Die Hervormer

Antieke tale, Bybelvertalings en die Reformasie

Wanneer jy as teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria begin, begin jy ook as student van die antieke tale: Grieks en Hebreeus. Ongeag die groot verskille tussen dié twee tale, is daar een beginsel wat vir albei modules geld: As jy hierdie module wil baasraak, het jy ’n minimum van drie ure per dag nodig net vir voorbereiding en bemeestering.

Dit lei gewoonlik vinnig daartoe dat die student iewers in sy of haar studies sal vra: Waarom bemoei ons onsself nog met hierdie tale? ’n Kort kykie na die geskiedenis van Bybelvertalings en die nalatenskap van die Reformasie kan ons help om hierdie vraag te beantwoord en ook te verstaan waarom ons steeds nuwe Bybelvertalings nodig het.

Die Septuagint

In ongeveer 325 vC verower Aleksander die Grote die wêreld soos wat dit bekend was vir die Grieke, en vorm so ’n verenigde ryk. Gou het Grieks die algemene taal van die meeste mense geword. Een van die vele veranderings wat gevolg het, was die vertaling van die Hebreeuse Ou Testament in Grieks. Hierdie vertaling staan bekend as die Septuagint.

Daar was verskeie redes vir hierdie vertaling, maar een daarvan is die feit dat Grieks so ’n prominente taal onder die mense geword het. Die Jode wat na 325 vC in Egipte geleef het, het afgeleer om Hebreeus te praat en te lees. Die gevolg is dat hulle nie meer toegang tot hul heilige geskrifte gehad het nie. En so, met die vertaling van Hebreeuse geskrifte in Grieks, word die geskrifte weer vir hulle beskikbaar.

Die Reformasie

Met die viering van die 500-jarige herdenking van die Reformasie word ons weer bewus gemaak van die veranderinge wat met hierdie beweging teweeggebring is. Een van die vele blywende bydraes is sekerlik Martin Luther se vertaling van die Bybel in Duits. Dit was nie die eerste Duitse vertaling van die Bybel nie, en ook nie die enigste een wat gedruk was nie. Wat die vertaling uniek gemaak het, is die feit dat Luther dit in ’n Duitse dialek vertaal het sodat sy landgenote dit self kon lees.

Hierdie vertaling van Luther is voorafgegaan deur net so ’n belangrike onvolledige vertaling deur die Yorkshire-prediker

John Wycliff (1329-1384). Wycliff het sy vertaling van die Vulgaat (Latynse Bybel) in Engels begin met die doel dat sy landgenote die Bybel in hul eie taal kon lees.

Wat opvallend is van sowel Wycliff as Luther se vertalings, is dat die doel nie net was om die tekste te vertaal in die taal van hul landgenote nie, maar om seker te maak die boodskap van die teks is verstaanbaar. Hierdie vertalings was dus deur en deur kontekstuele vertalings wat die lewende taal van die lesers in ag geneem het en dit gebruik het om die boodskap te verkondig.

Bybelvertalings vandag

Wanneer daar so ’n kort blik geneem word op drie vertalings van die Bybel in die geskiedenis, word dit duidelik dat die vertaling van die Bybelse geskrifte nooit werklik tot ’n einde sal kom nie. Daar moet konstant nuwe vertalings van die geskrifte gemaak word namate die geloofsgemeenskap se konteks en taal verander. So ’n konstante en onophoudelike vertalingsproses van die Skrif is ’n voortgaande reaksie en antwoord van die geloofsgemeenskap op tekste wat as outoriteit binne die geloof geag word. Iets hiervan is ook aanwesig in die nuwe direkte Afrikaanse vertaling, waar ook vir die eerste keer kommentaar ingedien kan word deur lesers van die tekste.

Dit bring ons weer terug na die vraag waarmee begin is: Waarom behoort ons ons te bemoei met die antieke tale? Soos die vroeë Joodse gemeenskappe, en Wycliff en Luther, die boodskap van hierdie geskrifte suiwer wou verkondig binne die konteks van hul hoorders, so behoort ons steeds vandag hierdie boodskap duidelik te “vertaal” en daaroor te preek binne ons eie unieke gemeentes en kontekste.

Hierdie vlak van vertaling het vir my al hoe duideliker en ’n realiteit geword vandat ek Grieks begin aanbied het by die Lutheran Theological Seminar in Tshwane. By hierdie Seminarie is daar ’n diversiteit van studente, en sommige kom uit klein gemeenskappe wat hul eie gemeenskaplike taal het. Hierdie gemeenskappe het dus nie ’n Bybel in hul eie gemeenskaplike taal nie. So, deur die onophoudelike bemoeienis met die antieke tale, word mense bemagtig om regoor die wêreld die boodskap van die evangelie te verkondig – nie in ’n taal wat met die brein spreek nie, maar ’n taal wat ingang vind in mense se harte en hulle binne hul eie konteks verander.

(Ds Van Niekerk is ’n beroepafwagtende predikant van die Kerk)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=gcUdkW3Nwq2%2Fi9YMMRfnLe93sdsa8oSU%2F2wputfOwlJNpl0uOsdlq3kir5BBJtq8gDKf%2FdNz8wPDkoNWBgzrDA%3D%3D&prvtof=OevWJOJLoOZcxwQSCmEWHwMtPNEHqVWXVsyu7XKtXzg%3D&poru=Dp4d1Cp%2BSwMaBllCnq6ZFK3NdTIlaAMHoJ6bdDE3FBzQlhVzEvOaRH1ysIQa6D9soURACvG%2Fii2g2ADH49AD%2F9uAkc2aZhXLFy95I3A%2BGn1oK%2F4%2BFYg3MjIVBJl6sVIS8JQZj9WDwwUGanMRAy7ZLZCEdNkIdWkvwdJR508akJ0%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fkerkwerf%2F440-antieke-tale-bybelvertalings-en-die-reformasie">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>