Die Hervormer

Kersfees oraloor

Welkom, o stille nag van vrede,

onder die suiderkruis,

wyl stemme uit die ou verlede

oor sterrevelde ruis.

Kersfees kom, Kersfees kom –

gee aan God die eer.

Skenk ons ’n helder Somerkersfees

in hierdie land, o Heer.

(Gesang 358: 1, Koos du Plessis)

So sing ons in ons Kerk tydens die Kerstyd, in die helder somerson. Maar hoe vier Suid-Afrikaners Kersfees elders in die wêreld?

Ds Leslie Kern, voormalige predikant van die NHKA, skryf uit Kanada

Die ligging en klimaat van die plek waar Kersfees gevier word, hou sterk verband met die manier hoe dit gevier word. Ons woon in die dorp Mission, in die mees westelike provinsie van Kanada genaamd British-Columbia. Kanada is ’n ontsaglike groot land wat grondoppervlakte betref en is ver noord geleë. In die Noordelike Halfrond vind Kersfees uiteraard in die winter plaas.

Vanweë die feit dat ons so ver noord geleë is, kom die son tydens die Kerstyd kort na agt in die oggend eers op, en die son sak weer ongeveer kwart oor vier die middag. Verder woon ons in ’n reënwoud en tydens die wintermaande kry ons baie reën, so oor die Kerstyd is dit dikwels dig bewolk. Wanneer die wolke lig en die son uitkom, gaan hy nie bo-oor jou verby soos in Suid-Afrika nie. As gevolg van die feit dat mens so ver noord is, gaan die son in die winter net so ’n entjie bo die suidelike horison verby. Dié faktore veroorsaak dat die Kerstyd ’n donker tyd van die jaar is hier. As gevolg van die donker, speel lig ’n belangrike rol in die manier hoe Kersfees hier gevier word. Orals word Kersliggies opgesit – in die strate, in tuine en teen die buitekante van besighede en woonhuise. Mense se Kersbome word so geplaas dat as jy in die straat by ’n huis verbyry, jy die helder verligte Kersboom kan sien deur die venster waarvan die gordyne oop gelaat word. Al die liggies is baie mooi en iets om te sien. Dit bring lig en skep ’n gevoel van warmte in ’n donker en koue tyd van die jaar.

Alhoewel dit blykbaar nie elke Kersfees hier by ons sneeu nie, het ons wel verlede jaar die voorreg van ’n wit Kersfees beleef, en dit is daadwerklik iets besonders. Omdat ons in ’n woud bly, met reusegroot bome en berge rondom ons, is dit ’n skouspel as die sneeu al die bome en die hele landskap bedek. As dit gebeur dat die sonlig blink reflekteer op die sneeubedekte bome, verstaan ’n mens waar die idee van ’n helder beligte Kersboom vandaan gekom het. Kersbome hier is oorwegend regte boompies wat afgesaag word en dan in die huis gesit en versier word. Met die plasing van ’n regte Kersboom in die huis, word die mooi van die natuur buite in die huis ingebring. Die vars afgesaagde boom vul ook jou huis met ’n aangename vars dennegeur.

Dit is vanselfsprekend dat Kersfees ’n kerklike aangeleentheid is. Ek is hier predikant by ’n Lutherse gemeente. Ons is nie ’n groot gemeente nie, maar die lidmate is uitermatig toegewyd. Adventstyd en Kersfees is vir die gemeente van besondere belang, en dit word gevier met ’n Adventsangdiens, ’n Kersopvoering deur die kinders, ’n gesamentlike Kersete en dienste op Oukersaand en Kersdag. Die koster en administratiewe beampte doen moeite om die kerk binne te versier en te belig vir Adventstyd en Kersfees.

Die meeste mense in ons gemeenskap hier is nie meer praktiserende Christene nie, en daarom is dit vir ons gemeente van groot belang om uit te reik na die buitekerklikes en ongelowiges. Adventstyd en Kerstyd word gesien as ’n goeie tyd om die mense te bereik, omdat dit die een geleentheid tydens die jaar is dat van die mense nog kerk toe kom. Ons moet nie uit die oog verloor nie dat die verhaal van Jesus se geboorte aangrypend is, en dat dit selfs ongelowiges kan aangryp. Kersfees is dus ’n goeie tyd om die evangelie te bring aan die buitekerklikes en ongelowiges.   

Mag dit wees dat u die seën van die Here sal ervaar tydens die Christusfees.

Sonja Cornelissen-Botha skryf uit Kalifornië in die VSA

Die aanloop tot Kersfees is in Amerika so opwindend soos in die meeste ander lande, met tradisies te kus en te keur. Nog voor die laaste oorblyfsels van die Thanksgiving-kalkoen hul weg vind na ’n heerlike pot sop aan die einde van November, begin die soektog na ’n geskikte Kersboom. Sommige families onderneem ’n tradisionele uitstappie na ’n tree farm waar Kersbome spesiaal vir die doel gegroei word. Ander ondersteun die Boy Scout Troop wat Kersbome verkoop in die plaaslike Walmart-parkeerarea. Families met klein kinders verkies kunsmatige bome wat nie hul naalde verloor wanneer klein handjies dit karnuffel nie, en dit is minder van ’n gemors om skoon te maak of weg te ry na Kersfees.

Vir diegene wat versuim het om rondom Thanksgiving te begin versier, begin die druk toeneem, en teen die einde van die eerste week van Desember is elke grasperk oorlaai met opblaassleë met ’n span rendiere vooraan of ’n Santa Claus wat kop eerste by ’n skoorsteen afgly, of pikkewyne wat om en om ’n opgeblaasde, wit-blou-gevriesde poel skaats. Rondom elke dak in die buurt flikker helder liggies uitnodigend.

Die laaste Vrydag voor Kersfees word die kinders vrygestel van skoolverpligtinge vir twee weke se vakansie, en sommige families vertrek na ander dele van die land om Kersfees met geliefdes te gaan vier, terwyl ander weer tuis bly en gereed maak vir familie om op te daag.

Wintertemperature wissel van area tot area, maar in die meeste gevalle is ski, tobogganing (rodelslee), ysskaats op gevriesde mere, sneeubalgevegte en die drink van kakao groot gunstelinge oor dié tyd van die jaar, terwyl ma’s, oumas, tantes en susters in die kombuis bak en brou en beplan en voorberei aan die Kersmaal! Ham, gebakte kalkoen met vulsel, pofaartappels, een of twee geurig bereide groentesoorte en Kerspoeding!

Terwyl sommige laatslapers nog vir oulaas Kersinkopies indruk op Oukersaand, woon ander families ’n Kersdiens by of is tuis besig om bordspeletjies te speel, stories vir die kinders te lees, Kersfeesfilms op TV te kyk, of net saam te kuier met ’n beker eggnog in die hand.

Net voor slaaptyd sit die kinders ’n bordjie koekies en ’n glas melk op die koffietafel uit vir Santa en moet hulself dan onwillig bed toe sleep, heeltemal te opgewonde om aan die slaap te raak.

Op Kersoggend, baie, baie vroeg in ’n huis met klein kindertjies, vergader almal rondom die Kersboom waar helderblink, toegedraaide geskenke oornag deur Santa afgelewer is, of waar dit weke lank al elke kind gelê en koggel het! Uiteindelik kan die geskenke oopgemaak word, en groot opgewondenheid heers totdat dit tyd is om reg te maak vir die Kersdagdiens en/of die Kersmaal.

Elke Amerikaanse familie het hul eie klein tradisies, afhangende van hul geloof of afkoms, maar vir elke familie wat die geboorte van Jesus ons Heer vier, bly Hy die middelpunt van die Kersseisoen! Geseënde Christusfees!

Adrie (Sauer) Ace skryf uit Kalgoorlie, Wes-Australië

Die Kerstyd in Australië begin wanneer die skole sluit vir die somervakansie, wat strek van middel Desember tot vroeg in Februarie. Dis wanneer die winkels Kersliedere speel en die strate opgemaak is met veelkleurige liggies. Mense stap in die aand in die woonbuurte rond om liggies te kyk, en sommige samel geld in vir welsynsorganisasies deur te vra vir ’n donasie van ’n goue muntstuk wanneer mense na hul skouspel kom kyk. Daar is ’n woonbuurt in Sydney waar die meeste van die inwoners hul huise opmaak, en saam samel hulle rondom $35,000 in vir ’n verskillende welsynsorganisasie elke jaar.

Omdat Kersfees in Australië in die middel van die somer is en 25 en 26 Desember openbare vakansiedae is, maak die meeste families van die geleentheid gebruik om weg te breek see toe of om te gaan kamp. Ander hou ’n groot byeenkoms by hul huis, en middagete wissel van ’n groot gekookte ete tot kouevleis en slaai, seekos of braaivleis. Tradisionele nagereg vir Kersfees is pavlova, ’n sagte meringuekoek wat versier word met geklopte room en vars vrugte.  Na ete word geswem, of almal geniet ’n spel van backyard cricket.

In Australië is Kersfees ’n tyd vir familie en vriende en om uit te reik na dié wat alleen is. Die meeste dorpe bied op Kersdag ’n Kersete aan in ’n plaaslike park, en enigeen is welkom om dit by te woon. Die etes word voorberei deur vrywilligers, en die kos word voorsien deur donasies van goedhartige gemeenskapslede en besighede. Dit is veral gewild onder mense wat nie familie naby het nie en Kersdag andersins alleen sou deurbring.

Carols by candlelight is ’n jaarlikse Australiese tradisie wat in 1938 begin het toe Norman Banks, ’n radio-omroeper in Melbourne, op Oukersdag op pad huis toe deur ’n venster van ’n huis ’n vrou op haar eie sien sit het met ’n kers terwyl sy Away in a manger sing. Hy het gewonder hoeveel mense alleen is oor Kersfees, en die idee gekry om mense elke jaar bymekaar te kry om Kersliedere by kerslig te sing. Die eerste byeenkoms is gehou in Alexandra Gardens in Melbourne gedurende die Kersfees van 1938. Dit is deur 10 000 mense bygewoon. Van toe af het dit net bly groei, en nou word daar Carols by candlelight gehou in omtrent elke dorp in Australië, wat duisende mense elke jaar ’n week of twee voor Kersfees bymekaar bring. Die geleenthede word gereël deur die plaaslike stadsrade, kerke en gemeenskapsgroepe. Van die groot stede se byeenkomste word jaarliks regstreeks op televisie uitgesaai. 

Vroeg op Kersdag deel families geskenke uit. Al die kerke hou ’n Kersdiens op Kersoggend, wat deur enigeen bygewoon kan word. Kersfees in Australië verskil nie veel van Kersfees in Suid-Afrika nie, behalwe dat ons ’n barbie hou in plaas van ’n braai en pavlova in plaas van malvapoeding eet vir nagereg.

(Ds Willem Sauer is redakteur van Die Hervormer en leraar in Waterberg)