Die Hervormer

Die invloed van die Reformasie op Wes-Europese skilderkuns

As ’n direkte gevolg van die 16de-eeuse godsdiensdispuut is alle kuns wat vereenselwig kon word met die mag van die kerk skerp gekritiseer vanuit Reformatoriese kringe.

Die Reformasie se invloed het gelei tot ’n drastiese vermindering in religieuse kuns in Protestantse lande. Groot publieke kunswerke wat kerklidmate kollektief op godsdienstige vlak aangespreek het, is stelselmatig vervang met kleiner en meer persoonlike werke, soos daar ’n verskuiwing van openbare geloofsvertoon na ’n meer intieme verhouding tussen die gelowige en God plaasgevind het. Noodwendig is streng teologiese en religieuse temas mettertyd vervang deur sekulêre temas, veral in Wes-Europa. Uitbeeldings van die gewone alledaagse lewe soos familie-, maaltyd-, taverne-, fees- en marktonele, sowel as portretkuns, stillewes en landskappe, het toegeneem en die kunstoneel later selfs heeltemal oorheers. Dit was in die Lae Lande dat hierdie tendens veral opmerklik was. Ons kyk in hierdie laaste bydrae tot Reformasie 500 kortliks na enkele kunstenaars uit hierdie tyd en voorbeelde van hul sekulêre werke.

Die Vlaamse meester Pieter Bruegel die Ouere (1525-1569) beeld aanvanklik graag godsdienstige temas in sy skilderye uit, maar hy word een van die eerste kunstenaars wat onder die invloed van die Reformasie daarvan wegbeweeg. Hy begin hom toespits op alledaagse tonele wat afspeel in die bestaan van die gewone Vlaamse dorpslewe. Die Bybelse tonele wat hy wel later skilder, word meestal teen ’n kontemporêre agtergrond geplaas. So beeld hy in Sensus in Betlehem uit hoe Maria en Josef met ’n donkie in ’n Vlaamse dorp aankom, terwyl die inwoners gewoon voortgaan met hul eie alledaagse lewe. Bruegel se nederige grootwordjare in ’n arm landbougemeenskap word ook gereeld in sy skilderye uitgebeeld, selfs nadat hy ’n gesiene kunstenaar geword het – byvoorbeeld in Die Boeretroue (1567).

Bruegel oefen groot invloed uit op die kuns van sy landgenoot Lucas van Valckenborch (1535-1597). Met die uitbreek van die ikonoklastiese aggressie van die Beeldenstorm in 1566 in die Lae Lande bereik die godsdiensdispuut in Wes-Europa een van vele skandelike laagtepunte toe Protestante die beelde en kunswerke in talle Katolieke kerkgeboue verwoes. Van Valckenborch verlaat Antwerpen inderhaas saam met sy broer Martin en ’n groot aantal mede-Protestante, uit vrees vir godsdiensvervolging. Die stad het in hierdie tyd meer as die helfte van sy 100 000 inwoners verloor. Teen ongeveer 1575 keer Van Valckenborch terug na ’n veel rustiger Antwerpen (hoewel daar in 1581 ’n hernude vlaag ikonoklasme plaasvind nadat ’n Calvinistiese stadsraad die beheer oorneem). Hier het Van Valckenborch veral bekend geword vir sy landskappe, tot hy in 1579 die hofskilder van aartshertog Matthias van Oostenryk word. In 1593 sluit hy by sy broer in Frankfurt aan, waar hy werksaam is tot sy dood in 1597. Herfslandskap (September) (1585) is geskilder in opdrag van die aartshertog en vorm deel van ’n reeks wat die tradisionele aktiwiteite en veranderende landskap in elke maand van die jaar uitbeeld.

Die Italiaanse kunstenaar Vincenzo Campi (1530-1591) was baie aktief in godsdienstige kunskringe, onder andere met sy skildery Matteus en die Engel en uitbeeldings van die kruisiging en hemelvaart van Christus. Campi is egter meer bekend vir sy bydrae tot die totstandkoming van die Noord-Italiaanse skildergenre rondom 1580 in Cremona en Bologna. Hierdie styl is sterk beïnvloed deur die Vlaamse kunstenaars van die tyd, soos gesien kan word in Die Vrugteverkoper (1580). 

Rembrandt Harmenszoon van Rijn (1606-1669), gebore in Leiden, Nederland, het op 13-jarige ouderdom aan die Leiden-universiteit begin studeer. Formele studie het hom egter min geïnteresseer. Hy verkies om ’n driejaarvakleerlingskap onder die skilder Jakob van Swanenburg te doen, waarna hy sy eie studio in Leiden begin. In 1631 vestig hy hom in Amsterdam. Hy kan met reg beskou word as die grootste Nederlandse (en sommige reken selfs Europese) skilder van alle tye. Hy raak aanvanklik bekend vir die fyn detail in sy werk, veral in sy selfportrette.  

Ten spyte van ’n verbod op religieuse temas in Nederland, het Rembrandt in baie van sy gewildste werke Bybelse tonele behandel, insluitend uitbeeldings van Jeremia wat treur oor die val van Jerusalem, Dawid en Jonatan se afskeid, Bileam en die donkie, die barmhartige Samaritaan, die storm op die See van Galilea, die opwekking van Lasarus, Petrus wat Jesus verloën, die steniging van Stefanus, en vele meer.

Van sy bekendste sekulêre werke sluit in Anatomieles van dr Nicolaes Tulp (1632) en Nagwag (1642). Na die dood van sy vrou Saskia in 1642 is Rembrandt vir ten minste ’n dekade minder produktief. Hy begin wel in dié tyd ’n besondere belangstelling toon in landskappe, baie maal met verrassende eenvoud en met kreatiewe en innoverende skakerings van lig en donker (’n deurlopende kenmerk van sy werk), soos gesien kan word in Winterlandskap (1646).

(Dr Van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=bH8LfkWFMxuluCSEWtwAN%2BnWVXVu99w%2FqUw8pAkz8caxDJeAH7Dnu0k2GeObzdY3UgpO0yp5REKSKmwe7Wfamw%3D%3D&prvtof=80iNNSyf6YXPaew29bo9Mi%2BKJD%2FKllekfVec10uuNTU%3D&poru=pcYpjYOyz8A3ZkDpa2tvvhKnzLGidSIAwsVj%2BIZNzSZZEI0UfoWJwvDv7dKoWcc8uSdnpH7GbodAmB2yV1qYBE9xiWJPi%2BGQdJoJX0It7eyIAuHI%2FZ9l2KQ5NGc4nSbbHxGPw0clzoj2nRjUqSbQqgtToSvbWT%2FirBOPpZX0QEIp4gjKWB0nnRIxDgPfv7Nz&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fkerkwereld%2F460-die-invloed-van-die-reformasie-op-wes-europese-skilderkuns">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>