Die Hervormer

’n Nuwe identiteit vir die NHKA

Sedert die 71ste Algemene Kerkvergadering van 2016 berig publikasies van die NHKA al hoe meer daaroor dat ons nie meer, soos lank in ons geskiedenis, op die Kerk as institusie mag fokus nie. Ons durf nie meer vasklou aan gemeentestrukture of geboue nie. Elke gemeente moet erns maak met hul verhouding met God, met mekaar en met die wêreld om hulle. Slegs só sal ’n gemeente in ons tyd en wêreld relevant bly. 

Tog verneem ons in die Junie 2018-uitgawe van Die Hervormer dat die Kerk ’n korporatiewe identiteit moet hê wat ons moet saambind, die geloofsgemeenskap moet versterk en mense moet insluit. Ons hoor dit is belangrik om effektief met lidmate, ampsdraers, gemeentes en die gemeenskap te kommunikeer. Daarom, is bevind, moet ’n nuwe kommunikasieplan vir die Kerk gevind word.

Die Kommissie van die AKV het reeds aan die einde van 2017 ’n kommunikasiemaatskappy, Uppe Marketing, versoek om ’n deeglike ondersoek te doen na alle aspekte van die NHKA se kommunikasie en ’n gekonsolideerde, vereenvoudigde en eietydse kommunikasieplan wat die Kerk se sentrale taak ondersteun, voor te lê. In Januarie 2018 het die Kommissie ’n bosberaad gehou om te bepaal presies wat en hoe die Kerk wil kommunikeer.

Versoeke vir lesersreaksie

In die Junie 2018-uitgawe van Die Hervormer is lesers ook versoek om op die volgende vrae te reageer: Verwoord die visie, missie en missionale fokus wie die Hervormde Kerk is en hoe ons kerk wil wees? Bied Uppe Marketing se voorstelle vir die Kerk ’n eenvoudige, eietydse manier om ons eenheid uit te druk wanneer ons missionaal en toekomsgerig met die wêreld kommunikeer? Moet die Kerk steeds van gedrukte publikasies gebruik maak, en indien wel, wat wil lesers steeds in gedrukte formaat ontvang?

Aanvullend tot hierdie versoeke het SENTIK in Konteks en Die Hervormer in die uitgawes van Julie 2018 ’n meningsopname geloods om lesers se voorkeure oor dié twee publikasies te toets. Wil lesers nog albei publikasies ontvang, en in watter formaat? Verkies hulle ’n elektroniese formaat, harde kopie, of albei? In watter addisionele publikasies sou hulle belangstel?

Ondersoek in 1988/1989

Dit is belangrik om hier te noem dat die ondersoek van die Kommissie van die AKV én hierdie navorsing deur SENTIK nie nuut is nie. Oor jare, ook in die tyd van KITAL (SENTIK se voorganger), is met gereelde tussenposes teruggegaan na lesers en gevra wat hul voorkeure is. Op my rak staan die gebinde verhandeling van (nou dr) Bessie Gericke oor Die rol van “Die Hervormer” as kommunikasiemedium tussen kerk en lidmaat: ’n leserkundige ondersoek. Dit is in Februarie 1989 voltooi. Die redaksie van Die Hervormer onder redakteurskap van dr Daan van Wyk (sr) wou in die laat 1980’s vasstel of die blad in sy doel slaag en of dit byval vind by die lidmate van die Kerk, veral in die lig van lae sirkulasiesyfers.

Deur die inhoud van Die Hervormer te ontleed, kon vasgestel word watter potensiaal die blad het om in sy doelstellings te slaag. Die aantal bydraes en totale ruimte wat die temas beslaan het, is bepaal en daar is gevind dat die verspreiding van aandag soos volg was: Opbou van die kerklewe (43%); opbou van geloof (30%); en uitbou van die koninkryk (9%). Algemene temas het 18% ruimte opgeneem. Met ’n vraelysopname is vasgestel dat die lesers egter ’n groter behoefte het aan onderwerpe wat betrekking het op die doelstelling: opbou van geloof. (Lees die onderhoud met dr Bessie Gericke in Konteks van Julie 2018.)

Elektroniese kommunikasie sedert 2008

Met die elektroniese revolusie het dit nodig geraak dat die NHKA ook digitaal met lidmate moes begin kommunikeer. Op 14 Februarie 2008, onder redakteurskap van prof Piet Geyser en subredakteur dr Gerhard Lindeque, is die eerste weeklikse elektroniese nuusbrief, e-Hervormer, aan lidmate gestuur. Mettertyd is besluit dat die nuusbrief minder afhanklik van Die Hervormer moet funksioneer, en is die titel in Februarie 2015 verander na blitspos@nhk.

In sy voorbladartikel vir die uitgawe van 5 Februarie 2015 skryf dr Gerhard Lindeque soos volg: Hierdie vorm van kommunikasie in die Kerk het aanvanklik klein begin toe wyle prof Piet van der Merwe deur middel van die kantoor van die destydse sekretaris, dr Fanie Pretorius, op ’n weeklikse basis die “Nuusbrokkies” in die Kerk versprei het. Ds Marthinus van Staden het die verantwoordelikheid later oorgeneem vir die “e-Hervormer” voordat dit uiteindelik deur SENTIK en “Die Hervormer” behartig is. So het die “e-Hervormer” van krag tot krag gegaan sodat op die oomblik meer as 6 000 mense die weeklikse elektroniese nuusbrief, wat nou “blitspos@nhk” geword het, ontvang. Die verwagting is dat die behoefte steeds sal groei namate al hoe meer lidmate gewoond raak aan hierdie medium.

Embleme deur die jare

Sedert 2008 word die voetewassingsbeeld op ons Kerk se webblad gebruik om aan te sluit by die NHKA se visie en missie. Mettertyd het dié embleem ook in elektroniese korrespondensie en op publikasies begin verskyn, met verskillende slagspreuke daarby: Ons wil dien soos Christus ons kom dien het (2008); Saam in diens (2009); In Christus se voetspore (2013).

Die gebruik van die nuwe embleem, saam met die amptelike Kerkwapen, en dikwels ook met ’n afdeling se eie embleem, het lidmate begin verwar. Daar was veral vrae oor die status van die Kerkwapen. Die enigste grafiese simbool wat in daardie stadium “amptelik” die NHKA s’n was, was die Kerkwapen (ou ZAR-wapen met dubbel-ellips en die Kerknaam om). Die AKV van 1879 het goedgekeur dat die Kerk die wapen as seël kon gebruik, maar dit verskyn eers in 1924 as Kerkwapen op die Almanak en Die Hervormer. In 1992 het die AKV ’n aangepaste kerklike weergawe van die wapen goedgekeur. Die Kerkwapen is ook by die Companies and Intellectual Property Commission (CIPC) as die NHKA se intellektuele eiendom geregistreer. (Lees gerus die geskiedenis van die Kerkwapen by www.nhka.org » Wie is ons » Kort geskiedenis.) Die voetewas-logo (met of sonder enige byskrif) is nie saam met ander handelsmerke as die NHKA se eksklusiewe intellektuele eiendom geregistreer nie.

Een van die opmerkings van Uppe Marketing was die volgende: Die skildembleem is ’n simbool van die geskiedenis, maar ook simbool van verdeeldheid, en fokus op administrasie eerder as op Christus. Oorweeg dit om afstand te doen van die skildembleem.

Die Kommissie van die AKV het egter daarteen besluit. Die maatskappy se voorstel van ’n nuwe embleem wat moontlik in al ons kerklike kommunikasie die korporatiewe identiteit van die Kerk kan uitdruk, is aanvaar en ietwat gewysig deur SENTIK se grafiese personeel. Dit sal aanvullend tot die Kerkwapen en voetewassingsembleem gebruik word, en dit nie vervang nie. Uiteindelik is besluit om die Kerkwapen steeds vir interne kommunikasie te behou, en die nuwe maklik herkenbare en eietydse woordlogo saam met die voetewassingsembleem te gebruik vir al die Kerk se kommunikasie na buite.

Ondersoeke en werkwinkels in 2010

In September 2010 het SENTIK ’n publikasiewerkwinkel gehou met die konsultant Heinrich Ueckermann van HJFC Bemarkingskonsultante, weer eens oor dalende sirkulasiesyfers. Uit die ondersoek wat vooraf gedoen is, het geblyk dat daar uit 38 ringe in die NHKA, 10 (26%) ringe was waar Die Hervormer swak aangekoop is, terwyl daar 8 (21%) ringe was waar Konteks swak aangekoop is. Die Almanak is oor die algemeen redelik goed aangekoop deur al die gemeentes. Daar is toe onder meer voorgestel dat Die Hervormer as koerant meer soos ’n koerant moet lyk (wat mettertyd gedoen is); dat veral in die koerant (amptelike mondstuk) op aktuele temas gefokus moet word; dat die goedgesindheid van gemeentes en predikante wesenlik belangrik is vir die bemarking van die publikasies; dat sosiale media soos Facebook vir bemarking ingespan moet word; en dat ’n sterk en effektiewe webblad as stewige onderbou moet dien vir kommunikasie met lidmate en ander belangstellendes.

Meningsopname in 2014

SENTIK het in 2014 ’n omvattende vraelys beskikbaar gestel om beter kommunikasie in die Kerk te bevorder. Die vraelys moes vasstel hoe effektief die kerklike kommunikasie is, wat lesers se mening oor die inhoud, formaat en waarde van die kerklike publikasies is, en watter persepsies by lidmate bestaan oor die NHKA. Meer as 200 voltooide vraelyste is terugontvang, en die statistikus dr Dion van Zyl het die antwoorde verwerk. Die resultate het onder meer gewys dat daar ’n behoefte is aan albei formate: papier en elektronies.

Die kommentaar van respondente was oorwegend positief, en daar was geen aanduiding dat enige van die publikasies se voortgang bedreig word nie. Daar was ook ’n gesonde balans van reaksie vanuit plattelandse en stedelike gemeentes. Daar is bevind dat die Kerk en lidmate na die tydperk van turbulensie stabiliteit soek. Ons moet, met trots op ons eie identiteit, werk na heling. Kommunikasie is ontmoeting, en Facebook is nie werklik ontmoeting nie. In die Kerk moet dit gaan oor ontmoeting op lang termyn, en daarvoor is ons Kerkpublikasies nodig. Daar is konsensus dat ons vir mense wat régtig lees, moet gee wat hulle nodig het, en vir dié wat net vinnig lees, dit wat aan hul behoeftes voldoen. Daar is steeds lesers wat meer en dieper insig soek omdat hulle werklik lees en daaraan behoefte het.

Die Hervormer in elektroniese formaat in 2015

In 2015 is besluit om Die Hervormer na meer as 100 jaar in gedrukte én in elektroniese formaat te begin uitgee. Hierdie vernuwing het dit moontlik gemaak dat lesers Die Hervormer, soos in die verlede, op ’n Sondag na kerk in koerantformaat in die sitkamer kon lees, maar dit ook deur die dag, waar lidmate hulle ook al bevind, op ’n rekenaar, tablet of slimfoon kon lees. Die eerste proeflopie was Die Hervormer van September 2014, en lidmate is gevra om te laat weet hoe die Kerk dit ervaar.

Daarmee saam is die betalingsmodel van Die Hervormer verander. Om Die Hervormer gratis aan elke lidmaat beskikbaar te stel in die formaat wat hy of sy verkies, is intekening op Die Hervormer dus vanaf 2015 só gewysig dat elke gemeente ’n bydrae maak tot ons gemeenskaplike kerklike kommunikasie. In plaas daarvan dat die kerkraad se bydrae tot ons kerklike kommunikasie gebaseer word op die hoeveelheid gedrukte eksemplare wat hulle bestel, is die bydrae op gemeentegroottes gebaseer en ontvang die gemeente in Januarie ’n faktuur vir die jaar. Die gemeente laat SENTIK steeds weet hoeveel gedrukte kopieë hulle wil hê, met inagneming dat sekere lidmate nou mag verkies om dit eerder elektronies te lees. Gemeentes het in die meeste gevalle gevind dat die nuwe kostestruktuur vir hulle ’n besparing bewerkstellig het.

Die ondersoek in 2017/2018

Die reaksie wat ontvang is op al die onlangse versoeke en vraelyste was nie ’n verrassing nie, want dit was nie nuut nie. Wat wel nuut maar steeds nie verrassend was nie, was dat meer mense nou ook – nie net nie, maar ook – in elektroniese kommunikasie belangstel. Talle van die respondente was senior burgers, en van hulle het ongeveer 50% aangedui dat hulle heeltemal gemaklik is met elektroniese kommunikasie. Die meeste van die respondente wil egter steeds nie afstand doen van hardekopieweergawes van die Kerk se publikasies nie. Ook dr Bessie Gericke erken dat elektroniese media nuwe moontlikhede bied omdat dit wye en vinnige verspreiding verseker: Ons is ook almal bewus van die koste verbonde aan die publisering en verspreiding van gedrukte publikasies. Daarom word elektroniese media ’n al groter werklikheid. Daar is egter heelwat lidmate – veral bejaardes – wat nog nie toegang tot tegnologie het nie en wat graag ’n mooi versorgde tydskrif  in harde kopie wil besit. Daarom voorsien ek dat daar nog vir ’n geruime tyd die behoefte aan die gedrukte media sal wees.

SENTIK is na afloop van die ondersoek betrek om uitvoering aan die voorstelle te gee en gemeentes daarmee te ondersteun. Op 3 Augustus 2018 is ’n stylgids en verskeie template aan gemeentes gestuur, wat skerper reaksie gekry het as al die versoeke en vraelyste vooraf.

Weer eens is daar verwarring oor al die embleme. Ds Johann de Bruin, Museumbeampte, vra: Ons nuwe naamplaat op die Museumhek gaan die NHKA-embleem bevat. Dink julle ons moet die voetewas ook bysit? En die ou Kerkwapen? Netnou lyk dit of ons nie kon of wou kies nie…

Gemeente Witbank-Suid is nie gelukkig nie: Hierdie bemarkingsmaatskappy het bevind dat daar ’n gebrek aan eenheid in die Kerk se kommunikasie is. Wanneer die kommunikasie na binne en die eksterne kommunikasie van mekaar verskil, is daar sekerlik geen kontinuïteit en eenheid nie. Daar word verder beklemtoon dat die embleem nie die Kerkwapen gaan vervang nie. Alhoewel dit gesê word, word die wapen weggelaat in alle eksterne kommunikasie. Die vraag is of ons bang of skaam is vir die Kerk se geskiedenis? Die wapen word behou op die interne kommunikasie, dit is na die mense wat die Kerk en haar geskiedenis ken. Maar wanneer daar na buite gekommunikeer word, word die wapen/geskiedenis weggelaat. In ons land vandag word ons as Afrikaners se taal en geskiedenis van ons weggeneem, godsdiens word uit skole verban. In die alledaagse is ons geskiedenis, dit waar ons vandaan kom, verkeerd. Nou word ons geskiedenis uit die Kerk waarin die meeste van ons grootgeword het en waarvoor ons so lief is, ook weggeneem.

Lidmaat Hans Steenekamp skryf: Om ons tevrede te stel dat die verouderde beeld, soos die wapen, nog in interne kommunikasie gebruik word, of selfs dat die nuwe beeld darem die ou kleure van die Kerk, soos wat dit in die wapen voorkom, gebruik (iemand wat nie daarop gewys word nie, sal dit nie eens agterkom nie), gaan nie op nie.

Oudl Tolla Strydom (Gemeente Koster) skryf: Ek het so pas die Augustus-uitgawe van “Die Hervormer” met die nuwe mashoof ontvang en die eerste indrukke is baie gunstig. My kleinkinders sal dit seker beskryf as baie “cool”. Ek mis egter die Kerkwapen as deel daarvan. Dit laat my dadelik dink aan iets wat my in die jongste tyd nogal opval wanneer iemand homself aan my voorstel net met die woorde: “Ek is Piet”. Dan wonder ek dadelik wie is Piet nou eintlik, het hy dan nie ’n van nie of is hy dalk skaam oor iets? Ek verstaan dat die Kerkwapen weggelaat word in eksterne kommunikasie, maar ek begryp dit glad nie. Die Kerkwapen is deel van die geskiedenis van die Hervormde Kerk.

Maar alles is nie negatief nie. Annemarie Krieg het laat weet: Ek moet julle gelukwens met hierdie vernuwing wat die korporatiewe beeld van die Hervormde Kerk in die wêreld uitdra. Dit vang die oog, is ongekompliseerd en ek is 100% daarvoor. Dit was tyd dat die Kerk se korporatiewe beeld meer modern en mensvriendelik word.

Ds Chris le Roux van Stellenbosch/Worcester sê kort en kragtig: Ek hou baie van die nuwe korporatiewe beeld. En daarmee wil ek volstaan. Alles is nie negatief nie. Die onlangse ondersoek is nie die eerste, en waarskynlik ook nie die laaste, sodanige ondersoek nie. Ons kan stry oor sommige goed, verbeter en verfyn aan ander. Soos SENTIK wat eers later betrek is en nou uitvoering aan die besluite gee, kan ons almal met ’n positiewe gesindheid saamwerk om die skoner, meer moderne voorkoms wyd te implementeer en vir die wêreld te wys dat ons as Kerk kán saamstaan en saamwerk. Saam in diens, in Christus se voetspore...

(Tessa Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)