Die Hervormer

Die betekenis van die Hervorming

 

Die gebeure wat met die Hervorming gepaard gegaan het, lê inderdaad ver terug, en die verlede het dikwels vir sommige weinig betekenis. Tog kan moeilik aan die verlede ontkom word, want elke mens kom iewers vandaan en is op pad na die toekoms. Die vooruitsig na die toekoms word grootliks bepaal deur die verlede en, eenvoudig gestel, klink dit soms in verwysings na wat ouers kinders geleer het om te doen of nie.

 

Die kerk is nie anders nie. Dit is belangrik om te weet wie jy is en waarom jy dié bepaalde naam dra en hoekom jy dieselfde dinge doen wat ander kerke doen, maar net op ’n ander manier. Waarna verwys die Hervormde in die naam van die eie Kerk, en hoe raak dit ’n kerk wat so bekend staan se optrede, nie net in die verlede nie, maar ook in die hede?

Read more ...

Luther en etiek

Die klokke beier en lei die vreugdevolle aankondiging van die 500-jarige herdenking van die Reformasie in. Die atmosfeer is feestelik, en ons herontdek ook die vreugde in ons eie Hervormde identiteit omdat ons in wese ’n kerk vanuit die Reformatoriese tradisie is.

Tog waarsku die Here reeds deur die profeet Amos sy volk dat Hy geen behae het in hul feeste as geregtigheid nie na vore kom soos ’n standhoudende stroom nie. Daarom, hoewel ons met oorgawe ons Hervormde identiteit behoort te vier, moet ons ook nie onverskillig staan teenoor die implikasies daarvan vir ons etiek in die alledaagse nie. Identiteit en etiek is immers baie nou met mekaar verweef: Wanneer ons weet wie ons ís, kan ons ook dienooreenkomstig handel.

Read more ...

Kerkhervorming en erediens

Die persepsie dat reformatoriese kerke wêreldwyd (ook in Suid-Afrika) onder druk is, kleiner word, jongmense verloor en weinig invloed in die samelewing het, veroorsaak dat baie predikante en gemeentelede ’n gevoel van krisis ervaar. Orals word daar verander en aanpassings gemaak (ook in die erediens) ter wille van die kerk of ’n gemeente se oorlewing. Maar is dit werklik kerkhervorming?

Aan die einde van 1543 het Johannes Calvyn ’n brief aan keiser Karel V gerig waarmee hy die keiser wou oortuig dat die hervormingsbeweging nie die gevolg van menslike willekeurigheid, politieke opstandigheid of moedswilligheid is nie, maar op weldeurdagte teologiese gronde bou. Dit het vir die Kerkhervormers om gehoorsaamheid aan God, die opbou van die kerk en God se eer gegaan. Calvyn het aangetoon dat kerkhervorming veral in die erediens gebeur en sigbaar word. Daar is ’n direkte verband tussen gesonde leer, erediens en kerkhervorming. Die kragtigste impuls tot hervorming van die kerk in die 16de eeu was die erediens, veral deur middel van prediking en die liedere wat gesing is.

Read more ...

Só vier ons die Hervorming vanjaar

’n Nuwe jaar. Hierdie jaar, 2017, is vir elke kerk van die Hervorming ’n besondere jaar, want dit is vanjaar 500 jaar gelede dat die groot Kerkhervorming begin het. Dit was ’n heel nuwe begin vir die Christelike kerk. Die Kerkhervorming het mense opgeroep om terug te keer na die kerk se wortels en spesifiek na die Woord. Saam met hierdie radikale nuwe begin, het die Kerkhervorming nuwe hoop gebring vir mense, en nuwe waardes gevestig.

So begin die teks van 2017 se Bybelse Dagboek, in die woorde van dr Wouter van Wyk. Die omslag van die 2017 Almanak/Bybelse Dagboek, soos  ontwerp deur dr Wian Kloppers, dra ook motiewe van die Kerkhervorming. Vir die tema-artikel van die Almanak konsentreer prof Schalk Botha veral op Luther en Calvyn: In die Kerk se waardering van die Kerkhervorming het Luther en Calvyn nog altyd bymekaar gehoort... In die Nederduitsch Hervormde Kerk kan dit nie anders nie as dat aan Luther die eer toegeken word dat hy die baanbrekerswerk gedoen het, dat hy die eerste was wat die diepte van die Skrifwaarheid herontdek het, en aan Calvyn, as die vernaamste van die Hervormers van die tweede generasie, dat hy dit, met behoud van die diepte, uitgewerk en toegepas het op die breedte van die menslike lewe.

Read more ...

Kritiese teologie

Waaraan ons 500 jaar ná 31 Oktober 1517 met dankbaarheid kan vashou, is die oortuiging dat teologie krities beoefen moet word. Krities beteken: om alle besluite van vorige vergaderings en alle geskrifte van vorige geslagte en alle uitsprake van tydgenote krities te evalueer aan hand van die kerk se primêre bron, die Bybel.

Die implikasie is dat ons vandag wakker moet wees, om nie op sleeptou geneem te word deur modeneigings wat nie met die evangelie van Jesus Christus versoenbaar is nie. Kritiese denke word selde geduld; daarom moet Luther se voorbeeld gevolg word deur te sê hier staan ek, ek kan nie anders nie aangesien die Bybelse boodskap van my verwag om hier te staan.

Read more ...