Die Hervormer

’n Roeping vir die lewe

Dr Barry van Wyk het ’n doktorale studie in Nuwe-Testamentiese Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom voltooi en daarmee gedurende Mei vanjaar ’n derde doktorsgraad in teologie verwerf. Die PhD-graad is aan hom toegeken na voorlegging van ’n proefskrif getitel “Jesus Christus as kefalē en die Gees as arrabōn vir die ekklēsia: ’n eksegeties-hermeneutiese studie”. Sy promotor was prof Andries van Aarde, Hervormde Nuwe-Testamentikus aan UP (emeritus), en sy medepromotor prof Fika van Rensburg, Gereformeerde Nuwe-Testamentikus van Potchefstroom.

Dr Van Wyk het reeds in 1990 en weer in 2004 doktorale studies in Kerkreg voltooi.  Voorafgaande aan sy eerste graad, het hy ook ’n jaar lank navorsing in Utrecht in Nederland gedoen.

DrBarryRenscheVanWykUit die impasse
Hierdie laaste proefskrif verdien vanweë die aktualiteit daarvan ’n baie breër en meer kritiese bespreking as waarvoor in Die Hervormer ruimte bestaan. Ek volstaan egter met enkele opmerkings.

Die pessimisme en onvergenoegdheid wat die kerk in Suid-Afrika en ook wêreldwyd tans ervaar, dui op ’n impasse waarin die kerk sedert die 1980’s beland het, onder andere in die belewing van kerkkrimping en sekularisasie. Die doelstelling van die studie is om te bepaal of die Bybel die antwoord bied op dié kerklike impasse en indien wel, wat die antwoord is.

Die ondersoek word toegespits op die Nuwe Testament en veral op die briewe aan die Kolossense en die Efesiërs. ’n Reformatoriese kerk wat oor sake soos kerkkrimping bekommerd is, behoort die redes vir die probleem en vir die oplossing daarvan primêr in die Bybel te soek. Dr Van Wyk bevind dat daar in dié besinning nie ontkom kan word aan die Efesiërbrief wat Jesus Christus as Hoof van die kerk sien nie. Dit, verbind aan die Heilige Gees wat waarborg van die gelowige se erfenis is, moet noodwendig, indien dit gehoor en van toepassing gemaak word vir die hedendaagse kerk, verrykende gevolge meebring wat alle weerstand en uitdagings te bowe kom.
Het die kerk homself nie oor jare uitgerangeer as gevolg van kerkisme en oordrewe klem op struktuur nie? Of dat hy homself as fokuspunt van verlossing en die hooftema van die evangelie gesien het? So word in die teologiese wêreld gevra. Miskien is dit dan tog nodig dat die kerk sterf om in die lig van die Woord – dat Jesus die Hoof van die kerk is wat in die kragveld van die Gees leef – as kerk te herleef.

Die besondere kerkbegrip van die Efesiërbrief as kerk tussen Christus as Hoof en die Gees as waarborg van gelowiges se erfdeel, het aan die lesers van die brief ’n antwoord tot oorlewing gegee waarvan die hedendaagse kerk as bewys dien. Die kerk se voortgang geskied nie deur menslike toedoen nie, maar is in die bestaan van God as Hoof van die kerk ’n gegewenheid.

Herkoms en kerkwerk
Barry van Wyk is op 28 November 1946 op Middelburg gebore, waar hy later matrikuleer.  Na voltooiing van sy teologiese studies word hy beroep na Bulawayo en bedien daarna nog sewe gemeentes in die Kerk. Tans bedien hy as emeritus gelyktydig nog drie gemeentes.  Sy akademiese prestasies is merkwaardig in die lig van sy wye sinodale betrokkenheid, onder andere by die Raad vir Kerkregtelike Advies, deeltydse dosent, herskrywing van die Kerkorde, litigasiekomitee en sekretaris van die Fonds vir Teologiese Opleiding.

Sy studie getuig van diepsinnigheid, sowel as gesonde ewewig in denke en oordeel, voluit diensbaar in die teologie van die Woord. Hy maak vrymoedig gebruik van die resultate wat hedendaagse wetenskaplike navorsing bied, maar bly ook solidêr met die verlede en belydenis van die kerk deur eeue. Sy keuse vir diens aan kerk en teologie was ’n keuse vir die lewe, en word in sy eie woorde nie onderbreek deur kerklike bepalings oor deeltydse werk en emeritaat nie.