Die Hervormer

Só het Hervormers die Hervorming in die 20ste eeu herdenk

Met die 2017-viering van die Kerkhervorming het ek gewonder hoe ons as Hervormers die Hervorming gedurende die 20ste eeu herdenk het. Ek het my toegespits op publikasies in die Kerkargief en die SP Engelbrecht-biblioteek, en stukke in die SP Engelbrecht-museum.

Sewe hedenkingswyses staan uit: 

  1. Ons Kerkorde bepaal die herdenking onder Verkondiging. Baie herdenkings op Hervormingsondag aan die einde van Oktober asook Bartolomeusnag op die Sondag naaste aan 24 Augustus vind so in eredienste plaas – meestal sonder berigte en foto’s. 
  2. Deur die grootste gedeelte van die 20ste eeu loop die onderrig van kerkgeskiedenis en spesifiek dié van die Kerkhervorming soos ’n goue draad in ons kategese- en skoolhandboeke. Dis belangrike voorkennis vir ’n herdenkende lidmaatkorps. Dink maar aan die Kort Begrip, Algemene en SA Kerkgeskiedenis van AJG Oosthuizen, en later AD Pont se blou Kerkgeskiedenis-leerboek. Ook SP Engelbrecht se NHKA Geskiedenis. Selfs skoolhandboeke het hoofstukke gehad oor die Hervorming.
  3. Artikels in kerklike publikasies soos die Almanak, Die Hervormer (ook Studente-Hervormer), Die Christelike Vrou, Konteks en HTS (Hervormde Teologiese Studies) het die veronderstelling dat die kerklidmate lesende lidmate was. In die Almanak van 1918 word al gesê dis bedoel vir ons lesende gemeentelede – ’n opvoedingstaak dus. Heel moontlik – en ongelukkig – het baie van die herdenkings by lidmate verbygegaan as hulle nie die Almanak en Die Hervormer gekoop, geleen en geléés het nie. Enkele voorbeelde van artikels is ’n Biografie oor Luther – 400 jaar na sy dood deur LM le Roux in Die Hervormer van Oktober 1946; in 1982 en 1983 (Luther 400 geboortejaar) verskyn in Die Hervormer ’n lang reeks oor Luther onder die titel Die moed om volgens oortuigings te leef, deur JJP Müller; en uitgawes van Oktober en November 1967 van Die Hervormer is in geheel gewy aan die 450ste Hervormingsherdenking. Dié reëlmaat vind ons telkens in Oktober se publikasies wanneer die Hervorming met prente en artikels gevier word.
  4. Ander publikasies: In 1942, 1965 en 1986 vertoon drie NHKA-gedenkalbums ons Hervormingwortels in woord en beeld en dra so by tot die bewusmaking en viering van ons 16de-eeuse erfenis. As deel van die 1983-Lutherjaar sien twee boeke vanuit ons geledere by Kital-uitgewery die lig: ’n Man van die Woord – ’n lewenskets van Martin Luther deur AD Pont, en Martin Luther 1483-1546, deur verskillende bydraers met SJ Botha as samesteller. 
  5. Volksfeeste onder leiding van die kerk: Vir lank het die Kerk ’n groot rol gespeel in die samelewing en is kerkfeeste ook as landsfeeste gevier. In 1917 is die 400 jaar na Kerkhervorming so gevier; in 1933 ’n Bybelfees met die eerste Afrikaanse Bybel; en in 1983 die Nuwe Afrikaanse Vertaling. Ben Engelbrecht skryf juis in Die Hervormer van Oktober 1967 oor die Bybel in die volkstaal as vrug van die Hervorming. Voorts was daar ook die ingebruikneming van die Afrikaanse Psalm- en Gesangeboeke in 1944 en 1978; en in 1988 die Hugenote 300 jaar. Ds Johannes Dreyer het in 1939 in Die Hervormer geskryf oor die herdenking van die Hugenote, toe 250 jaar. Die Hervormer meld dat daar op 16 en 18 Oktober 1967 in die stadsale van Pretoria en Johannesburg uitvoerings van Bach se Mis in B mineur plaasvind met die Konservatoriumkoor en -orkes onder leiding van Willem Mathlener – onder andere tree die tenoor Gert Potgieter, ’n Hervormde lidmaat, ook  daar op. Spesiale posseëls en eerstedagkoeverte word op 31 Oktober 1967 vrygestel wat so die hele land en die algemene publiek betrek. Op 31 Augustus 1983 is UP se Teologiegebou amptelik in gebruik geneem met die Luther- (400 geboortejaar) en Bybelfees.
  6. In die SP Engelbrecht-museum is ’n aantal gedenkmunte wat die Hervorming op die een of ander wyse vier. In die SP Engelbrecht-biblioteek vorm ongeveer 40 boeke ’n fokuspunt van die Hervorming. 
  7. Herdenkings in gemeentes. ’n Interessante pamflet vanuit die SP Engelbrecht-biblioteekversameling is ’n feesprogram van 2-4 November 1917 van die drie susterkerke en die Onderwyskollege op Heidelberg, Transvaal, met ’n gesamentlike viering: ’n kinderoptog (1000 seuns en meisies), meisies in wit, elkeen dra ’n wit blom, musiek en sang, toesprake, eredienste en Nagmaal. Ds Jac van Belkum van die NHKA het ’n toespraak gelewer oor Luther en de Bijbel en ’n jeugerediens gehou oor Die Hervorming en de opvoeding. In die 1918-Almanak is ’n foto van hierdie vieringe. 

Wanneer ‘n mens so met die bronne in die Argief, Biblioteek en Museum besig is, beïndruk die omvang van ons Bybels-Reformatoriese erfenis opnuut. Ontelbare aksies van ons Kerk kan inderdaad as voortdurende lewende herdenking van die Hervorming gedurende die 20ste eeu tot op hede geag word.

Ek is oortuig dat ons as Hervormers nie net op belangrike datums met groot feeste die Kerkhervorming herdenk het nie, maar ook deur gewoon Hervormers te wees. Die jonger geslag moet nou vra hoe hulle dit wat hulle erf, vorentoe kan vat na Reformasie 600 in 2117.  Ons kinders moet by ons erfenis betrek word – anders bly dit net ’n liefhebbery van enkele oues en raak die wins van die Hervorming verlore. 

*** Ek sal bykomende inligting van veral vieringe in ons gemeentes in 1917 of ander tye in die 20ste eeu en selfs pamflette, programme, foto’s en vertellinge van feeste vanjaar verwelkom.  Alles kan in die Argief en Museum bewaar word. Stuur bydraes asseblief na cjdb@telkomsa.net.

(Ds De Bruin is emerituspredikant en museumbeampte van die SP Engelbrecht-museum)