Die Hervormer

Die Bybel in die digitale wêreld

Verskillende digitale formate maak dit vandag moontlik vir Bybelgenootskappe om die huidige tegnologie in te span sodat individue en gemeenskappe toegang tot die Bybel kan verkry en op ’n nuwe manier daarby betrokke kan raak.

Op die voorpunt met ontwikkeling

In vennootskap met die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Digitale Strategiegroep asook die Bybelgenootskappe van Brasilië en Nederland, is die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) betrokke by ’n aantal digitale projekte. Een so ’n inisiatief is die aanlyn digitale subskripsieplatform wat bekend sal staan as BibleSA en wat die BSA se tekste sal koppel aan ’n rykdom van Bybelse agtergrondmateriaal en materiaal wat mense sal help om by die Bybel betrokke te raak.

Nog ’n inisiatief is ’n Bybel wat digitale tegnologie en teks op so ’n manier bymekaar sal bring dat inhoud wat op ’n slimfoon geberg word, op ’n intelligente manier aan spesifieke bladsye in die BSA se gedrukte Standaardbybels gekoppel kan word.

Gedurende die afgelope jaar het die BSA 135 nuwe Bybels en Bybelgedeeltes in verskeie digitale formate en op verskillende digitale platforms bekendgestel, onder andere 12 e-Bybels in agt tale met bykomende materiaal, veral vir vroue, maar ook vir mans. Daar is 1 466 volledige e-Bybels aangekoop en by die verskillende platforms afgelaai.

Die Bybel op jou selfoon

Jare gelede was die BSA ’n pionier om die Bybel op selfoon beskikbaar te stel. Die gewildheid van die Bybel op selfone het geweldig toegeneem. Verlede jaar is 27 670 volledige Selfoonbybels by m.bibles.co.za afgelaai en 239 476 by www.youversion.com. Veral laasgenoemde toepassing is baie geskik vir persoonlike geestelike groei of om in groepe saam die Bybel te lees en te bespreek. Behalwe vir die verskillende vertalings wat beskikbaar is, kan jy ook leesplanne deurwerk, jou ervarings met ander deel en kyk wat die Bybel sê oor sekere onderwerpe. Jy kan ook kies om elke dag ’n spesiale teksvers met ’n foto daarby op jou selfoon te ontvang, wat jy weer op jou beurt vir iemand kan aanstuur.

Tuisblad van die BSA

’n Wye verskeidenheid Bybelhulpmiddels wat betrokkenheid by die Bybel bevorder, kan by www.bybelgenootskap.co.za afgelaai word. Verskeie formate, insluitend PDF, ePub, mobi en MP3, is beskikbaar. Meer as 3 000 Bybelgedeeltes, -seleksies en hulpmiddels in verskeie formate word jaarliks afgelaai. Hierdie hulpmiddels bly steeds van die grootste trekpleisters na die BSA-webwerf. Dit sluit hulpmiddels in vir gebruik deur die jeug, predikante in gemeentes se bediening, e-boeke en vir persoonlike geestelike groei en ondersteuning.

Op die tuisblad van die BSA se webwerf is skakels waarmee jy die Bybel is verskillende vertalings kan lees, en ’n soekfunksie waarmee jy woorde, frases en bekende Bybelgedeeltes vinnig kan opspoor. Die Bybelleesrooster is ’n gewilde manier vir gemeentes en individue om hul stiltetyd te beplan. Die Bybelvasvra-afdeling kan gebruik word om jou kennis van die Bybel te toets, en die kaarte is handig om die Bybelse omgewing en gebeure beter te verstaan. Daar is ook ’n skakel na die volledige katalogus met al die produkte van die BSA op die tuisblad beskikbaar.

Die Bybelluisterprogram (BLP)

Die Audibible is ’n hoeksteen van die BSA se missionale program. Die fokus van die BLP is om uit te reik na Christene in nood, insluitend diegene met materiële behoeftes, ongeletterdes en siggestremdes. Jaarliks word meer as 500 Audibibles deur hierdie program versprei.

Die instrument is ongeveer so groot soos ’n selfoon en het ’n sonkragpaneeltjie op die rugkant waardeur die battery gelaai word. Dit bevat die volledige Bybel in die taal van ’n persoon se keuse en kan met groot vrug deur groepe en individue gebruik word. Die Audibible kan by die Bybelgenootskap aangekoop word en is ’n handige geskenk vir bejaardes of persone wat nie meer die Bybel in gedrukte formaat kan lees nie.

Die Bybel aanlyn

Vandag het al hoe meer mense die Bybel in digitale formaat op selfoon, tablet of e-leser byderhand, maar baie lees en gebruik dit steeds aanlyn. Die Bybel in al ons tale kan op verskillende plekke aanlyn gelees word – Afrikaanse Bybels by www.bybel.co.za (395 252 besoeke in 2016/7), asook in verskillende tale by www.bibles.org en www.bibles.co.za (met 52 830 besoeke in 2016/7). Die Bybel kan aanlyn aangekoop en afgelaai word by Kobo (ePub), Takealot (ePub) en Amazon (Kindle).

In Lukas 4: 16 en 17 lees ons dat ons Here Jesus Christus self ook die Skrif in die hand geneem het en daaruit voorgelees het. Die boekrol waarna verwys word, was waarskynlik ’n vroeëre weergawe van dieselfde teks as wat ons vandag nog gebruik om die Bybel wêreldwyd in mense se taal van hul keuse te vertaal. Die formaat waarin hierdie teks vandag beskikbaar is, verskil natuurlik baie van die boekrol van daardie tyd. Maar die lewegewende krag van God se Woord bly dieselfde. Die Heilige Gees gebruik steeds die Bybel om in vandag se tyd met mense te praat, ook in digitale formaat.

Vir meer inligting, besoeke aan gemeentes of bestellings, kontak dr Gerhard Lindeque by 011 970 4010 of lindeque@biblesociety.co.za.

(Dr Gerhard Lindeque is

organiserende sekretaris by die Bybelgenootskap)