Die Hervormer

Wat dan van my?

Teologie is die perspektiewe wat mense het op God, die openbaring, geloof en die betekenis daarvan vir die lewe. Die vereistes wat aan gegronde teologiese navorsing gestel word, is dieselfde as vir enige ander wetenskaplike navorsing wat aan ’n universiteit gedoen word. In hierdie opsig is teologie dus ’n wetenskap.

Daarmee is alles egter nie gesê nie. Kerklike teologie, om meer spesifiek te wees, dien die geloof wat die hartklop van die kerk is. Geloof is nie ’n wetenskaplike saak nie. Dit hou verband met die soeke na betekenis in die eb en vloed van die lewe. Dit is vertroue op God as die Gans Andere wat tog intiem by die lewensgang van elke gelowige betrokke is.

Ons het onlangs kennis geneem van die ontdekking van Homo naledi, ’n vroeë vertakking in die genus waarin ons as Homo sapiens ook pas. Terwyl daar nog baie onsekerheid oor die spesie is, onder andere die datering daarvan, is die moontlikheid dat hulle hul dooies ter ruste gelê het, van uiterste belang. Om jou dooies te vereer, te versorg en ter ruste te lê, veronderstel naamlik ’n gedagte oor lewe na die dood. Argeoloë sal tipies, wanneer grafte ondersoek word, soek na artikels wat saam met die dooie begrawe is, byvoorbeeld kos, wapens, geskrifte, troeteldiere, slawe, werktuie en so meer. Daaruit lei hulle af watter voorstellings daar in die vroeë tyd was oor hoe die lewe hierna sou lyk, wat daar te doen is, en so meer.

Vir die antieke Egiptenaars, byvoorbeeld, was die lewe na die dood baie belangrik. Daar is ’n geskrif uit daardie tyd wat bekendstaan as die Boek van die Dood waarin talle oortuigings en gebruike beskryf word. Een van hierdie rituele was die seremonie van die weeg van die hart wanneer iemand dood is. Die simbool van die Egiptiese godin van geregtigheid, Ma’át, was ’n veer. As ’n persoon sterf, word die hart tydens ’n seremonie in die hiernamaals geweeg op ’n skaal met die veer van Ma’át as teengewig. Indien die hart swaarder weeg as die veer, is dit ’n aanduiding dat die persoon ’n lewe van selfsug geleef het, en dus in die hierna­maals ongelukkig sal wees. (Gaan na Google en tik in weighing of the heart om meer hieroor te lees.)

Glo en doen
Alle gelowe het twee vaste komponente: dit wat geglo word, en dit wat gedoen word. Ons kan dit ook noem geloof en etiese gedrag wat daarmee in lyn is. Ons hou dit in stand en bevestig dit trouens elke Sondag met die belydenis as samevatting van geloof en die wet van God as riglyn vir gedrag. Ons ken dit baie goed – dit is ’n integrale deel van ons opvoeding, gemeenskapslewe en geloofslewe. Maar daar is ’n probleem daarmee. Dit kom in die vorm van ’n skema.

Wat moet jy glo? Punt een, twee, drie tot twaalf, om die Twaalf Artikels of Apostolicum as die samevatting van geloof te neem. Hoe moet jy leef? Punt een, twee, drie tot tien, om die tien gebooie as riglyn vir die lewe te neem. Maar geloof kan tog nie net ’n skema wees nie. Dit kan nie iets wees wat jy leer en opsê nie. Geloof het te doen met die lewe. Dit is iets wat jy ervaar, wat deel is van jou wese.

Om gelukkig te wees
Een van die mens se grootste ideale in die lewe is om gelukkig te wees. Het jy al vir jouself probeer uitmaak wat geluk is? Wat sal dit vat om jou gelukkig te maak? Ek is seker ons kan almal doen met ’n miljoen. Maar sal dit blywende geluk verseker, elke dag, ons hele lewe lank? Die antwoord is nee.

Die verhaal van Hanna in die boek Samuel is aan ons almal bekend. Dit gaan oor die vrou van Elkana wat nie kinders kon hê nie. In daardie tyd en kultuur was die vrou die een wat oorlewing vir die stam en volk verseker het deur kinders in die lewe te bring. Kinders was ’n belangrike skakel in die ekonomie – hulle kon werk en help verdien. Hulle het die getalle van die familie versterk. Hulle kon help verdedig en veg as dit nodig was. Kinders was ’n bate; hulle was rykdom. ’n Vrou wat kinderloos was, is geag dat sy geen waarde het nie en geen bydrae lewer nie. Daarom kon ’n man ’n tweede vrou neem om kinders by te hê.

Sara het haar slavin vir Abraham gegee as vrou sodat sy vir hom kinders in die wêreld kon bring, omdat sy kinderloos was. Dit is ook wat gebeur het met Hanna. Sy het haar man gedeel met ’n tweede vrou, Peninna, en dié het kinders gehad. Peninna het Hanna gespot omdat sy nie kinders het nie. Elkana was lief vir Hanna en het dit gewys. Miskien het dit juis vir Peninna meer afgunstig op Hanna gemaak. So het Hanna in haarself al hoe meer ongelukkig geraak. Sy het gevoel sy is niks werd nie. Sy voldoen nie aan die verwagtinge wat aan ’n vrou gestel is nie; sy dra niks by tot die familie nie. Dit het haar verhouding met haar man vertroebel en sy het geen sin in die lewe gesien nie. Wat sy het en is, het sy gevoel, plaas geluk buite haar bereik. Haar lewe was vir haar een stuk smart.

Toe hulle ’n keer na die heiligdom in Silo gaan om offers aan die Here te bring, het Hanna in die tempel gaan bid. Sy het gevra vir ’n kind. Maar dit was in wese veel meer as dit. Sy het gepleit dat die Here betekenis aan haar lewe moet gee. Want sy weet dit is nie wat sy is of het wat haar gelukkig sal maak nie. Selfs nie ’n kind nie. Dit is dat die Here aan haar as mens erkenning gee; dat sy deur God self aangeraak mag word en met Hom in ’n lewende verhouding mag staan. Daarom beloof sy ook dadelik om die kind aan die Here te skenk. Voor sy nog die kind het, doen sy al van hom afstand.

Dit is ’n fyn stukkie teologie wat ons hier in die eerste hoofstukke van Samuel het. Dit is nie maar net ’n storie oor ’n kinderlose vrou wat gebid het, en toe ’n kind gekry het in antwoord op haar versoek nie. Dit het te doen met die smagting van ’n mens om te weet wat jy hier maak; om te verneem dat jou lewe iets beteken. As God haar gebed verhoor, jubel sy ’n lofsang uit waarin sy God groot maak en sy lof besing. Natuurlik gaan dit oor die kind wat die Here vir haar gee, maar die kind is eintlik ’n teken van God se sorg oor haar as mens. Hy kom haar tegemoet in haar soeke na sinvolheid en geluk.

’n Lewende verhouding met God
Die verhaal van Hanna is aangrypend. Dit getuig daarvan dat geluk niks te doen het met wat jy het, wie jy is of wat jy vermag nie. Dít is nie wat die lewe sinvol maak nie. Nee, dit gaan oor die lewende verhouding met God. Die gesprek, die lewensverbintenis, die afwagting, die hoop, die vertroue en die sekerheid dat my lewe nie toeval is nie; dat ek nie wegraak in ’n see van onbelangrikheid nie; dat my lyding en hartseer nie ongesiens verbygaan nie.

Geluk is om deur God geantwoord te word. Dan weet ek – my hartseer en vreugde in die lewe is deel van ’n groter verhaal waarin die Here elke tree met my saamstap, want Hy ken my naam. As ek dit besef, kan ek sing soos Hanna.

Mag die fyn stukkie teologie in Samuel elke gelowige in hierdie Kersgety opnuut tot die besef bring: Ek is vir God belangrik. Hy ontferm Hom oor my.