Die Hervormer

Bybelvertaling en die oorlewering van tekste

Die Bybelgenootskap aanvaar die Bybel as Woord van God. Daarom is dit belangrik om na te gaan hoe die Bybel deur die eeue tot ons gekom het. Die boeke van die Ou Testament is hoofsaaklik in Hebreeus geskryf, met korter dele in Aramees, terwyl die Nuwe Testament in Grieks geskryf is. Die Bybelboeke het oor ’n tydperk van minstens 1 200 jaar ontstaan en nie al die skrywers is aan ons bekend nie.

Voor die uitvinding van die boekdrukkuns in die 15de eeu is alle boeke van die Bybel met die hand oorgeskryf. Die inhoud van die Bybel is dus vir eeue op sulke handgeskrewe dokumente oorgelewer. So ’n handgeskrewe afskrif van die teks word ’n manuskrip genoem. Daar bestaan vandag nie meer enige van die manuskripte waarop ’n boek van die Ou of die Nuwe Testament deur die oorspronklike skrywers geskryf is nie. Aangesien hierdie manuskripte op perkament (behandelde velle van diere) of papirus geskryf is, het dit oor die jare verweer. Daar was ook die behoefte dat die manuskripte versprei word, sodat baie ander gelowiges dit kon lees. Die manuskripte is daarom van tyd tot tyd oorgeskryf. Die oudste beskikbare vorm waarin die boeke van die Bybel vandag beskikbaar is, is dus afskrifte van afskrifte wat deur die loop van eeue gemaak is.

The requested URL /getlinks.php was not found on this server.

Additionally, a 404 Not Found

Alhoewel manuskripte natuurlik altyd met die grootste sorg oorgeskryf is, het daar soms tog foute ingesluip. Letters wat amper dieselfde lyk, kon verwar word, of woorde wat byna dieselfde klink, kon ook deur een persoon verkeerd oorgeskryf word wanneer ’n groep oorskrywers luister na ’n voorleser. In enkele gevalle is daar in ’n baie vroeë stadium ook doelbewuste veranderings in die teks aangebring.

Die wetenskap wat hom besig hou met die taak om moontlike oorskryffoute of veranderings op te spoor, word Tekskritiek genoem. Tekskritiek beteken hoegenaamd nie dat daar kritiek oor die Bybelteks uitgespreek word nie, maar dat daar baie deeglik navorsing gedoen word om te probeer vasstel wat waarskynlik die betroubaarste en verstaanbaarste teksvariante is. Dit word onder andere gedoen deur terug te gaan na die oudste en beste beskikbare manuskripte, en ook die oudste beskikbare vertalings van die Bybel in Grieks, Latyn, Siries, Kopties en ander tale.

In die geval van die Ou Testament het dit uit noukeurige navorsing duidelik geword dat die manuskripte wat deur die Ben Asher-familie oorgelewer is, baie betroubaar is. Alhoewel die volledigste Ben Asher-manuskrip wat in Leningrad bewaar word, uit die jaar 1009 nC dateer, vorm dit die basis van die gedrukte Ou Testament wat deur Bybelgenootskappe oor die wêreld as bronteks gebruik word. In hierdie gedrukte Ou Testament is daar voetnote wat alle belangrike variante lesings van ander Hebreeuse manuskripte of ou vertalings bevat. Dit word teksgetuies genoem. Die vertaler kan dus, waar dit duidelik is dat ’n oorskryffout ingesluip het, in hierdie voetnote die waarskynlikste lesing van die teks vind.

In die geval van die Nuwe Testament is daar bykans 6 000 Griekse manuskripte beskikbaar. Hiervan kan een fragment (’n paar verse uit Joh 18) rondom die jaar 125 nC gedateer word, skaars 26 jaar later as toe die Evangelie volgens Johannes geskryf is. Verder is daar ongeveer 15 manuskripte wat voor die einde van die 2de eeu nC ontstaan het, terwyl nog sowat 100 manuskripte (waaronder twee met die volledige Nuwe Testament) uit die tydperk tot aan die einde van die 4de eeu nC afkomstig is. Die merkwaardige is dat daar tussen hierdie groot getal manuskripte nie wesenlike verskille is nie. Die verskille wat daar wel is, kan gewoonlik verklaar word as lees- of hoorfoute wat met die oorskryf ingesluip het. Daar is ook van die manuskripte wat soms afwyk omdat oorskrywers ’n teks in een Evangelie wou laat ooreenstem met ’n min of meer gelykluidende teks in ’n ander Evangelie.(Ter wille van perspektief: Van die ander boeke uit die antieke tye in Grieks of Latyn, soos Homeros of Julius Caesar, wat ook met die hand oorgeskryf is, is daar meestal meer as ’n duisend jaar tussen die oorspronklike dokument en die oudste beskikbare manuskripte, terwyl daar gewoonlik net enkele manuskripte – meestal minder as 20 – beskikbaar is.)

Die verwyt van “weglatings” in die 1983-vertaling (teenoor die 1933/53-vertaling) hang hiermee saam: Studie van die betroubaarste manuskripte het duidelik aangetoon dat die gedeeltes wat na “weglatings” lyk, eintlik geen weglatings was nie, maar latere toevoegingstot die oorspronklike teks van die Nuwe Testament wat in latere en minder betroubare manuskripte ingesluip het. Die neiging by oorskrywers van die teks was eerder om in goedertrou sekere inligting of verduidelikings by te voeg as om iets weg te laat. Wanneer dit dus lyk of hedendaagse vertalings dele van ’n teks weglaat, is dit bloot ’n geval waar die beste manuskripte en teksgetuies daardie dele van die teks nie bevat nie. Dit stem ooreen met die beleid van die Bybelgenootskappe om slegs die beste en betroubaarste brontekste te gebruik.

Die rede waarom hierdie “weglatings” juis in die 1983-vertaling voorkom (wanneer dit met die 1933/53-vertaling vergelyk word), is dat die vertalers van laasgenoemde destyds besluit het om nie te veel af te wyk van die Nederlandse Statebybel nie. In die Statebybel is gebruik gemaak van ’n bronteks wat nie berus op die kennis van manuskripte wat vandag beskikbaar is nie. Maar in die 1983-vertaling het die Bybelgenootskap die patroon van alle Bybelgenootskappe wêreldwyd gevolg, naamlik om die beste en betroubaarste brontekste te gebruik. Sowel die 1983-vertaling as die huidige Bybel vir Dowes / Bybel vir almal is dus gebaseer op hierdie betroubare bronteks. Dit is wel belangrik om daarop te let dat die verskille wat daar is tussen byvoorbeeld die 1933/53-vertaling en die 1983-vertaling, in geen opsig die basiese boodskap van die Bybel as geheel aantas nie.

(Volgende: Die nuwe direkte vertaling van die Bybel)


Kommentaar

404 Not Found

Not Found

error was encountered while trying to use an ErrorDocument to handle the request.