Die Hervormer

Die vyf Solas

Die vyf Solas van die Reformasie in die 16de eeu berus grotendeels op die teologie van die apostel Paulus in sy verskillende briewe aan die gemeentes.

1. Sola scriptura – die Skrif is die enigste bron en maatstaf van geloof.
2. Sola gratia – genade is die enigste grondslag van redding.
3. Sola fide – geloof is die enigste maatstaf van verlossing.
4. Solus Christus – Christus is die enigste redder.
5. Soli Deo gloria – alle eer vir ons heil kom alleen aan God toe.

’n Mens kan sê dit is die vyf pilare van reformatoriese teologie en word onderskryf deur die meeste kerke van die Reformasie, ook die drie Afri­kaanse susterskerke. Daarmee word beklemtoon dat die mens geen aanspraak kan maak op eie meriete voor God nie, aangesien ons in ons wese bedorwe is vanweë die sonde.

Waar kom hierdie siening vandaan? Dit is natuurlik nie ’n nuwe insig nie. Dit is so oud soos die verhaal oor die sondeval van Adam en Eva in die paradys wat duisende jare gelede ontstaan het. Logies gesproke berus dit op ’n ervaring van God, die aanvoeling van sy heiligheid en die besef van die onvolmaaktheid van die mens. Spreuke 30 stel dit onomwonde:

Ek is meer dier as mens,
ek het nie die verstand van ’n mens nie. (vers 2)

Ek het nie wysheid geleer nie,
ek ken nie die heilige God nie. (vers 3)

In die Roomse Kerk van die 14de en 15de eeu is die gedagte van die soewereiniteit van God weggekalwe deur twee dinge: eerstens deur die idee dat die mens ’n bydrae kan lewer tot sy eie saligheid deur vroomheid en toewyding (monnike- en nonneordes), en tweedens deur die kommersialisering van geloof deur ’n geldwaarde te koppel aan sonde (aflaatstelsel). In die 16de eeu het die Kerkhervormers hierteen beswaar gemaak – eintlik teen die groter saak van die monopolisering van godsdiens deur die kerk. ’n Ernstige lees van die Bybel het hulle gebring tot die besef dat God se guns genade is en dat die mens geen bydrae lewer of aansprake het nie. Dit lei dan tot die formulering van die vyf solas soos vroeër genoem.

Die Reformasie was deel van die Verligting as ’n omvattende verskuiwing in filosofiese en lewensbeskoulike denke in Europa na die Middeleeue. Die Verligting het talle uitgangspunte en gevestigde praktyke van die verlede bevraagteken. Soos met elke krisis, het dit die drie o’s veroorsaak: onsekerheid, ontsteltenis en onstuimigheid. Instellings met gevestigde belange het probeer om die status quo te handhaaf, maar die energie van so ’n nuwe denkbeweging kan nie gestuit word nie. So het die Reformasie ook beroering en verdeeldheid in die kerk veroorsaak. Tegelyk was die energie goed vir die evangelie, want deur terug te gryp na die primêre bron van geloof, die Bybel, is hol en twyfelagtige gebruike in die kerk blootgelê en gesuiwer. Baie mense het die Roomse Kerk verlaat en by die Reformatoriese kerke aangesluit.

Vandag verlaat mense weer op groot skaal die kerk want, sê hulle, die kerk maak nie ’n verskil in die wêreld of aan mense se geloof nie. Die Amerikaanse musikant Lenny Bruce het gesê: People are leaving the church and going back to God. Dit is ’n baie ernstige aanklag.

Die kerk is die natuurlike resultaat van geloof. Moet nou nie dink aan kerk as gebou of organisasie nie, maar as ’n gebeure. Eintlik is dit ’n reeks gebeure, ’n stroom energieuitsette wat lig of hitte uitgee en deel. Om te kerk is ’n uitdrukking wat aksie veronderstel. Die brief van Jakobus, wat vroeg in die geskiedenis van die kerk geskryf is, praat oor ’n gevaar wat van die begin af enige organisasie bedreig, naamlik dat mense hul entoesiasme verloor. Daar moet ’n korrelasie en ’n balans wees tussen verstaan en doen, of glo en doen in die geval van die kerk.

Jakobus se punt is: As jy iets verstaan van die bevrydende krag van die evangelie, is dit juis dat dit jou losmaak van die prestasieklousule wat so deel is van menslike waardeoordele. God kyk nie na die merkers van status wat ons gebruik nie. God kyk na die mens – daardie unieke persoon wat jý is, en na jou worsteling om te midde van geweldige struikelblokke ’n sinvolle lewe te leef.

As daar kritiek teen die kerk is dat daar nie energie is nie, dat die kerk se fut uit is, is dit kritiek teen my en jou. Die glo en doen kom nie by mekaar uit nie. ’n Geloof sonder dade, noem Jakobus dit, is kragteloos. Maar as ons begin woel en werskaf, as ons ondersteun en help, as ons tot God bid en mekaar vergewe, dan word daardie energie sigbaar en wys dit die onderliggende geloof uit.
Ek sien uit daarna dat daar in ons Kerk en gemeentes ’n herontwaking van die energie van geloof sal kom. Dit moet blyk in betrokkenheid en toewyding, waarvoor daar ’n besondere soort stamina nodig is. Ek glo ’n mens hoor dit reeds in mense se getuienis wanneer hulle met al minder skroom sê soli Deo gloria – aan God die eer vir my lewe en my redding. Mag ons as Kerk en lidmate ’n onderneming aangaan om deel te word, te wees en te bly van die stuwende energiestroom van geloof.