Die Hervormer

Ons mitologiese bestaan

Dit kom voor asof mense nie kan bestaan sonder mites nie. Daar is ’n direkte verband tussen die sinvolheid van lewe en die reikwydte en diepte van die lokale mitologie. Selfs rasionele denke word dikwels oorwoeker deur mitologiese aannames.

Waarom is dit dat mense wat soek na vaste grond vir hul lewe dikwels die logiese bevindinge en feite van die alledaagse lewe verontagsaam en hulle eerder verlaat op die mites uit die verre verlede?

Hierdie vraag van die groot mitoloog Joseph Campbell kan met ’n paar stellings weergegee word:
Daar is ’n onderskeid tussen rasionele denke en mitologiese bewussyn.
Die mens se ervaring van die volheid van die lewe hou verband met sy lokale mitologie eerder as met sy rasionaliteit.
Die oorsprong van mites kan toegeskryf word aan die onpeilbare verbeelding.
Universele en lokale mitologie kan van mekaar onderskei word, waar omgewingsmites ’n eiesoortige omvorming en rangskikking van die universele mites verteenwoordig.
Die rol van mites dra daartoe by dat mense voorkeur verleen aan hul eie religieuse insigte en gode, dikwels met die gevolg van onverdraagsaamheid teenoor andersoortige of kompeterende oortuigings en gode.

Waarom gebeur dit? Mense glo eerder die mites as die feite. Is dit reg om mites te verstaan as draers van dieper of groter waarhede, terwyl feite oor die hoof gesien kan word? Miskien is dit nie die mites as sodanig wat betekenis verskaf nie, maar die narratiewe struktuur daarvan wat ooreenkom met die narratiewe kwaliteit van ’n gewone mens se lewe. Anders gestel: Die volgehoue inwerking van die mitologiese interpretasie van die werklikheid het meer te doen met strukture wat betekenis genereer as met die stories self.

Die probleem
Sedert die vroegste tye luister kinders grootoog wanneer stories vertel word van groot kragte en figure wat die mens, sy omgewing en selfs die heelal beïnvloed en manipuleer. Hulle word deur die verhale verplaas na ’n metavlak van die werklikheid waar hulle “waarhede” inneem oor die bewegende beginsels in die lewe, naamlik die heilige en die bose, veiligheid en gevaar, wet en oortreding, wysheid en dwaasheid, lewe en dood, regte en verpligtinge, en so meer. Sekere teorieë oor mites berus op die aanname dat mense deel het aan ’n kollektiewe onbewuste wat hulle eenders maak op dieselfde manier as waarop die menslike liggaam eenders is. Dit sou ’n verklaring kon bied vir die verstommende ooreenkomste in die soorte mites en selfs in individuele mites dwarsdeur die wêreld.

Daar is wel verskille ook tussen die mitologieë van verskillende nasies, stamme en geografiese streke. Soms is die verskille oppervlakkig en weerspieël dit omgewingsfaktore. In ander gevalle is die verskille so grondig dat dit selfs as opponerend beskou kan word in die filosofiese en kulturele benadering tot die lewe. Groot debatte is al gevoer oor die vraag of die gedragsverskille tussen groter groepe mense, soos etniese of rassegroepe en kulture, toe te skryf is aan biologiese, psigologiese, sosiale of religieuse kragte. Benewens kulturele verskille en bevooroordeeldheid ten opsigte van geslagsrolle, is daar verborge en onbewuste gedragspatrone wat geaktiveer kan word deur oppervlakkige oorsake. ’n Behoorlike analise en verstaan van mitologie kan bydra om sulke verskynsels beter te begryp.

Vandag het ons ’n kritiese interpretasie van mites. Dit is die gevolg van die geskrifte van kerkvaders soos Eusebius, Hippolytus, Irenaeus en Augustinus, waarin die Griekse mites baie negatief beoordeel word. Hul bedoeling was om die heidense godsdienste te diskrediteer. Dit is tipies van nuwe godsdienste om so op te tree. Die nuwe openbaring soos verteenwoordig in die persoon van Jesus van Nasaret het die devaluering van die ou godsdienste genoodsaak. Dit sluit die Griekse gode in, sowel as hul kultus, mites, en so meer, asook die aanvaarding van nuwe mites, sakramente (kultiese rituele) en ’n nuwe lewe met ’n nuwe moraliteit.

Literêr teenoor letterlik
Ons moet in gedagte hou dat daar ’n verskil is tussen literêr en letterlik. Kategorieë soos vers, prosa, genre, stylfigure, vergelykings, metafore, gelykenisse, mites en narratief is literêre konsepte. Dit beteken dat hulle tuishoort in die dissipline van literêre kritiek, want hulle is samestellende elemente van die skryfkuns met die oogmerk van kommunikasie. Letterlik, aan die ander kant, verwys na ’n wyse van interpretasie. Die letterlike interpretasie van ’n teks aanvaar dit as vanselfsprekend dat die teks sê wat dit sê, met ander woorde, dat die betekenis voor die hand liggend is vir enigeen wat kan lees. Fundamentalistiese lesers van religieuse tekste is geneig tot ’n letterlike interpretasie, want die leser aanvaar vooraf dat die teks die feitelike waarheid weergee. Die dwaling wat inherent is aan so ’n letterlike lees, is dat eksterne oortuigings, vrese en dogmas op die teks toegepas word sonder om die aard van die teks in ag te neem.

Figuurlike taal moet en mag nie letterlik geïnterpreteer word nie, want dit verontagsaam en weerspreek die bedoeling van sulke taal. Dinge bly nie geldig net omdat dit in die Bybel staan nie. Sekere voorstellings en simbole verloor hul betekenis en geldigheid met verloop van tyd. Sulke simbole dra later nie meer die waarde van heiligheid oor nie. In werklikheid kan hulle struikelblokke word vir egte geloofservarings, en moet daarom laat vaar word. Hiervan gee die Bybel self aanduiding in oproepe om die ou gode te laat vaar ten gunste van die nuwe (Rig 24), of om die ou verstaan van dinge te vervang met nuwe insigte (byvoorbeeld Jesus se uitspraak oor die vas).