Die Hervormer

Die betekenis van die opstandingsverhaal

Die kerk het sewe Sondae toegewys vir nadenke oor die opstanding, want die opstanding is die groot nuus, die unieke van daardie gebeure. Baie mense het gesterf, vele deur kruisiging. Niemand het opgestaan nie, behalwe Jesus. Daarom, sê Paulus, is die opstanding eintlik die kern van die boodskap oor Jesus.

Die inligting wat ons uit die Evangelies kry oor die opstanding van Jesus is teenstrydig. Daar was engele wat eerste berig het van die opstanding toe die vroue die leë graf vind en die doeke waarmee Jesus toegedraai was. Maria het vir Jesus in die tuin gesien, maar Hom nie herken nie; so ook het die dissipels wat visgevang het Hom nie herken nie. Die Emmausgangers het ure lank op die pad saam met Hom gestap, maar Hom nie herken nie. Die dissipels het die berig gehoor, maar wou dit aanvanklik nie glo nie. Tomas wou aan Jesus se wonde vat voor hy sou glo.

Natuurlik kan ’n mens die ongeloof verstaan. Dooie mense word nie weer lewendig nie, dit weet almal. As dit waar moes wees, sou dit alles verander en nuwe moontlikhede open wat vroeër ondenkbaar was. Dit is presies wat die boodskap van Jesus se opstanding bedoel was om te doen. Dit was ’n waterskeiding in die verstaan van God, maar ook in die geskiedenis van die mensdom. Die vreemdheid van die hele saak word bevestig deur die verwarrende berigte en die onbegrip van die dissipels.

Paulus, die vroegste skrywer in die Nuwe Testament, praat nie oor die gebeure van daardie paar dae nie. Hy is meer geïnteresseerd in die teologiese betekenis van die kruisiging en opstan­ding van Jesus. In Romeine 6 praat Paulus oor die doop en die betekenis daarvan. Die doop was die ritueel waardeur mense aangesluit het by die nuwe Christelike beweging. Hulle is simbolies gereinig van hul sonde deur die water van die doop. Paulus verduidelik dit deur die doop te gebruik as illustrasie van hoe radikaal ’n mens se lewe verander as jy in hierdie Jesus-beweging ingetrek word. Dit is soos om te sterf saam met Jesus. Die dood is die onherroeplike afsluiting van ’n bedeling wat Paulus noem die “ou lewe” of die “lewe van die vlees”, dit wil sê, ’n lewe waarin ’n mens net dink aan jou eie belang en gerief. Jy sterf dit af en dit is noodsaaklik dat dit gebeur, want in daardie “ou” toestand kan jy nie deel word van God se huisgesin nie.

Maar daar bly dit nie. Jesus is opgewek uit die dood. Daarmee begin ’n splinternuwe era met nuwe moontlikheide van verwesenliking en vervulling. Op dié manier word Jesus se dood en opstanding die waterskeiding in geloof en werklikheid. Met ander woorde, dit is wel ’n geestelike saak, maar nie ’n vergeestelikte saak asof alles net in die gemoed afspeel nie. Die werklikheid verander ook. Mense tree nuut op. Hulle steek die hand na mekaar uit en verleen hulp op geestelike én materiële gebied. Ons sê nie meer net vir mekaar Gaan heen en word warm of versadig nie; nee, ons gee kos, klere en komberse, ons praat moed in, ons troos waar dit nodig is, en ons deel in die vreugde van iemand wat die redding van die Here in sy of haar lewe ervaar het.

Paulus sê: Onthou dat julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Julle kan nie meer deel wees van die ongeregtigheid in die wêreld nie. Julle het geleer van nuwe moontlikhede.

Die kerk het sewe Sondae toegewys vir nadenke oor die opstanding, want die opstanding is die groot nuus, die unieke van daardie gebeure. Baie mense het gesterf, vele deur kruisiging. Niemand het opgestaan nie, behalwe Jesus. Daarom, sê Paulus, is die opstanding eintlik die kern van die boodskap oor Jesus. In 1 Korintiërs 15: 14 stel hy dit so: As Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging tevergeefs en jul geloof ook tevergeefs.

Die opstanding het nuwe begrip gebring van waartoe God in staat is. Almal weet immers dat die dood finaal is. Dit is die groot donker waarin ons gestort word wanneer ons lewe hier op aarde verby is. Maar die verhaal van die opstanding sê nee, dit is nie so nie. Die dood is nie ’n plek of ’n mag wat ’n mens insluk en waaruit jy nooit weer kom nie. Die Here het mag oor die dood. Jesus se opstanding sê: Daar is geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping wat ons kan skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Die opstanding laat die ganse mensdom in verwondering; so iets is net by God moontlik. God doen dit vir my en jou. Die verhaal van Jesus se opstanding is nie net iets vaags buite ons nie; dit gryp in ons bestaan in en verseker ons dat die nuwe moontlikhede wat deur die verhaal van die opstanding geopen word, ook geld vir elkeen van ons. Dit het praktiese gevolge. Ons lewe word gevul met nuwe begrip en inhoud, en kry ’n nuwe karakter. Dit vertoon die liefde en genade en deernis en vrede wat ons by God vind en deurgee na ander mense toe. Die klein dingetjies maak saak en gee vreugde te midde van al die kommer en swaar van die lewe. Ja, ons lewe kry ’n gewig en kwaliteit wat dit nooit gehad het nie, want God sonder ons uit.

Daarom gee ons in die opstandingstyd aandag aan temas wat verband hou met die nuwe perspektief wat hierdie boodskap in ons lewe bring. Die opstanding verander nie net die hede nie – dit verander ook die verlede. Dit verander die manier waarop ons die toekoms sien, asook ons medemens; dit verander die verstaan van ons taak en roeping, en dit maak verwagting en hoop in ons wakker.
Die verhaal van die opstanding het te doen met die energie waarvan jy deel word wanneer jy verstaan dat selfs die heel grootste grens, naamlik die dood, jou wel skei van die lewe, maar nooit van God nie. Nou kan ons storie oor die verlede ook verander, want ons sien God se hand wat nooit wyk nie. Ons sien ruimte om nuut te begin, asof ons weer gebore word. Ons sien nou – die storie van ons lewe is ’n storie van ons pad saam met God. Hy maak ons vry om voluit te kan lewe.