Die Hervormer

Die heilige koepel

Nee, die titel verwys nie na die Sistynse Kapel nie. Ook nie na die blou hemel bedags of die gewelf vol flonkerende sterre snags nie.

Dit verwys na ’n term wat die sosioloog Peter Berger gebruik wanneer hy verduidelik hoe mense hul lewe verskans teen chaos en willekeur deur die konstruksie van ’n denkbeeldige koepel wat deur God self onderskryf en in stand gehou word. Hierdie gestruktureerde ruimte, wat Berger aanvanklik ’n simboliese universum en later ’n heilige koepel noem, is iets wat mense skep om die verskillende instellings van die samelewing te integreer en te legitimeer deur die bestaan en orde daarvan te begrond in God. Baie eenvoudig gestel, beteken dit dat mense hul leefruimte bestendig met ʼn stelling wat só kan lui: God het die wêreld gemaak soos dit is, daarom moet almal dit so aanvaar en onderhou.

Tot sowat 30 jaar gelede was dit die algemene model waarvolgens dinge gefunksioneer het. Die sosiale instelling van die familie het ’n hoë waarde gehad, so ook die kultuur, godsdiens en kerk. Ander belangrike entiteite soos die reg, ekonomie en politiek is erken, maar het hul “plek” gehad. Die onderskeid tussen reg en verkeerd op elkeen van die terreine was miskien nêrens uitgespel nie, maar dit was bekend op die manier van “almal weet mos hoe dit werk”. Die stelsel is soms bevraag­teken deur mense of omstandighede, en dan was daar ’n reeks konseptu­ele meganismes wat gebruik kon word om stabiliteit te herstel. Die bekendste hiervan was mites, teologie, filosofie en weten­skap. Dit beteken gewoon dat ’n vorm van denkkontrole toegepas is waarvolgens die “korrekte” verstaan van die samelewing “herstel” is.

Teen die einde van die vorige eeu het alles dramaties en snel verander. Die politieke verande­ringe en verskuiwing van die magsbasis het die bekende orde en funksionering van die samelewing drasties omvorm en een ding baie duidelik gemaak, naamlik dat die orde nie so vas en onaantasbaar was as wat mense gedink het nie. Dit het die vraag na reg en verkeerd opnuut onder die aandag gebring, en nou was daar veel minder pasklaar antwoorde. Die status quo is uitgedaag en omgekeer, en tot nou toe ontvang ons daagliks berig van hoe die bekende waardes en sekerhede van vroeër ondermyn en ongeldig gemaak word. Wat veral van belang is vir die kerk, is dat die omvang en tempo van die sosiopolitieke veranderings mense se siening van die heilige koepel so ontwrig het dat die kerk se rol as handhawer van die status quo deursigtig geword het, binne én buite die kerk. Die kerk is gekonfronteer met sy eie onvermoë om die kritiese werking van die evangelie in die samelewing op homself toe te pas, en met sy onmag om lidmate profeties voor te gaan in die nastreef van geregtigheid vir almal. Selfs God se plek en rol in die proses moes herbedink en nuut gedefinieer word. Trouens, dié proses is nog lank nie afgehandel nie. Intussen het talle lidmate vertroue verloor en die kerk verlaat.

Lidmate het ’n mening
’n Russiese taalkundige met die naam Vladimir Propp het ’n studie gemaak van volksverhale en bevind dat al sulke verhale ’n onderliggende struktuur bevat wat deurgaans dieselfde bly, al ver­ander die karakters. Daar is die held of heldin, dikwels ’n prins of prinses. Dan is daar die hoofteenstander – die stiefma by Sneeuwitjie of die reus by Jan en die boontjierank. Elkeen van die hoofkarakters het helpers. In die stryd tussen die held en die teenstander is dit gewoonlik die held(in) wat oorwin, trou met die prins(es) en vir ewig gelukkig saam woon. Die funksie van hierdie struktuur is om kinders te leer om waaksaam te wees, mense en situasies te beoordeel, dapper te wees en uiteindelik te oorwin. Rooikappie se ongehoorsaamheid maak dat sy die slagoffer word van die nare wolf en uiteindelik gered moet word deur die houtkapper. So leer kinders deur stories om na hul ouers te luister en gevare te vermy.

In die Bybel kry ons verhale met ’n soortgelyke struktuur. Die verhaal van Noag en die vloed is ’n goeie voorbeeld. Die dramatiese dekor van die verhaal is die skeppingsgebeure waar God die hemel en die aarde gemaak het. Alles was woes en leeg, en die Gees van God het op die waters gesweef – so begin die verhaal. Dan begin God nuwe dinge skep, en Hy doen dit in afgemete tye en kategorieë. Hy maak alles aan die kant. Hy skep die mens en stel hulle aan om te heers oor die skepping. Hy maak hulle nie robotte wat geprogrammeer is nie. Hy skep hulle na sy beeld, met die vermoë om te kan kies, om skeppend om te gaan met die natuur en mekaar. Hulle kry die vryheid van denke en keuse, met die opdrag om dit aan te wend in die bestuur van hierdie skepping. Dit is egter juis die vermoë om te kies wat die mens se val veroorsaak. Verleiding kom in die vorm van selfsug en eie­belang, aangewakker deur begeerte. Die influistering van die slang sê: Handhaaf jouself teenoor God. Jy het Hom nie nodig nie. Jy kan baas wees van jou eie lewe. Sny vir God uit. Waarom sal jy jou aan Hom steur? Hy verhoed dat jy jou volle potensiaal bereik!

Dit is ironies dat ons nou begin verstaan dat die manipulasie van God in sosiale maar ook teologiese konstruksies in wese beteken dat jy God ontmagtig en Hom uit die prentjie van jou lewe uithaal. Dit gaan nie daaroor dat jy ’n heilige koepel het nie. Dit is menslik om so ’n raamwerk vir jou lewe te aanvaar. Dit gaan wel oor die manier waarop jy daardie heilige koepel konstrueer en verstaan. As God net ’n buikspreekpop in jou heilige koepel is, het jy God tot swye gebring. Dan is die dinamiese krag van ’n lewende verhou­ding met God onmoontlik. Die gevolg daarvan is geestelike vereensaming en spirituele verskrom­peling.

Lidmate moet ook nie alte hooghartig wees in hul kritiek teen die kerk nie. Ja, daar is kerkleiers en hulle moet weet om fyner te luister en meer profeties te dink en te praat in diens van God se geregtigheid. Daardie les is hopelik geleer. Die essensie van die kerk is egter nie geleë in die amp­telike strukture nie. Lidmate het self ook ’n mening. Dit is die verant­woordelikheid van elke mens wat ooit die wonder en aangrype van ’n lewende verhouding met God ervaar het om aan hul geloof, hul betrokkenheid by die kerk en hul dienswerk in die samelewing vlerke te gee deur te vra en te luister na die roepstem van die Goeie Herder.