan uitdruk. Polities gekleurde slagspreuke, wat halwe waarhede verkondig en denke ontmoedig, vorm progressief die basis van Jan en alleman se lewensbeskouings. Ons word wysgemaak dat nasionale eenheid alleen binne die raamwerk van ’n vreemde monokultuur verwesenlik sal kan word. Uitnemende prestasie wat mense se identiteit vorm, moet plek maak vir middelmatigheid wat jou in ’n gesiglose massa laat verdwyn waar niemand verantwoordelikheid hoef te neem nie, maar almal ook mense sonder eienskappe word.

Die uitfasering van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite is deel van ’n groter probleem in ons samelewing – groeiende eentaligheid. Ons is onwillig om inheemse tale aan te leer en wil nie meer probeer om tale wat ryke tradisies verwoord, soos Nederlands, Duits of Frans, te lees nie. Die antieke tale, soos Hebreeus, Grieks en Latyn, word al hoe meer afgeskeep en raak vergete. Wanneer ons taalvaardigheid so afgestomp geraak het dat ons nog net in een taal die slagspreuke kan nasê wat aan ons voorgesê word, sal ons eendimensionele mense in ’n eendimensionele wêreld wees. Die kleur van daardie wêreld is natuurlik asvaal.

’n Paar predikante probeer om die kerklike horison ’n bietjie te verbreed. Waar die horison wyd is, kan ’n mens die ryke kleurskakerings mooi sien wat die ondergaande son bo die horison verf. Alleen hulle wat kyk, sal egter die vreugde smaak om te sien. U word uitgenooi om saam wes te kyk na die asemrowende kleure op die westelike horison.

Die voordragte wat by dié genoemde simposia gelewer was, is kort na elke simposium in die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) gepubliseer en kan steeds op die Kerk se webwerf by www.nhka.org gelees word in die volgende uitgawes van die tydskrif: Jaargang 2, Nommer 3, September 2014; Jaargang 3, Nommer 3, September 2015; en Jaargang 4 Nommer 3, Augustus 2016. Sommige van die voordragte is ook later tot volwaardige wetenskaplike artikels verwerk en is in die HTS Teologiese Studies by www.hts.org.za gepubliseer.