Die Hervormer

My ware en valse self

Skrywer GysElsWat sal ons die “ding” noem wat elke keer maak dat ek anders dink en doen en sê as wat eintlik van ’n kind van God verwag sou word? Hoekom sê Paulus in Romeine 7: 19 dat hy maar elke keer weer die goeie wat hy wil doen, nie doen nie, maar die slegte wat hy nie wil doen nie, dit doen hy wel?

 

 

Willem Nicol praat van ekkigheid. Richard Rohr en Tomas Merton gebruik die term valse self of klein selfie. Die valse self is die “ek” wat my waarde in die lewe en voor God in valse waardes soek. My valse self dink en doen en glo: Ek het (net) waarde – wanneer ek kan; wanneer ek besit; wanneer ek behoort.

 

Ek het waarde wanneer ek KAN

Dit is die klassieke onderbou vir die gebruik en misbruik van mag: Kain slaan sy boetie dood, Dawid stuur vir Uria na sy dood, en Amnon verkrag vir Tamar, want hulle kan.

 

Hierdie oortuiging maak dat ek altyd aan myself en ander moet wys ek kan of ek weet. Ek moet altyd wen. Om tweede te kom, is net nie ’n opsie nie, want dit beteken ek was nie die beste nie. Dit maak nie eintlik saak wat op die spel is nie: speel met die maatjies tydens pouse, of in die eerste span se uitspeelwedstryd, of die Curriebeker; toets skryf in wiskunde, of Hebreeus, of Raadseksamen vir rekenmeesters. Ek moet myself oor en oor bewys. As ek kan, het ek waarde – in my eie oë, in joune... en in God s’n! As ek nie kan nie, dan is dit die einde van die wêreld. Dan is my waarde vir myself en jou en God verwoes!

 

Die groot gat in dié manier van dink is natuurlik dat ek nooit alles sal kan nie. Ek kan nie altyd wen nie. Daar sal altyd iemand kom wat slimmer of sterker of vinniger is as ek. As dit nie vandag gebeur het nie, kan jy seker wees dit sal môre of oormôre gebeur. Kom sal dit kom. Jy kan nooit rus of ontspan nie, want jou waarde hang van jou prestasie af.

 

Die hartseer is dat dit nie net “presteerders” is wat glo hul waarde hang van hul prestasie af nie. Dikwels dink ook mense wat “misluk” so. Omdat ek nie kan nie, beteken ek niks. Die valse self is dus nie die een wat presteer nie. Dis die een wat dink hy het slegs waarde wanneer hy presteer!

 

Ek het waarde wanneer ek HET

Dis die mens wat in die Bybel die ryk dwaas genoem word. Dis die ryk man met Lasarus by sy hek. Dis die mens vir wie Jesus waarsku: Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. 

 

Dis natuurlik die waarde waarop ons hele materialistiese samelewing gebou is. Omdat besittings my waarde bepaal, kan ek neersien op iemand wat nie het nie of wat minder het as ek. Ek beywer my om die beste en mooiste en grootste te hê: selfoon of klere met spesiale handelsname aan die buitekant, of ’n spesifieke motor of huis of portefeulje. Ons kinders word in hierdie kultuur groot, en ons moet gedurig hoor: Ja, maar almal het een. Ek moet dit ook hê! Dis baie moeilik om jou kind te leer dat sy waarde nie van sy nuutste selfoon afhang nie, terwyl jy elke jaar jou motor inruil om die nuwe model te kan ry!

 

Dié wat baie het en dié wat niks het nie, kan natuurlik ewe vasgevang wees in hierdie manier van dink en doen. Ek het waarde omdat ek het se teenpool is maar net: Ek het NIE waarde nie, want ek het nie. As ek net gehad het, sou ek ook waarde gehad het – in my en jou en God se opinie! Die valse self is dus nie die een wat “het” nie. Dis die een wat dink hy het slegs waarde wanneer hy besit!

 

Ek het waarde wanneer ek BEHOORT, en die mense mooi dinge van my sê

Dis Saul se reaksie toe die vroue vir Dawid in mooier woorde besing as vir hom. Dis Ananias en Saffira wat lieg oor hul gawe – om goed te lyk in die apostels en die gemeente se oë.

Hierdie gesig van die valse self wys hom- of haarself al wanneer die eerste trane gestort word omdat sy nie in graad 1 na die pajamapartytjie genooi is nie, of wanneer Boetie nie ’n prefek is nie. As Ma dit dan nog ondersteun deur te vertel dat die ander kinders in elk geval “simpel” is, of sy skakel die ander ma om te hoor wat dan fout is met haar bloedjie, en Pa is so ontsteld dat hy die skoolhoof gaan spreek daaroor, is die koeël deur die kerk!

 

Dis dan nie vreemd nie dat as ons só grootgeword het, dit verskriklik is om nie in die kerkraad te wees nie, of in die Algemene Kommissie se Raad vir wat ook al nie. Dit veroorsaak ook dat die terugvoer oor die dominee se preek, of die gebrek daaraan, kan maak dat hy of sy op die hoogste pieke van vreugde of in die diepste dal van doodskaduwee verval. Die valse self wil “in” wees. Die probleem is nie dat ek nie iewers behoort nie. Die probleem is as ek dink my waarde hang daarvan af dat ek iewers aan ’n groep of ’n span of ’n bende behoort.

 

Ons kyk ’n volgende keer na God se teenpool vir die valse self – die ware of egte self wat God geskep het.