Die Hervormer

Wat leer predikante op universiteit oor dissipelskap?

Die vraag na wat dominees op universiteit aangaande dissipelskap leer, is moeilik om te beantwoord, omdat die begrip in feitlik elke veld van die teologie ’n rol speel. Ons vind die begrip dissipelskap in die Ou en in die Nuwe Testament. Die tema het ook implikasies vir Praktiese Teologie, Sendingwetenskap en Sistematiese Teologie.

Studente kom egter die heel eerste keer in aanraking met die begrip wanneer hulle begin om die Nuwe Testament op ’n wetenskaplike wyse te bestudeer met die oog op resultate wat bevorderlik sal wees vir die geloof en die kerk.

dreyerOmdat die veld so groot is, gaan ek dissipelskap slegs vanuit ’n Nuwe-Testamentiese oogpunt bespreek.

Die begrip dissipelskapDie begrippe dissipel en dissipelskap word byna 350 keer in die Nuwe Testament gebruik. Gevolglik is dit ook nie vreemd nie dat die begrippe baie in ons kerktaal en teologie gebruik word. Vra jy egter vir die deursneegelowige, of selfs teoloog, wat die term beteken, is die kans goed dat jy uiteenlopende antwoorde sal kry.

Kyk ons na die grondteks, naamlik Grieks, sien ons dat die term dissipel deurgaans in die Nuwe Testament verwys na ’n noue verbintenis met Jesus. Dissipelskap beteken weer om agter iemand aan te loop of om te volg. Dissipelskap kan egter nie net vanuit ’n semantiese hoek bestudeer word nie. Om ’n geheelbeeld van dissipelskap te vorm, moet dit ook vanuit ’n sosio-kulturele oogpunt benader word.

Sosio-kulturele agtergrond
Mense in die tyd van die Nuwe Testament is nooit as losstaande individue beskou nie. Hulle is meestal geassosieer met hul families, gemeenskappe en tuisdorpe. Juis om dié rede word na Jesus verwys as Jesus van Nasaret, die Seun van Josef. Net so was ’n persoon se stam of groep van groot belang. Paulus is hierin weer vir ons ’n goeie voorbeeld. In verskeie van sy briewe plaas hy klem op sy Israelitiese afstamming.
Die vraag wat ontstaan, is hoe ’n persoon deel word van so ’n groep. Daar was verskeie maniere, waarvan die volgende die belangrikste is:

  • ’n Persoon het deel geword van ’n familie of groep deur geboorte. Dat ’n persoon se ouers deel was van ’n sekere stam of groep, beteken dat die kind per implikasie deel is van daardie groep.
  • Persone kon ook deel word van ’n familie of ’n groep deurdat hulle aangeneem is. Paulus gebruik die beeld in Romeine 8: 23 om vir die gemeente te verduidelik hoe God hulle aanneem en deel maak van sy familie – die huisgesin van God. Deurdat hulle deel word van God se huisgesin, deur Jesus Christus, kry hulle ook terselfdertyd die status en regte wat ’n kind van God toekom.
  • ’n Verdere wyse waarop mense deel kon word van ’n familie of groep, was deur die huwelik.

Nog ’n manier waarop ’n mens deel kon word van ’n groep, wat veral van toepassing is op dissipelskap, was deurdat jy uitgenooi was. In dié geval was dit kernbelangrik dat die persoon aanvaar is deur die groep, en veral deur die leier van die groep. Die woorde van Jesus in Matteus 4: 19; 9: 9; 11: 28; 19: 21 bevat almal uitnodigings om Hom te volg (dissipels van Hom te word). Die teenoorgestelde was ook waar. In Matteus 8: 19-22 en Lukas 9: 57-62 vind ons mense wat aansoek doen om deel te word van Jesus se groep.

Indien ’n persoon die uitnodiging aanvaar, soos in Petrus en Andreas se geval by die see van Galilea, of toegelaat is om by die groep aan te sluit, moes die persoon bereid wees om die gepaardgaande groepsverantwoordelikhede na te kom. As groeplid is daar ook van die persoon verwag om in ooreenstemming met die vereistes van die groep op te tree en die karaktereienskappe van die groep ten toon te stel.

Eienskappe van ’n volgeling van Jesus
Indien ’n persoon deel was van ’n familie, gemeenskap of stam in die tyd van die Nuwe Testament, is van daardie persoon verwag om op ’n spesifieke manier te lewe en op te tree. So was dit ook in die geval van Jesus se groep, of sy dissipelkring. Die verwagtinge en vereistes om ’n dissipel van Jesus te wees en te word, is net so van toepassing op ons as gelowiges en op die kerk in sy geheel.

Ons kyk kortliks na van die karaktereienskappe van ’n volgeling van Jesus:

  • ’n Dissipel is getrou aan die Woord van God. Jesus sê aan sy dissipels in Johannes 8: 31-32 dat hulle waarlik sy dissipels is indien hulle getrou bly aan sy woorde. Dan sal hulle die waarheid ken, en die waarheid sal hulle vry maak.
  • ’n Dissipel van Jesus moet sy kruis opneem. In Lukas 9: 23 sê Jesus dat dié wat Hom wil volg, elke dag hul kruis moet dra.
  • Dié wat hul kruis opneem, aanvaar ook per implikasie die wil van Jesus en terselfdertyd ook van die Vader. Wanneer jy jou kruis opneem en jouself in die proses verloën, plaas jy nie meer jouself eerste nie, maar Jesus en die groep (huisgesin van God).
  • ’n Persoon wat agter Jesus aanloop, sluit by God se sending aan. Matteus 28 stel dit baie duidelik. Jesus se volgelinge moet weer op hul beurt uitgaan na die wêreld en die mense dissipels van Jesus maak deur hulle te doop en sy wil te leer.
  • Die eienskap wat sekerlik ’n dissipel van Jesus die beste karakteriseer, is die liefde. ’n Volgeling van Jesus moet in die eerste plek liefde aan God betoon, en in die tweede plek liefde aan sy medemens. Wat so aangrypend is van die liefde, is dat dit oor grense strek. Tradisioneel het jy slegs liefde aan jou eie groep of stam bewys. Jesus se volgelinge moet egter nie net aan hul eie mense liefde betoon nie, maar ook aan elkeen wat hul pad kruis. Daarom vertel Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Aan dié wat bereid is om ’n volgeling van Jesus te word en hul kruis op te neem, hulself te verloën en een met Jesus te word, word die belofte gegee: Hulle sal nie meer laaste wees nie, maar eerste. Hulle wat afgesien het van huis en kinders in die lewe, sal baie meer kry in die lewe wat kom, die ewige lewe (Luk 18: 29-30). Hulle wat alles ter wille van Jesus agtergelaat het, sal eendag langs Jesus op trone sit (Matt 19: 28).

Hoe baat die kerk by hierdie kennis?
Hoe baat die kerk as geheel by die studieveld wat fokus op dissipelskap? Deurdat studente blootgestel word aan die antieke tale en ’n wetenskaplike benadering tot teksinterpretasie, is hulle in staat, deur die Gees, om die Woord van God op ’n verantwoordbare wyse te ontsluit. Indien ’n student nie oor die agtergrond beskik nie, sal hy of sy nie in staat wees om temas soos dissipelskap op ’n verantwoordelike manier te ondersoek en te bestudeer nie. Terselfdertyd sal ’n jong predikant nie in staat wees om die ryke boodskap oor te dra aan gemeentes regoor Suid-Afrika nie.