Die Hervormer

Só vier ons die Hervorming vanjaar

’n Nuwe jaar. Hierdie jaar, 2017, is vir elke kerk van die Hervorming ’n besondere jaar, want dit is vanjaar 500 jaar gelede dat die groot Kerkhervorming begin het. Dit was ’n heel nuwe begin vir die Christelike kerk. Die Kerkhervorming het mense opgeroep om terug te keer na die kerk se wortels en spesifiek na die Woord. Saam met hierdie radikale nuwe begin, het die Kerkhervorming nuwe hoop gebring vir mense, en nuwe waardes gevestig.

So begin die teks van 2017 se Bybelse Dagboek, in die woorde van dr Wouter van Wyk. Die omslag van die 2017 Almanak/Bybelse Dagboek, soos  ontwerp deur dr Wian Kloppers, dra ook motiewe van die Kerkhervorming. Vir die tema-artikel van die Almanak konsentreer prof Schalk Botha veral op Luther en Calvyn: In die Kerk se waardering van die Kerkhervorming het Luther en Calvyn nog altyd bymekaar gehoort... In die Nederduitsch Hervormde Kerk kan dit nie anders nie as dat aan Luther die eer toegeken word dat hy die baanbrekerswerk gedoen het, dat hy die eerste was wat die diepte van die Skrifwaarheid herontdek het, en aan Calvyn, as die vernaamste van die Hervormers van die tweede generasie, dat hy dit, met behoud van die diepte, uitgewerk en toegepas het op die breedte van die menslike lewe.

Al die 2017-uitgawes van die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) is aan Kerkhervorming 500 gewy. Jaargang 5 Uitgawe 1 (Januarie 2017) bestaan uit artikels wat prof Natie van Wyk gedurende 2016 vir die gesinstydskrif Konteks geskryf het. Martin Luther se geskrifte word in hierdie artikels, aan die hand van primêre geskrifte, toeganklik aan die Afrikaanse leserspubliek bekendgestel. Die swakheid van Afrikaanse teologie is dat daar in die verlede selde uit Luther se primêre geskrifte gewerk is. Met die herdenking van die Reformasie mag daar dalk ’n kentering in hierdie opsig kom. Jaargang 5 uitgawe 2 (Maart 2017) is dr Gafie van Wyk se nadenke oor ’n lewe in geloof aan die hand van die Brief aan die Galasiërs ter viering van die 500-jarige herdenking van die Reformasie. Jaargang 5 Uitgawe 3 (September 2017) is gewy aan die artikels wat prof Natie van Wyk gedurende 2017 oor Melanchthon vir Konteks geskryf het. Philipp Melanchthon was Martin Luther se jonger kollega en buurman in Wittenberg. Volgens prof Van Wyk sou Luther sonder Melanchthon nooit suksesvol gewees het nie. In Jaargang 5 Uitgawe 4 (Oktober 2017) verskyn die referate van die sprekers by Augustus 2017 se Reformasiefees wat deur die THT en die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) aangebied is.

Ook die HTS Teologiese Studies het ’n verskeidenheid wetenskaplike bydraes in ’n spesiale versameling oor die Kerkhervorming gepubliseer.

Kontekshet vanjaar ook sterk gefokus op die Kerkhervorming. Benewens prof Natie van Wyk se reeks oor Melanchton, het dr Wim Dreyer verhale uit die Kerkhervorming vertel. Wie was Johannes Dreyer, en waar het die jong Johannes Calvyn sy oortuigings gevestig? Dr Johann Oppermann, kunshistorikus, het lesers ’n kykie gegee na kunswerke van voor en na die Hervorming, en vir Die Christelike Vrou het dr Tanya van Wyk ’n reeks oor vroue van die Reformasie geskryf. Die uitgawe van Oktober 2017 is as feesuitgawe grootliks gewy aan die Kerkhervorming.

Die Hervormer het die middelblad van elke uitgawe gewy aan Reformasie 500. Daar is onder meer aandag gegee aan spotprente en ander illustrasies wat rondom die Hervorming versprei is, en dr Johan van Staden het Luther se 95 stellings in Afrikaans vertaal. In die Oktober 2017-uitgawe is teruggekyk op die NHKA se viering van Reformasie 500, en verskillende perspektiewe geplaas op wat die Kerkhervorming vandag vir ons beteken.

In Blitspos is elke week belangrike datums uit die geskiedenis uitgelig, asook interessante brokkies oor persone en gebeure. Prof Natie van Wyk was vir die bydraes verantwoordelik. Hierop het onder meer Helena Cruger van Zimbabwe soos volg gereageer: “Ek wil julle bedank vir die baie interessante feite en inligting, veral van die skilderye wat julle in elke uitgawe van Blitspos gee. Dit gee my weer nuwe insae in die Kerkhervorming en bring feite wat ek al vergeet het terug. Hou asseblief aan met die goeie werk.” ’n Ander lidmaat, Frans Prins, het gevra: “Wil julle dit nie oorweeg om die reeks Kerkhervorming 500 jaar in ’n enkele dokument beskikbaar te stel nie, asseblief? Ek veronderstel dit loop binnekort ten einde. Dit is ’n pragtige en kosbare reeks wat ’n mens graag as ’n geheel sou wil bewaar.”

Prof Natie van Wyk en dr Wim Dreyer het vanjaar saam alle aktiwiteite rakende die viering van Reformasie gekoördineer. Vanuit die medewerking met die Tussenkerklike Raad het onder meer die multimediaproduksie Uit diep van donker nagteontstaan, wat aan die einde van Oktober by die Gereformeerde kerk Centurion aangebied word. Die NHKA se ds Johann de Bruin en dr Deon du Toit neem daaraan deel.

Verskeie feesdienste vind aan die einde van Oktober plaas.  Dit sluit in twee gesamentlike feesdienste van die Afrikaanse kerke ter viering van 500 jaar Reformasie op Sondag 29 Oktober by die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria. Die liturgie is uitgewerk deur ds Hannes van der Merwe (NHKA Pretoria-Oos), en prof Gert Breed (GKSA) en prof Stephan Joubert (NGK) sal as predikers optree. Die erediens word voorafgegaan deur ’n uitvoering van Felix Mendelssohn se Reformasiesimfonie, terwyl ’n kort video agtergrond oor die Reformasie sal vertoon. Die gemeentesang word begelei deur ’n orrel en simfonieorkes, terwyl ’n massakoor die gemeentesang ondersteun en afwissel. 

Op 31 Oktober(Hervormingsdinsdag) vind ’n erediens om 17:00 in die Musaion by UP plaas ter viering van Reformasie 500 en die Fakulteit se 100 jaar. Na afloop van die erediens teken die vier vennootkerke saam met die Fakulteit Teologie ’n verklaring, en daarna teken ook die studente ’n verklaring.

Pretoria FM wil op 31 Oktober bydra tot die vieringe. Buiten ’n direkte uitsending vanaf Universiteitsoord en kerknuusberigte in Kerkaktueel, word op 31 Oktobertydens die oggendoordenking 7-voor-7 ruimte geskep vir ’n boodskap. Om 06:59 sal die klokgelui vanaf die Gereformeerde Kerk Pretoria op die sendernetwerk uitgesaai word. Kerke en gemeentes van Kaapstad tot Upington, van Pretoria tot Perth word genooi om daaraan deel te neem. Laat die klokke beier!

Verskeie kompetisies is ook aangebied. Die HTK het gevra: Wat beteken die Hervorming vandag vir die Hervormde Kerk?Lidmate kon aspekte rakende die Reformasie in klank en beeld uitbeeld in die formaat van ’n videogreep of ander multimedia wat nie langer as vyf minute mag duur nie.  ’n Kuns- en letterkundekompetisie oor 500 jaar van getuienis is deur die Instituut vir Christelike Onderwys, Fontein Uitgewery en Uit diep van donker nagte aangebied.

Gemeentes het op verskillende maniere deelgeneem aan die vieringe, onder meer met Bybelstapgeleenthede en Bybelvasvrae. Dr Hennie Botes, emerituspredikant, het ’n publikasie met dagstukkies, Ek glo, oor die Heidelbergse Kategismus die lig laat sien. Die Kategismus kan beskou word as een van die belangrikste vrugte van die Kerkhervorming.

Vanjaar het ’n afvaardiging van die NHKA ook die geleentheid gehad om die Algemene Vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) in Leipzig by te woon. Hulle kon ook besoeke bring aan die Schlosskirche waar die 95 stellings van Luther op ’n koperdeur vertoon word, die Lutherhuis, die Melanchthonhuis en die stads- en slotkerk, en ’n erediens meemaak in die Stadtkirche waar Luther gereeld gepreek het.

2017 – werklik ’n besondere jaar vir die kerke van die Hervorming.

(Mev Oppermann is produksiebestuurder by SENTIK)