Die Hervormer

Spotprente en ander illustrasies (7)

Die houtblokgravuur Christus en die skaapstal deur ’n onbekende kunstenaar (ca 1545) is ’n uitbeelding van Johannes 10: 1: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower (1933/53-vertaling).

Christus staan by die deur van die stal (wat aan ’n kerkgebou herinner) en laat diegene ingaan wat by Hom aanmeld. ’n Aantal Katolieke geestelikes, insluitend die pous, monnike en nonne, probeer van ’n ander kant af inklim. Daar is ​​selfs ’n biskop en ’n kardinaal wat gewone mense op soek na heil en verlossing mislei deur na die dak te wys in plaas van die deur. Die skaapstal is ’n tema wat gereeld gebruik is deur albei kante van die dispuut in 16de-eeuse publikasies. In Katolieke teenpropaganda is dit die Reformasieleiers wat deur ander openinge as die deur toegang tot die stal probeer verkry.

Read more ...

Enkele opmerkings oor Martin Luther se eskatologie

Martin Luther se eskatologie (die leer van die eindtyd) staan in ’n noue verband met sy regverdigingsleer. Hy lê besondere klem op die eskatologiese karakter van die kruis en opstanding wat vir hom so betekenisvol is dat hy oortuig is dat niks hierdie oorwinning oor graf en dood ooit sal oortref nie. Die einde het derhalwe eintlik reeds aangebreek, en alles wat in die toekoms gebeur, is niks meer nie as die openbaarmaking van die diepe sin en betekenis wat hierin lê.

Luther se teologie word in sy laaste jare toenemend gekenmerk deur die siening dat die laaste dae naby was. In ’n ope brief Aan die Christelike Adel van die Duitse Volk in 1522 skryf Luther dat hy vas glo dat die oordeelsdag op hande is, alhoewel baie min mense daaraan dink. In die jare daarna sou hy hierdie standpunt dikwels herhaal, hoewel hy sy siening oor die spesifieke wyse waarop die wederkoms sou plaasvind van tyd tot tyd aangepas het.

Read more ...

Martin Luther se 95 stellings (81-95)

Vanweë ’n liefde vir die waarheid en ’n diepe begeerte om dit behoorlik toe te lig, verklaar eerwaarde vader Martin Luther, Magister in die Vrye Kunste en die Heilige Teologie en daarin ’n gewone hoogleraar te Wittenberg, hiermee dat die onderstaande stellings onder sy voorsitterskap gedebatteer gaan word alhier. Derhalwe versoek hy diegene wat nie teenwoordig kan wees om mondelings debat te voer nie, om dit skriftelik te doen. In die Naam van ons Here Jesus Christus. Amen.

81. Hierdie vermetele verkondiging van aflate maak dit selfs vir hooggeleerde mense moeilik om die pous se eer en waardigheid te beskerm teen leke se skerp kritiek en indringende vrae.

Read more ...

Vroue van die Reformasie

Een van die belangrikste en kragtigste maniere om die teenwoordigheid van iemand op ’n gelykwaardige en wedersydse basis te erken, is om hul name te ken en dit te noem. Daar is nogal heelwat navorsing gedoen oor “name en naamgewing” in die vakgebiede van antropologie, sielkunde, sosiologie en teologie. Kragtens die skepping was die funksie van naamgewing belangrik. Die mens is deur God die (voor)reg toegeken om die res van die skepping te benoem.

Wat “sit” in ’n naam?

Direk na die aanvalle op die World Trade Centre in New York, het naamtoekenning letterlik ’n saak van lewe en dood geword. Die name van die skuldiges en die name van die slagoffers moes onmiddellik vasgestel word. Sonder hierdie name kon daar nie hartseer of woede wees nie, want die lyke het, identiteitloos, in duisende langs mekaar gelê... waar was jou ma, broer, suster, oupa? Sonder ’n naam kon nie rou of vergelding plaasvind nie. Die rouproses het begin plaasvind namate die “name” bekendgemaak is, al is sommige van die mense se lyke nooit gevind nie. Die vergelding en die woede moes egter nog uitgestel word, want intussen is ontdek dat die name van die skuldiges nie hul eie name was nie. Dit was vervals. So hoe kon straf nou toegeken word en aan wie? Die funksie van naamgewing het hier ’n morele karakter gekry.

Read more ...

Martin Luther as vertaler van die Bybel

Nadat Luther op 18 April 1521 tydens die Ryksdag van Worms geweier het om sy kritiek teen die Roomse Kerk terug te trek, moes hy vlug vir sy lewe. Ter wille van sy veiligheid word hy deur keurvors Frederik die Wyse vanaf 4 Mei 1521 tot 1 Maart 1522 in die Wartburg by Eisenach versteek.

Hier het hy binne 11 weke die Nuwe Testament in Duits vertaal. Duits het as taal in daardie stadium nog nie bestaan nie. Luther het met sy Bybelvertaling die bo-regionale, algemeen-verstaanbare Duitse taal geskep.

Luther sou sy hele lewe lank, met die hulp van sy kollegas in Wittenberg, aan die vertaling van die hele Bybel werk. Die volledig vertaalde Bybel van 1534 was ’n reusemylpaal in die geskiedenis van die Reformasie.

Read more ...