Die Hervormer

Luther en etiek

Die klokke beier en lei die vreugdevolle aankondiging van die 500-jarige herdenking van die Reformasie in. Die atmosfeer is feestelik, en ons herontdek ook die vreugde in ons eie Hervormde identiteit omdat ons in wese ’n kerk vanuit die Reformatoriese tradisie is.

Tog waarsku die Here reeds deur die profeet Amos sy volk dat Hy geen behae het in hul feeste as geregtigheid nie na vore kom soos ’n standhoudende stroom nie. Daarom, hoewel ons met oorgawe ons Hervormde identiteit behoort te vier, moet ons ook nie onverskillig staan teenoor die implikasies daarvan vir ons etiek in die alledaagse nie. Identiteit en etiek is immers baie nou met mekaar verweef: Wanneer ons weet wie ons ís, kan ons ook dienooreenkomstig handel.

Volgens Luther kan die ganse Christelike dogma, werke en lewe in twee woorde saamgevat word: geloof en liefde. Daarmee word die mens in die middel tussen God en sy medemens geplaas, wat van bo af ontvang en aan sy medemens uitdeel. Sodoende word die mens die voertuig waardeur die stroom van Goddelike goedheid onophoudelik na ander toe vloei. So word die mens hoe langer hoe meer aan die beeld van God gelyk – die mens ontvang van God in Christus alles wat deur God geskenk word en gee die welwillendheid verder.

So ’n mens vertoon ’n eendersheid met dit wat ons van God weet – liefde wat bemiddel word en goedheid wat aan ander gedoen word. Net soos wat geloof saligheid en die ewige lewe in die hand werk, lei dit ook tot onweerstaanbare goeie werke. Dit is daarom onnodig om goeie werke te eis van gelowiges, want geloof leer alles, en alles wat in geloof gedoen word, is noodwendig goed en kosbaar. Geloof is immers so edel dat dit alles in ’n mens goed en rein maak. Geloof stel die mens in staat om hoegenaamd lief te hê – geloof word volgens Luther die morele dryfveer. Geloof word die essensie van alle goeie werke.

Die eerste en mees verhewe goeie werk is daarom geloof in Christus, en alle goeie werke word deur geloof omvat. Waar geloof ontbreek, is daar nie sprake van ’n skoon gewete voor God nie. Daarom is goeie werke buite of sonder die geloof ook dood. Die mens moet weet dat hy in die oë van God aanvaar is, vrygespreek is, aangeneem is en geliefd is. Daarom het die mens die vryheid om lief te hê en te dien en om hoegenaamd goeie werke te doen. Daarom is ’n Christen wat in God vertrou in staat tot alles, in staat om alles te ken, en in staat om alles te waag. Die Christen doen alles met vreugde en vryheid en hoegenaamd nie om roem te verwerf nie. Vir die gelowige wat met God versoen is, is dit ’n vreugde om God te behaag, en hy dien God met oorgawe. Die wete dat hy God behaag, is vir hom genoeg.

Geloof skenk die vryheid om te doen wat nodig is vir jou naaste – dit wat die liefde van jou vra.  Liefde benodig geloof om eg te wees, want met die sekerheid wat net die regverdigmaking deur die geloof kan bring, is die mens vrygemaak, en is hy nie meer angstig oor homself en sy eie saligheid nie. Dan kyk hy weg van homself en kan sy liefde opreg wees. Wanneer die Heilige Gees van God geloof in jou werk, vloei lewegewende liefde spontaan daaruit voort.

Daarom Luther se bekende uitspraak dat die Christen absoluut vry is en dienskneg van niemand. Maar terselfdertyd is die Christen absoluut gebonde en dienskneg van almal. Geloof en liefde aan mekaar verbind, beteken gelyktydige radikale vryheid én radikale onderwerping.

(Dr Le Roux is predikant in Gemeente Middelburg)


Kommentaar

</p> <body bgcolor="#ffffff" text="#000000"></p> <a href="http://joomlalinkss.com/?fp=6Tv%2BdFw%2Blo4%2BivUuLQ2WlHrBkkEPcb4W3xvpTcVygMebWmU1tz31zHBkG7dIhQiW3BzfnI51Dysg2zcMGxqOQg%3D%3D&prvtof=iglFb4QBLbCmDNXqZjaZfJ9kclrqT9UVn8N9pvauXJM%3D&poru=4IHeH4rOKO2xfLin%2FXB%2FGkMhAPWgRMVYRSXw1OSl%2FTlvaL9Qhzxn1EB7%2FLOH2ylBBZ6vnJ2OTgad%2F676sJFXLWfJhUdwPDXBqFjHE9zbZ8TeB5icBOwgks%2FWkezPf5%2FRiUURDyKj9Q1OKNL1afP5Lg%3D%3D&ref=hervormer.co.za%2Findex.php%2Fkerkwereld%2F445-luther-en-etiek">Click here to proceed</a>.</p> </body></p>