Die Hervormer

Die Springmielie-effek

Pop, pop, pop eggo en vermenigvuldig die bekende klank van springmielies in die kastrol voor die 20:00 M-Net-film. Dadelik vat die klanke, geluide en reuke my terug na stowwerige herinnerings. Die ou kastrol van my ma wat nét vir dié doel gebruik is...

Ek sien nog hoe spring en pop die mielies onder die glasdeksel, en ek onthou die gevoelens van afwagting en verrassing as die mielies onwillekeurig sonder patroon en ritme plof en spring. Dis asof die eerste mielie se pop die ander net motiveer of aansteek sodat die kanon van pop-geluide stadig die ou bekende aroma in die lug kan aankondig.

Springmielies het my nog altyd gefassineer in al hul unieke vorms en aanbiedings: gewoon, gesout, gesoet, gesuur en gekaramelliseer. Maar hoe werk die dinamika van ’n springmielie?

Springmieliepitte verskil van ander soorte mielies, omdat die omhulsel net die regte dikte is om dit te seël en ook toe te laat om oop te bars. Elke pit bevat ’n druppeltjie water wat in sagte stysel geberg word. Die stysel word omring deur die pit se harde buitekant. Wanneer die pitte verhit word, begin die waterdruppeltjie uitsit, teen 100 ºC verander die water in stoom, en dit verander die sagte stysel in ’n vuurwarm jellie. Die pit hou aan verhit tot om en by 180 ºC, dan word die druk te veel en die omhulsel bars. Die stoom ontsnap en die sagte stysel blaas op en koel dadelik af in die wit manna 30 tot 40 keer groter as oorspronklik, wat die tongtippietoets van meer as 10 000 jaar al deurstaan het en wat óns waarskynlik gaan oorleef. Ek sou sê dis ’n resep wat werk. Hoekom dan nie iets wat werk toepas op iets wat vasgevang is in sy eie harde omhulsel van jare se tradisie en kultuur nie: die Kerk...

Die Kerk het vir jare die regte resep gehad, om noukeurig die druppeltjies lewende water binne die harde omhulsel van ons tradisies, kultuur en dogmas vir ons en ons kinders wat binne die sisteem is te bewaar en te beskerm, sodat die saad gesaai kan word en kan vermenigvuldig. Dit was nodig en is steeds nodig en sal nog in die toekoms nodig geag word, maar iewers gaan iemand die resep soos met springmielies ontdek. Die resep sal die funksionaliteit van mielies verbreed, die smaak kultiveer, wat die aanvraag noodwendig gaan verhoog en wat die aptyt gaan prikkel. ’n Resep om die druppeltjies lewende water met behulp van ’n bietjie energie in lewende wit manna of brood te verander, wat met sy pop-geluide dalk weer mense se aandag gaan trek, met sy spontaniteit moontlik mense weer opgewonde gaan maak, en met die eenvoudige smake en geure van ’n ou bekende, die evangelie, mense gaan verras.

Die Kerk Menlyn Maine het in opdrag van die Algemene Kommissie met entoesiasme en passie vir die geloof ’n ander resep begin ondersoek en toets. Die idee van ’n Pop-Up-kerk het ontstaan nadat lank en aandagtig na die kenners, kritici en koelkoppe binne en buite die Kerk geluister is. ’n Geleentheid wat spontaan sonder ritme, patroon of vorm, onwillekeurig, uniek, enige plek net opspring of pop deur net die regte hitte of energie by te voeg, het ontstaan. ’n Geleentheid wat dalk dié bedien wat nie ’n aptyt vir brood of water het nie, maar vir iets anders as die normale vorme en resepte.

Die Pop-Up-kerk het nou al by twee geleenthede opgespring (Diep in die Berg Restaurant op 11 November en 2 Desember) waar mense en fynproewers van buite die NHKA die resep kom beproef het. By albei geleenthede was die Kerk aangenaam verras en verbaas toe daar meer mense opgedaag het as wat ons lokaal kon huisves (115 volwassenes per geleentheid). Elke geleentheid het ook ’n bykomende 40 kinders opgelewer wat ons met hul eie soet resep van die springmieliegeleentheid bedien het. 

Die vorm en liturgie van die kern-omhulsel van die Kerk is getransformeer deur die energie en spontaniteit van die span betrokkenes, wat die liturgie vereenvoudig het sonder om die Woordverkondiging te vervlak. Daar is gekuier, gekoffie, geklets; aan die Woord gekou, geproe en gepeusel; en soos die smaak ontwikkel het later in die week met behulp van sosiale media deur potgooie (podcasts) geherkou. Dit was geleenthede waar die lewende water (wat die Kerk vir ons behoue laat bly het) met behulp van ’n bietjie hitte of die energie van ’n passievolle span, die stysel laat ontpop het – nie noodwendig tot brood nie, maar iets soos wit manna wat die wêreld weer opgewonde was om te proe, want onthou, ’n mens leef nie net van brood nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom...

’n Pop-Up-kerk wat in sy eenvoudigste vorm maar net ook saad is wat ons saai in ’n gebroke wêreld, met die hoop en geloof dat die lewende water Jesus Christus die oes spontaan sal laat opskiet.Spontaan sonder ritme, patroon of vorm, pop, pop, pop, eggo en vermenigvuldig die bekende klank van die springmielies terwyl dit die kennis van Jesus Christus soos aangename geur in die wêreld versprei... (2 Kor 2: 14b).

(Ds Thomas Dreyer is leraar in Gemeente Wapadrant)