Die Hervormer

Kontekstuele teologie of teologie in konteks?

Dit is verbasend dat die onderwerp van kontekstuele teologie slegs sydelings in teologiese opleiding ter sprake kom, terwyl dit so ’n ernstige strydpunt was sedert die 1970’s. By die beoordeling daarvan is die eerste vraag wat beantwoord moet word: Wat behels kontekstuele teologie?

In ’n vroeë artikel (1985) wat uitloop op sy gelyknamige, meer uitgebreide werk, Models of contextual theology (Maryknoll: Orbis, 2004), beskryf Stephen Bevans kontekstuele teologie as ’n manier van teologiebeoefening wat vier dinge in ag neem: die gees en boodskap van die evangelie; die tradisie van die Christene; die kultuur van ’n spesifieke volk of streek; en sosiale verandering in daardie kultuur vanweë tegnologiese vooruitgang enersyds, en die stryd om geregtigheid en bevryding andersyds.

Die verwysing na konteks in die uitdrukking kontekstuele teologie is belangrik, aan-gesien dié teologiese benadering se vertrekpunt in die unieke samelewingsverbande van spesifieke groepe mense lê. Die term konteks word dus hier gebruik as aanduiding van die konkrete sosiohistoriese raamwerk van ’n bepaalde groep. Tegelyk dien die konteks ook as die hermeneutiese raamwerk vir ’n teologie wat relevant is vir die betrokke samelewing in hul omstandighede. Dit is iets heel anders as die bekende Sitz im Leben-ondersoek van die histories-kritiese metode of die sosiaalwetenskaplike eksegese van die laaste paar dekades. Laasgenoemde benaderings fokus daarop om die teks van die Bybel beter te verstaan teen die sosiale agtergrond van die tyd van skrywe, terwyl kontekstuele teologie se vertrekpunt die hede is.

Modelle van kontekstuele teologie
Bevans onderskei ses modelle van kontekstuele teologie:

Die antropologiese model: Dit verwys in die eerste plek na die sosiaal-wetenskaplike dissipline van antropologie, aangesien die benadering fokus op die kulturele identiteit van Christene. Bevans stel die vraag of ’n mens sou praat van Filippynse Christene of Christelike Filippyne, siende dat die twee terme verskillende aspekte van identiteit beklemtoon. Tweedens verwys die term na die Griekse woord anthropos wat beteken mens of die menslike natuur. So verstaan, neem konteks­tuele teologie sy vertrekpunt in die mens en is die Skrif nie meer die maatstaf van teologiese waarheid nie, maar wel die persoon in sy of haar ervaring van menswees. Egte of ware teologie se vertrekpunt is by die konteks en sal dus mense tegemoet­kom in hul konkrete omstandighede. Dit is ’n humanistiese benadering wat kultuur en menslike ervaring as heilig beskou. God se openbaring in Christus is verberg in die kultuur en moet daar gevind en ontgin word. In hierdie model word die agenda van teologie primêr deur die kultuur bepaal, nie deur die Skrif nie.

Die vertalingsmodel: Hierdie model is goed bekend in die vorm van die 1983 Afrikaanse Bybel­vertaling. Die benadering is om die kernwaardes van die evangelie op ’n dina­miese wyse te vertaal sodat die oorspronklike bedoeling daarvan op ’n ekwivalente wyse in die bepaalde kultuur oorgedra word. In hierdie verband speel konteks ’n belangrike rol, veral met verwysing na taal as die primêre uiting van kultuur. Eugene Nida, op wie se vertaalkundige insigte die 1983 Afrikaanse vertaling en die Engelse Good News Bible in ’n groot mate steun, kan beskou word as ’n verteenwoordiger van die vertalingsmodel van kontekstuele teologie. ’n Goeie voorbeeld waarna Nida in sy boek The theory and practice of translation verwys, is die feit dat in sekere kulture net diewe aan huise se deure klop. Eerlike mense roep na mekaar. As Jesus dan sê Ek staan by die deur en klop, moet dit vertaal word met: Ek staan by die deur en roep, om die ekwivalente betekenis weer te gee. Hierdie model, meer as enige ander, maak erns met die evangelieboodskap. Die klem is op Christelike identiteit eerder as kulturele identiteit.

Die praksismodel: Die klem van die praksismodel is op Christelike identiteit in ’n kultuur uit die oogpunt van sosiale verandering. Die woord praksis verwys na die metode wat die model gebruik. Dit begin met ’n analise van die sosiale werklikheid binne ’n konteks of kultuur, gaan oor tot handeling op grond van die bevindinge om die omstandighede te verander, en herhaal dan die proses oor en oor tot die gewenste uitkomste bereik word. Hierdie voortstuwende proses is gewild by teoloë wat hul mense wil bevry van politieke, sosiale of ekonomiese verdrukking, en het bekendheid verwerf onder die vaandel van bevrydingsteologie. Die model soek die uitkomste van die evangelieboodskap van bevryding binne die sosiale werklik­heid en beskou hulle as God se vennote om dit te bewerkstellig. Die uitgangspunt is dat geen teologie neutraal is nie, en elke teologiese uitspraak is ook ’n politieke en ekonomiese uitspraak. Die klem is op teologie as ’n program waar dit nie gaan oor die regte manier van dink nie (ortodoksie), maar oor die regte manier van doen (ortopraksie). Die taak van die teoloog is dié van ’n vroedvrou wat deur organisering geboorte moet gee aan ’n nuwe en beter werklikheid.

Die sintetiese model: Hierdie model is ’n sintese van insigte uit die drie vorige modelle. Dit poog om die verskillende gesigspunte op ’n dialektiese manier met mekaar in gesprek te bring. Dit berus op die insig dat kontekste en kulture onvolledig en onvoltooid is, maar mekaar kan aanvul. God is teenwoordig in die totaliteit van menslike ervaring, nie uitsluitend net in sekere kulture of idees nie. Waarheid word bereik deur dialektiese gesprek en die bereidheid om die ander standpunt aan te hoor as ’n geldige interpretasie wat oorweging verdien. Hierdie model dien die ware universaliteit van die Christelike geloof en bevestig die bestaan van die een heilige, algemene Christelike kerk wat ons bely.

Die semiotiese model: Dié model is die mees uitgebreide van die ses wat hier vermeld word. Dit is ontwikkel deur Robert Schreiter van Chicago en bou voort op die kultuuranalitiese werk van Roland Barthes en Clifford Geertz. Die naam kom van die Griekse woord semeion wat verwys na tekens. Hierdie benadering identifiseer die sleutelsimbole wat kulture kenmerk en van mekaar onderskei. Die teologieë wat rondom die primêre simbole van kultuurgroepe ontwikkel, staan bekend as lokale teologieë wat ’n transformerende impak het op die lokale kultuur. Die model is omvattend en juis daarom ingewikkeld vanweë die veeltal tekens wat verreken moet word.

Die transendentale model: Hierdie model stel ’n nuwe wyse van teologiebeoefening voor. Die uitgangspunt is dat dit nie teologie se opgaaf is om ’n stel “regte” antwoorde te ontdek wat iewers wag om gevind te word nie. Veel eerder moet teologie God se liefdevolle betrokkenheid in mense se lewens na vore bring soos wat dit oral kultureel bepaald is. Die universele van teologie is nie geleë in suprakulturele teologiese formulerings nie, maar in die subjektiewe teologiese proses. Kritiek teen die model is die vlak van abstraksie. Dit is in wese ’n metamodel oor die struktuur van verstaan eerder as bruikbare insigte wat plaaslik aangewend kan word.

Kontekstuele teologie in sy ekstreme vorm is ’n teologie van onder, waar die kollektiewe groep die primêre fokus en inhoud van die teologie word en die teosen­triese karakter van teologie vervang word met ’n benadering wat die mens-in-konteks as uitgangspunt neem. Na my mening verteenwoordig dit ’n oorwaardering en idealisering van die mens en staan dit teenoor die reformatoriese teologie wat sy prima causa in God vind en die Bybel kies as sy primêre brondokument. Om hierdie rede kies ek steeds vir die teologiese tradisie waarin ons staan. Hervormde teologie is teosentries in uitgangspunt en maak erns met die teks as hermeneutiese raamwerk vir die verstaan van God se liefdevolle betrokkenheid by die mens in sy konkrete omstandighede. Dit is ’n keuse vir teologie in konteks eerder as kontekstuele teologie.