Die Hervormer

Kritiese teologie

Waaraan ons 500 jaar ná 31 Oktober 1517 met dankbaarheid kan vashou, is die oortuiging dat teologie krities beoefen moet word. Krities beteken: om alle besluite van vorige vergaderings en alle geskrifte van vorige geslagte en alle uitsprake van tydgenote krities te evalueer aan hand van die kerk se primêre bron, die Bybel.

Die implikasie is dat ons vandag wakker moet wees, om nie op sleeptou geneem te word deur modeneigings wat nie met die evangelie van Jesus Christus versoenbaar is nie. Kritiese denke word selde geduld; daarom moet Luther se voorbeeld gevolg word deur te sê hier staan ek, ek kan nie anders nie aangesien die Bybelse boodskap van my verwag om hier te staan.

 

Die herdenking van die Reformasie gee die geleentheid om die verborge wortels van ons Kerk te herontdek. Ons het in die verlede (heel verstaanbaar) hoofsaaklik op die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis gekonsentreer. In die proses het die Europese kerkgeskiedenis op die agtergrond geskuif, en só het ons van die unieke wortels van ons Kerk begin vergeet. Ons as Hervormers mag byvoorbeeld 23 Augustus 1572, Bartolomeusnag, nooit vergeet nie. Hierdie datum kan ons jaarliks daaraan herinner dat ons voorgeslagte martelare en vlugtelinge was. Ons Hugenoteverlede mag nie uit ons nadenke verdwyn nie, aangesien dít op verraad sal neerkom. Die Hervormde Kerk is ’n kerk wat gebore is uit vervolging en martelaarskap. Ons geestelike voorvaders was vlugtelinge en swerwers wat bereid was om te sterf vir die Bybelse waarheid. Die volgende dekades sal laat blyk of ons die naam Hervormd waardig is. 

(Lees die volledige artikel in die NHKA se 2017 Gedenkalbum)

(Prof Van Wyk is die Kerk se koördineerder vir ekumeniese skakeling)