Die Hervormer

Konteks 1990-2019 – stemme uit die Kerk

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

“Dit is met hartseer maar ook begrip dat ek kennis geneem het van die sluiting van Konteks. Die skrif is eintlik al lankal vir alle gedrukte media, veral glanstydskrifte, aan die muur. Elektronika het die wêreld op sy kop gekeer. Dink maar net aan Naspers wat al sy koerante en tydskrifte gedigitaliseer het en dit as ’n pakket teen ’n lae inskrywingsfooi bemark. So die sluiting van Konteks is eintlik maar net die logiese uitvloei van die tyd wat ons ingehaal het.

Dit neem egter nie weg dat daar ’n stuk aangename herinnering by die lesers van Konteks agterbly nie. Hierdie vlagskip van die Hervormde Kerk het ’n mens altyd trots en dankbaar gemaak. Die eerste indruk wanneer jy enige Konteks ter hand neem, was dat dit professioneel en met liefde versorg is. Die diversiteit in terme van die hele kerklike lewe soos die kerklike jaar, aktiwiteite van die Kerk, aktuele sake, teologiese onderwerpe, rings- en gemeentelike nuus, asook die lief en leed van individue, en voeg nog daarby dat dit die hele ouderdomsverspreiding gedek het, het dit ’n uiters leesbare tydskrif gemaak. Baie lidmate het geleef in afwagting vir die verskyning van die volgende Konteks. Ons moet die getroue lesers ’n routydperk gun, al is teleurstelling en dalk selfs woede deel daarvan.

Ek was bevoorreg om dikwels in die kantore van Konteks te kom en was altyd beïndruk met die toewyding en liefde waarmee die personeel hierdie tydskrif voorberei het. Die redakteurs se onderhandelingsvaardighede om die publikasie se drukkoste so laag moontlik te hou, het nie ongesiens verbygegaan nie. Albei redakteurs, dr Paul de Beer en dr Wian Kloppers, se beplanning en tematiese aanslag het ’n groot rol gespeel om Konteks-lesers opgewonde en toegerus te maak. ’n Mens dink ook met trots aan al die rubriekskrywers se bydraes om aan die tydskrif soveel statuur te verleen. Mev Tessa Oppermann se liefdevolle en toegewyde taal- en administratiewe versorging sal my ook altyd bybly; eweneens geld dit ook al die ander personeel vir hul bydrae.”

 

Ds Tony Simpson, Emeritus

“Toe die opdrag om ’n kwaliteit maandelikse glanstydskrif van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika op die been te bring, destyds aan dr Paul de Beer opgedra is, was die eerste tree in die verwesenliking daarvan die kies van ’n gepaste Naam. Met die kies van Konteks het die opdrag daadwerklik koers gekry en kon die redakteur van Konteks met hulp van vaardige medewerkers en die bestaande tegnologie ’n standaard daarstel wat werklik gepoog het om aan die hoë verwagtinge van sowel die redakteur en die medewerkers aan die een kant as die toekomstige intekenaars en lesers aan die ander kant te voldoen. Soos die tyd aangestap het, is aanpassings aan sowel die inhoud as die kleurvolle aanbieding daarvan gemaak. Die onderwerpe en nuusberigte het deurgaans van hoogstaande gehalte en uitstekende teologiese inhoud getuig, en deur die jare is daar nooit in enige verband afgeskeep nie.

Soos dit met alles in die lewe gaan, het nuwe verskynsels wat via die tegnologie gekom het, ook ’n hoë tol begin eis. Om in die droom van net die beste te voorsien, het die redaksie allerlei aanpassings gemaak om Konteks as gedrukte kerklike gesinstydskrif op ons kerklike werf sprankelend te hou. Die immer dalende intekenaargetalle met gepaardgaande koste om die gewilde gesinstydskrif op die kerklike werf te hou, het mettertyd finansieel net te hoog geword. Daar moes besluit word om die noodsaaklike teenoor die verkieslike items op die Kerk se uitgawelys teenoor mekaar op te weeg en ’n keuse in dié verband te maak. Met hartseer is besluit dat die gedrukte media voor die elektroniese media die knie moes buig.

Ons kyk met groot waardering terug na die tyd toe Konteks deel was van die Hervormde Kerk se maandelikse bydrae op die kerklike werf, en ons is dankbaar vir wat ons in Konteks kon lees en deur Konteks se insette kon leer.”

 

Dr Thinus van Staden, Montana: ’n Afskeidswoord

“Dit was met groot hartseer dat ek verneem het die publikasie van Konteks gaan ten einde loop. Dit sou dalk makliker gewees het indien die besluit by ’n Algemene Kerkvergadering geneem is sodat die Kerk in geheel kon verstaan en saam besluit. Dit was vir my ’n groot voorreg om vir sewe jaar deel te kon wees van die redaksie en artikels te kon skryf. Met elke uitgawe was daar briefies, e-posse en telefoonoproepe van lidmate en predikante wat die een en ander wou deel oor ’n bepaalde artikel. In hierdie tyd het ’n mens ook wonderlike medewerkers leer ken.

Ek gaan Konteks geweldig mis aangesien daar nie nog ’n tydskrif is wat soveel kundige perspektiewe deel nie, van teologie tot ekologie, kuns en poësie, tegnologie tot terapie. Natuurlik hoop ’n mens dat die inhoud hiervan op die een of ander manier voortgesit sou kon word. Ek salueer elke medewerker en redaksielid wat van Konteks ’n uitnemende gesinstydskrif gemaak het.”

 

Ds Neels van Tonder, Warmbad

“Die veelsydige aard van artikels wat oor die jare in Konteks verskyn het, het nie net baie lesers se kennis en insig verryk nie, maar ook talle rubriekskrywers se skrywersvaardighede ontwikkel. Langs die pad het ’n mens heelwat vriende ontwikkel. Die gebalanseerde artikels en aktiwiteitsblaaie in die tydskrif het iets vir oud en jonk gehad. Ek onthou nog goed hoe daar in die beginjare saam beplan is om van Konteks ’n populêre tydskrif te maak, wat sonder groot woorde inligting tot selfs binne kinders se bereik gebring het.

Soos die tyd verloop het, het die tydskrif ’n unieke karakter ontwikkel. Die bydraes van die redakteurs en redaksies wat die tydskrif gelei het, moet ook nie onderskat word nie. Baie dankie aan almal wat aan die tydskrif deel kon hê. Dié tydskrif se afskeid gaan beslis ’n leemte in menige huis laat.”

 

Ds Joleen Marx, Welgelegen-Pietersburg

Konteks was die eerste medium waar ek die vertroue gekry het om my gedagtes te deel en waar Tannie/Dominee/Juffrou vir die eerste keer geleentheid gehad het om aan die woord te kom. Van daar af het ek nogal hierdie verskillende benamings of benoemings of wat ook al werklik in my lewe ervaar. Vandag is ek werklik‘n tannie/dominee/juffrou en is ek bevoorreg om deeltyds in ’n gemeente te mag dien en terselfdertyd juffrou by ’n skool te mag wees.

Sterkte vir die laaste Konteks. Dit was ’n voorreg om ook deel te kon wees van die redaksie vir ’n klein rukkie in die bestaansjare van Konteks. Dit was werklik ’n relevante tydskrif, behalwe wanneer ons prof Natie se artikels uit Konteks moes leer vir eksamen en mondelinge!”

 

Ds C Johann de Bruin, Museumbeampte: SP Engelbrechtmuseum

“Ek het as ’t ware my verstand saam met Konteks gekry. In my eerste jaar gedurende die eerste universiteitsvakansietjie kry ek Konteks te lese. My ouers en veral my ouma Sannie Booyse was baie lief vir Konteks. Gemeentenuus, briewe en kerkstaaltjies, humor en geskiedenis, asook inligting oor ons Kerk en kerkjaar, het deur middel van Konteks kerkgesels in ons huis geword. My sorgvuldig gebêre/gebergde uitgawes het ek in 1996 netjies laat bind by die sinodale kantoor. Kosbare besittings, ook tot heel onlangse uitgawes, toe ek dit aan die Erfenisstigting geskenk het. Lank lewe hierdie uitgawes van Konteks!”

 

Ds Jimmy Manders, Witfontein

“Die gesinstydskrif Konteks het oor jare heen die Kerk vir ons, in ons huis, in sy eie konteks kom plaas. Dié tydskrif het deel van ons huis en kerkwees geword, en ons het elke liewe uitgawe van voor tot agter verslind. Deur die lees daarvan is daar nie net konneksie gemaak met die Here nie, maar ook met die Kerk en sy verskillende gemeentes, en met kollegas en gelowige kerkmense en hul ervaring in die geloof.

Wanneer ’n mens terugkyk met ’n hartseer traan in die oog oor die pad wat Konteks in ons lewe persoonlik gestap het, dan is ons dankbaar en weet ons vir seker dat die tydskrif met al sy bydraes oor jare heen, toegevoegde waarde in ons gesin se lewens gebring het. Wanneer ons na die toekoms kyk, weet ons ons gaan die gereelde verskyning van Konteks baie mis. Dit is dan dat ons sal terugdink aan die ryk skat wat deel was van ons lewens vir baie jare. Ons eer elke medewerker en skrywer oor al die jare wat werktuig was in die Hand van ons Hemelvader. Konteks was ’n bediening op sy eie!”

 

Ds Nico Brayshaw, Emeritus

Die Hervormer was die ou Kerktydskrif wat vir jare ’n noue kontak gebring het en gereeld inligting verskaf het oor dit wat in die Kerk gebeur en jou met inligting op die hoogte gehou het. Konteks het met sy naam daarin geslaag om die hartklop van Die Hervormer aan die gang te kry en dit aan die gang te hou. Wat geskort het, met jou onsekerheid oor kerk en toekoms, en in Die Hervormer vir jou aangebied is, is vervolledig deur Konteks. Die tydskrif met sy meer intieme kontak het ons by ’n intensiewe belewing van die verskillende gemeentes en lidmate uitgebring. Kom ons wag en kyk wat die toekoms met en sonder Konteks vir ons oplewer: Dit was die vraag wat Konteks laat ontstaan het. Dit sal die vraag wees noudat Konteks blykbaar ’n nodige en finansiële, salige dood gesterf het.”

 

Dr Elritia le Roux, Middelburg

“Ek het met leedwese kennis geneem van die sluiting van Konteks. Vir my was dit altyd ’n tydskrif met teologiese diepte – iets waarop ’n mens kon terugval wanneer jy pitkos gesoek het vir voorbereiding. Die historiese artikels en die artikels wat gefokus het op die liturgiese kalender was altyd van uitstaande gehalte en ek het dit verslind. Dit was vir my ook ’n voorreg om as medewerker op te tree.

Wat my altyd met blye verbasing getref het, was hoe wyd die tydskrif eintlik wel gelees is. ’n Mens sou ’n uitgawe in ’n dokter se spreekkamer optel, en natuurlik gereeld in die huise van lidmate. Daar is vir seker nou ’n leemte.”

 

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

As die water vuil geword het...

Lank reeds hoor ons uit verskeie oorde – die water raak min. Die water waarmee die Kerk die wêreld bedien, is aan’t opdroog. Om die waarheid te sê, alles dui daarop dat ons reeds die vuil modderwater op die bodem van die dam begin gebruik het... 

Gemeentes skaal af, maak toe. Dienste skaal af, maak toe. Want die water is min...

Dié binne en buite die Kerk dors na hoop. Ons soek na gebare en tekens van hoop. Hoe meer die droogte, hoe groter die dors na hoop. Kans op kans gaan verby om die hoop te saai. Met die laaste druppels van lewe kon Konteks geboorte aan iets nuuts gegee het. Ons kon hoop gesaai het...

Is die baba saam met die water uitgegooi?

 

 

Tydlyn

 

4 1

April 1990: Jaargang 1 Nr 1

Redakteur dr Paul de Beer

Met Die Christelike Vrou

Redakteur mev Bets Booysen;

Junie 1996 dr Elsabé Kloppers;

Oktober 2002 mev Magda (Bornman) van Deventer;

April 2012 ds Hannelie Botha

In hierdie eerste uitgawe van Konteks skryf dr Daan van Wyk (sr): Dit gebeur ook nie sommer in die lewe van ons Kerk dat daar met ’n tydskrif begin word en dat die verskyning daarvan dan weer gestaak word nie. Met van ons tydskrifte het dit al struikel-struikel gegaan soos met Die Hervormer tydens die Tweede Vryheidsoorlog en ook meer kere daarna. Maar daar is deur bitter tye volhard en in geloof volgehou en met die seën en guns van die Heer van die Kerk kon die moeilike tye oorleef word.

 

 4 2b

Januarie/Februarie 2004:

Jaargang 15, Nrs 1 & 2

Dr Paul de Beer begin die leisels oorgee aan dr Wian Kloppers (redaksiebestuurder) en ’n jong span. In sy rubriek Inspraak skryf dr De Beer: Die Tydskrifredaksie en die Beheerraad van SENTIK, wat deur die jare heen getroue medestryders was, het besluit om die oorgang na ’n nuwe bedeling sorgsaam te bestuur. Daarin lê ook ’n ander vreugde. Die vreugde van medeverantwoordelikheid van die kerk se opdrag om nie halsoorkop te werk te gaan nie, maar om op berekende en doelgerigte wyse aan ’n jonger werkspan die opdrag te gee om die oorgang na ’n nuwe bedeling te bestuur. Hierdie nuwe bedeling sal met die Algemene Kerkvergadering in 2004 aanbreek. Konteks, Jaargang 15, Nommer 1 en 2 is die eerste produk van hierdie werkgroep se beplanning en arbeid.

 

4 3

Desember 2004: Jaargang 15, Nr 12

Dr Paul de Beer, na emeritaataanvaarding in Oktober 2004, is in gesprek met dr Fanie Pretorius. Op die vraag Wat sou u hier by u vertrek aan die Kerk wou sê oor die rol en noodsaak van die voortbestaan en instandhouding van die Kerk se tydskrifte? antwoord hy: Die moeilikste tye het ons geleer dat niemand anders in die groot wêreld waar die kommunikasiestryd woed, iets positief oor die kerk en ook oor ons Kerk wil of sal skryf nie. Aan hierdie eensydige oordeel mag ons onsself nie uitlewer nie. As die kerk besluit om te swyg oor die vreugde en hoop wat in ons lewe, sal niemand anders ons te hulp snel nie. Nog nooit in ons bestaan was die tydskrifte in so ’n gunstige situasie as in ons eie tydsgewrig as juis nou nie. Wie sal só dwaas wil wees om hierdie gunstige situasie in ’n nederlaag te omskep?

 

4 4

Januarie/Februarie 2005:

Jaargang 16 Nrs 1 & 2

Dr Wian Kloppers neem amptelik oor as redakteur. In sy redakteursbrief skryf hy: Die jaar 2005 lê voor ons oop. Dit is ’n deur wat God vir ons oopmaak. Hoe ons dit benut, is ons eie verantwoordelikheid... Binne die kerk is daar pas ook verskillende nuwe moontlikhede geopen waardeur die evangelie deur nuwe poorte na die wêreld kan beweeg: die totstandkoming van AIM (die Afrika-instituut vir Missiologie); nuwe moontlikhede vir die kerk se kommunikasiekanale; ekumeniese bande wat versterk word; ’n sterker diakonale been wat momentum aan die kerk se uitreik na mense in nood kan verleen; verryking in erediensmoontlikhede, en nog vele meer... Ons gebed vir hierdie nuwe jaar is dat God ons harte sal open sodat ons oop deure sal word waardeur ons sy liefde en genade na mekaar en na die wêreld kan uitstraal.

 

4 5

April 2011: Jaargang 22 Nr 3

21-jaar-feesuitgawe. In sy redaksionele berig skryf dr Wian Kloppers: Donker skadu’s laat ’n mens die helderheid van lig en lewe raaksien. Alles wat hier op aarde lig gee, is egter maar weerkaatsings van die Lig wat van Bo kom. Daarom dat die leraars van die gemeentes in Openbaring as sterre en die gemeentes self as lampe voorgestel word. Beide is nie self ligbronne nie, maar slegs weerkaatsers van die lig. Beide moet aangevul word vanuit die Bron – die son as ligbron vir die sterre; lampolie vir die lig in ’n lamp. Christus se opstanding uit die dood is die bron van ons lewe. Dit bied die moontlikheid dat ons ook kan opstaan en lewe. Dat ons die Lig na ander rondom ons kan weerkaats. Dít is die boodskap wat Konteks reeds 21 jaar lank weerspieël.

 

4 6

Januarie/Februarie 2012: Jaargang 23 Nr 1

ADV-bylaag ’n Stukkie brood begin

Redakteur mev Magda van Deventer;

Maart 2015 mev Elize Jones

In die eerste aflewering van ’n Stukkie brood skryf mnr Andries Pretorius, voorsitter van die Vyfde Algemene Diakensvergadering: Barmhartigheidswerk in die Kerk deur sy diensorgane is so groot en omvangryk dat ons ’n tydskrif soos Konteks maand vir maand kan vul. Met ’n Stukkie brood wil ons vir die lidmate ’n venster oopmaak op die werk van die diakonie: bejaardesorg, kindersorg, gestremdes, Zimbabwe, materiële nood, blanke armoede, plakkers, chemiese afhanklikheid, seksuele misbruik en mishandeling, gesinsgeweld en dissipline in skole... Ons wil berig oor rings-diakens, oor gemeentediakens en dienswerkers, handevat met die NHSV. Ons wil berig oor al die stukkies brood wat uitgedeel word en mense se lewens verander... Dit is met dank en vreugde in die hart dat die ADV sy stukkie brood ontvang. Dankie aan die redaksie van Konteks wat besef het dat die barmhartigheidswerk van die Kerk so groot en omvangryk is – nou kry ons vier snytjies brood (bladsye) in elke uitgawe.

 

4 7

April 2015: Jaargang 26 Nr 3

25-jaar-feesuitgawe. In sy boodskap in hierdie uitgawe skryf dr Wim Dreyer, destyds voorsitter van die Kommissie van die AKV, soos volg: Konteks het daarin geslaag om die geloofslewe van lidmate te verryk en te versterk. Die gemeenskap van gelowiges, die verryking en verdieping van Hervormde liturgie en Bybelkennis is deurlopend aan die orde gestel. Konteks het oor ’n periode van 25 jaar vir baie mense buite die Hervormde Kerk ’n venster geopen waardeur hulle kon inkyk om ons só beter te leer ken. Kerke in Suid-Afrika en selfs in Europa kon ontdek dat die Hervormde Kerk nie net met sy Reformatoriese erfenis erns maak nie, maar ook die wesenlike eenheid met die kerk van alle eeue belangrik ag. Namens die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wil ek die personeel, medewerkers en veral die redakteurs van Konteks gelukwens en bedank vir die toewyding en kundigheid waarmee hulle die laaste 25 jaar ons kerklike tydskrif uitgegee het en ’n produk gelewer het wat kan vergelyk met die bestes in die wêreld.

 

4 8

Maart 2019: Jaargang 30 Nr 2

Finale uitgawe. In sy dankwoord in hierdie laaste uitgawe skryf dr Wian Kloppers: Dank vir die onnoembare voorreg om vir die volle lewensduur van Konteks by haar identiteit, voorkoms en persoonlikheid betrokke te kon wees. Sy was vir my ’n tweede lewensmaat wat my lewe in elke opsig in beslag geneem het. Die tyd sedert ek van haar onverwagse dood in kennis gestel is, was ’n donker tyd van rou waartydens ek al die fases en emosies van die rouproses deurworstel het: ontkenning, opstand, afskeid, rou, aanvaarding en berusting in die verlies... Dank aan geloofsgenote wat met my hierin gedeel het. Dank aan almal wat oor soveel jare by hierdie besondere vrou in ons Kerk betrokke was. Sy het ons soos ’n moeder met teerheid en liefde behandel, ons getroos en bemoedig, ons geïnspireer én hoop gegee. Ons sal haar persoonlikheid en haar rol in ons lewe mis.