Die Hervormer

Vroue van die Reformasie

Een van die belangrikste en kragtigste maniere om die teenwoordigheid van iemand op ’n gelykwaardige en wedersydse basis te erken, is om hul name te ken en dit te noem. Daar is nogal heelwat navorsing gedoen oor “name en naamgewing” in die vakgebiede van antropologie, sielkunde, sosiologie en teologie. Kragtens die skepping was die funksie van naamgewing belangrik. Die mens is deur God die (voor)reg toegeken om die res van die skepping te benoem.

Wat “sit” in ’n naam?

Direk na die aanvalle op die World Trade Centre in New York, het naamtoekenning letterlik ’n saak van lewe en dood geword. Die name van die skuldiges en die name van die slagoffers moes onmiddellik vasgestel word. Sonder hierdie name kon daar nie hartseer of woede wees nie, want die lyke het, identiteitloos, in duisende langs mekaar gelê... waar was jou ma, broer, suster, oupa? Sonder ’n naam kon nie rou of vergelding plaasvind nie. Die rouproses het begin plaasvind namate die “name” bekendgemaak is, al is sommige van die mense se lyke nooit gevind nie. Die vergelding en die woede moes egter nog uitgestel word, want intussen is ontdek dat die name van die skuldiges nie hul eie name was nie. Dit was vervals. So hoe kon straf nou toegeken word en aan wie? Die funksie van naamgewing het hier ’n morele karakter gekry.

Gedurende die konflik in Oosbloklande is die Albaniese vlugtelinge gevra om al hul amptelike dokumente van identifikasie by die grens van Joego-Slawië in te dien, wat beteken het dat hulle geen bewys gehad het dat hulle in hul eie tuisland kon tuisgaan nie. Hul name het hul reg op lewe in daardie land bevat, en toe dit hulle ontneem is, is hul reg op lewe hulle ook ontneem.

Binne navorsing wat bestaan oor die wyse waarop mense kies om hul geliefdes na afsterwe ter ruste te lê, word aangetoon dat die naam op die grafsteen, meer as die steen self, dikwels as ’n herinnering of ’n bewys dien dat die persoon wel vir ’n tyd lank deel was van mense se lewens. Sodra ’n naam van ’n gedenksteen of ’n graf dus verwyder word, is dit enersyds ’n traumatiese gebeurtenis vir diegene wat agterbly, en andersyds is dit ’n harde manier om die bestaan wat daardie persoon gehad het, te ontken.

Dit is interessant dat die nuwe owerhede in Libië vir Muammar Gaddafi in ’n naamlose, onbekende plek in die middel van die woestyn wou begrawe. Sommige by die Verenigde Nasies het gemeen dit is nie die regte ding om te doen nie. In die oë van die volk wat agterbly, was dit ’n poging om hom die bestaan wat hy gehad het, te probeer ontneem.

Die reg op ’n naam is in die Verenigde Nasies se Konvensies oor die regte van mense uiteengesit. Daarmee word erken dat ’n naam, ’n gesig, identiteit en die erkenning van menswees en teenwoordigheid impliseer. Ons elkeen is ’n naam gegee, wat beteken dat ons in ’n bepaalde verhouding geïmpliseer is, en dat individuele lewens deur hierdie naamgewing verstrik raak in die lewensgeskiedenis van ander. Dit is die basis van die bekende Afrikawoord wat ons oral vandag teëkom: Ubuntu. ’n Mens is net ’n mens tussen ander mense.

In 2009 maak Kirsi Stjerna, professor van Lutherse geskiedenis en teologie verbonde aan die Kalifornië Lutherse Universiteit, in die voorwoord van haar boek Women and the Reformation die volgende opmerking: Teaching courses on the Reformation are no longer feasible without the inclusion of women as subjects in the story of the Reformation and its evaluation.

Onderrig binne ’n kurrikulum van die universiteit en die kerk, beriggewing binne kerklike nuusblaaie, en artikels binne kerklike publikasies kan deur die bydraes van vroue gedurende die Reformasie en die bydraes van vroue binne die geskiedenis van teologie verryk word – dit kan perspektiewe en horisonne vir alle geslagte verbreed. Ongelukkig het hierdie verbreding van horisonne nie altyd plaasgevind nie. Ons vier hierdie jaar 500 jaar van die Reformasie en ons evalueer die impak, betekenis en reikwydte daarvan. Geskiedenis oorvertel en interpreteer is nooit ’n neutrale saak nie. Derhalwe het die grootste gedeelte van my teologiese opleiding, kategese en lewe binne die kerk sover, verbygegaan sonder die bekendstelling aan ook die bekende vroue van die Reformasie.

Dit wat ek vandag weet, het ek self gaan soek en gaan oplees. Elkeen binne die kerk het uiteraard die verantwoordelikheid om altyd self verder te lees en na te dink oor ons Hervormde erfenis – die magdom inligting is te veel om alles, vir almal, altyd, aan te bied. Ons kan egter wel ’n oomblik stilstaan by die erkenning dat daar nie ewewig en balans is ten opsigte van die hoeveelhede inligting wat oor sowel die mans as die vroue van die Reformasie in die lewe en leer van die kerk aangebied word nie.

Die vroue van die Reformasie se lewe en optrede is gegrond op die eg Reformatoriese oortuiging dat die Woord van God vir almal toeganklik is en dat elke persoon wat gewillig is en die vermoë het, die reg het om God en die kerk diensbaar te wees, soos Christus dit gedoen het en ook gevra het. In ’n berig soos hierdie kan ons kwalik probeer om verlore tyd en ruimte in te haal. Ons kan nie almal se name noem nie, net soos daar in opleiding en kategese nie al die bekende manlike figure van die Reformasie genoem word nie. Ons kan egter nooit weer die wanbalans van inligting voor die deur van onkunde lê nie. Ons erken en noem dus graag (1-7 bo van links na regs, 8-14 onder van links na regs):

  1. Katharina von Bora (1499-1552), die geestelike leier en pastorale versorger.
  2. Argula von Grumbach (1492-1563/68), die apologeet en uitgewer van geskrifte ter verdediging van Martin Luther se Reformasiebeweging.
  3. Ursula von Münsterberg (1491-1534), die non wat Rooms-Katolieke konvensie verbreek het. (Daar bestaan geen uitbeelding van haar nie. In die collageword sy verteenwoordig deur Maria Magdalena, na wie die kloosterorde waaraan Ursula behoort het, vernoem is.)
  4. Elisabeth von Braunschweig (1510-1558), die Reformasievorstin wat met Martin Luther korrespondeer het.
  5. Elisabeth von Meseritz (1507-1535), die Reformatoriese kerkliedskrywer.
  6. Katharina Schütz Zell (1498-1562), die Protestantse Hervormer en skrywer.
  7. Marie Dentière (1495-1561), die Hervormer en teoloog wat aktief in kerk en politiek was.
  8. Marguerite de Navarre (1492-1549), die Hervormde beskermvrou van die kunste.
  9. Jeanne d’Albret (1528-1572), die politieke leier van die Franse Hugenotebeweging.
  10. Renée de France (1510-1572), die beskermvrou van die Hugenote in Frankryk en Italië.
  11. Olimpia Fulvia Morata (1526-1555), die Italiaanse geleerde en dosent.
  12. Anne Askew (1521-1546), die skrywer en digter wat vir haar Protestantse geloof in die Londense wagtoring gemartel is en op die brandstapel gesterf het.
  13. Katharine Parr (1514-1548), die skrywer van godsdienstige literatuur.
  14. Jane Grey (1537-1554), die vrou wat op 14-jarige ouderdom briewe in Latyn aan Heinrich Bullinger geskryf het en op 16-jarige ouderdom nege dae lank die Rooms-Katolieke se drastiese pogings om haar tot die Katolieke geloof te bekeer, weerstaan het.

Hul spore lê ook in die sand.

(Dr Van Wyk is dosent in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=ysLNHkHcX9JavInWpBcCWaNhkpvgL3zKbOxRFIlpZyjY6qpLAGY5NZzk75G2NzLkfwwxmvDpJXUeVXF1r9Cfrg%3D%3D&prvtof=GfIzgjvnnqlyUU4rBWBg13%2FB%2BUjuJogXQ2vKkebLWSc%3D&poru=mT%2BU2VsxiTlEwLi%2BSq1HluXan74e8K43QYipa4LQFEvSU%2Be1thtdGnAnMjO4Qn9ID1CpQYbMM1IeHbRlHhzQbASC4eYq%2FkUwo5CQtFsbQrb2OZufACyn7P7yFvhQtlOLn89bH%2FnORpGRqkmMZvNmDppkY1h9GDBMLafPJkm3Gtk%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fkerkwereld%2F450-vroue-van-die-reformasie">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>