Die Hervormer

Wat is ware geloof?

Antwoord 21 van die Heidelbergse Kategismus lui: ʼn Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het. Aan die hand van verskeie bydraes van Gerhard Ebeling word hier verder oor geloof besin.

Geloof is nie net ’n menslike idee of ’n moontlikheid nie, maar ’n gegewenheid. Geloof is nie ’n subjektiewe veronderstelling van mense wat oor geloof nadink of rekenskap daarvan gee nie, maar ’n gegewenheid wat nie ontken kan word nie en veral as godsdienstige fenomeen uitdrukking vind. Geloof is in alle gevalle waar dit ter sprake kom ’n aantoonbare verskynsel van die lewe – dan egter nie net as ’n fenomeen wat op die lewe betrekking het nie, maar ook as dié een wat aanspraak maak om aan die lig te bring wat ware lewe eintlik behels. Geloof gaan oor niks anders nie as die werklikheid self. Wie rekenskap van geloof wil gee, moet daarom die verband tussen geloof en lewe deurlopend in die oog hou. Geloof kan egter eers met betrekking tot die lewe bespreek word, wanneer uitgeklaar is wat geloof beteken.

Wanneer ons die fenomeen geloof wil beskryf, moet ons liefs nie ons vertrekpunt neem by die godsdienswetenskap nie, maar eerder in die Christelike geloof. Hierdie benadering word nie gekies as gevolg van enige vooroordeel ten gunste van die Christendom teenoor ander godsdienste nie, maar as gevolg van spesifieke historiese en taalverwante sake wat verband hou met die fenomeen.

In die Bybel
Die gebruik van die begrip geloof as ’n welbekende term in godsdienstige taal het bepaalde historiese wortels wat in die Ou Testament terug te vind is. In die Ou Testament het die begrip egter nog nie ’n prominente rol gespeel nie. Die vroegste gebruik daarvan vind ons in Jesaja 7: 9 (Glo julle nie, sal julle nie voortbestaan nie) en Genesis 15: 6 (Abraham het die Here geglo en Hy het hom dit as geregtigheid toegereken). Geloof beteken in hierdie gevalle dat die gelowiges op die Betroubare vertrou.

Hoewel die gebruiksfrekwensie van die Griekse begrippe pisteuein (om te glo) en pistis (geloof) toegeneem het in die Griekssprekende Jodedom van die Diaspora, word dit eers in die Nuwe Testament as die vernaamste verhoudingsbegrippe met betrekking tot God gebruik. Dit word daar gebruik om uitdrukking te gee aan die volgelinge van Jesus se verhouding met Hom (en by implikasie met sy Vader). Mettertyd speel die begrip so ’n belangrike rol dat daar eenvoudig na die Christene as gelowiges verwys word.

Dit is van belang dat, sintakties gesien, die voorsetselverbinding glo aan of letterlik glo in vir die eerste keer in die Nuwe Testament gebruik word. Voorheen was die begrip geloof net gebruik om aan te dui dat iemand geglo is of dat iets geglo is, of ’n kombinasie van dié twee gedagtes. Uit die tydperk voor die Nuwe Testament vind ons nie enige voorbeelde van die uitsluitlike oriëntering van die geloof aan ’n menslike persoon nie. Dieselfde geld ook vir die genitiefverbinding (genitivus objectivus) van die begrip geloof met die Naam Jesus Christus. Wanneer die geloofsbegrip in ’n absolute sin gebruik word, is die betrekking daarvan op Jesus Christus altyd ’n veronderstelling. In die Nuwe Testament word geloof op so ’n wyse in die sentrum geplaas dat dit die wese van die Christelike lewe uitmaak. Die geloof word voortdurend op Jesus gerig, omdat dit deur Hom gewek is en deur Hom in stand gehou word (Gal 3: 23 en 25). Jesus is nie alleen die onderwerp van geloof nie, maar ook die bron en die grond daarvan. Volgens Hebreërs 12: 2 is Jesus die Grondlegger en die Voleinder van die geloof.

Geloof het reg deur die geskiedenis van die kerk ’n dominante begrip gebly. In ekstreme gevalle was gelowiges bereid om in die naam van geloof ’n marteldood te sterf. Hoewel geloof in die Nuwe Testament feitlik uitsluitlik op Jesus betrekking het, vind daar met verloop van tyd ’n trinitariese klemverskuiwing ten opsigte van geloofsverstaan in die kerk plaas, sodat geloof later verstaan word as geloof aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees, of gewoon as geloof in God. Hierdie verskuiwing bring inderwaarheid geen saaklike verandering teweeg nie, omdat geloof in Jesus Christus in die Nuwe Testament eo ipso betrekking het op die gelowiges se verhouding met God. Deur Jesus word God ervaar.

Belydenis van geloof
Elke gelowige moet self glo en iemand anders kan nie, wanneer dit by geloof kom, vir die gelowige intree nie. ’n Mens kan net self bely: credo (ek glo). Geloof en die belydenis daarvan hoort onlosmaaklik saam. Die feit dat elke gelowige self glo, staan nie in teenspraak met die feit dat hy of sy saam met ander gelowiges as lid van die kerk glo nie. Wie credo bely, kan ook saam met die kerk credimus (ons glo) bely. Selfs wanneer geloof tot fides quae creditur (die geloofsinhoud, wat geglo word) geobjektiveer word, kan dit steeds nie losgemaak word van fides quae credit (die geloofsdaad, om te glo) nie. Dat die individu self glo en self geloof bely, beteken nie dat geloof die prestasie van die mens is nie, want geloof word deur die mens as die ontvanger daarvan bely. Geloof is nie menslike werk nie, maar geskenkte genade van God wat deur mense ontvang word.

Geloofsuitsprake het iets te sê. Geloof kom primêr deur die hoor van die Woord tot stand en dit leef uit die toegespreekte Woord, met die gevolg dat die gelowige hom of haar verlaat op die Woord wat hom of haar aanspreek. Geloof as verhouding met God het altyd betrekking op die Woord wat die gelowige aanspreek. Jesus Christus is die grond van ons geloof omdat Hy as God se Woord in persoon geglo word. Ons staan egter nie in ’n onbemiddelde persoonlike verhouding met Jesus nie, maar in ’n verhouding wat altyd deur Christelike getuienis bemiddel word. Geloof ontstaan uit die Woord en is daarom antwoord op die Woord. Die Woord wat ons provokeer om te glo, is egter ook reeds ’n geloofsuitspraak in die dubbele sin van die woord, naamlik as Woord wat geloof ten doel stel en as Woord wat in geloof gespreek word.

Geloof bied lewe aan elke gelowige. Geloofsuitsprake is daarom nie die blote mededeling van kennis of inligting nie, maar woorde wat die mens se lewensituasie ingrypend verander. Die Woord wat ’n mens provokeer om te glo, vra om ’n beslissende antwoord, want dit handel oor die lewensbeslissende saak, die heil van die mens. Die Woord stel jou voor die alternatiewe van verlore wees of aangeneem word, van lewe in sonde of lewe deur genade, van duisternis of lig, van dood of lewe. Die Woord het heilsgewende relevansie, want die Woord verkondig nie ’n doodsklagte nie, maar opstandingsvreugde.