Die Hervormer

Wanneer engele glimlag en duiwels huil…

Martin Luther se verhouding en huwelik met Katharina van Bora het my nog altyd gefassineer. Sy lewe het nie net skokgolwe in die kerklike sienings en leerstellings van sy tyd veroorsaak nie – sy persoonlike lewe vertel ’n verhaal wat ons opnuut weer laat dink oor die huwelik en gesinslewe.

Luther en Van Bora se lewe saam was van die begin af gevul met avontuur, opwinding en hartseer. Katharina was ’n non in die Cisterciënser-klooster by Nimbschen. In 1522 het Luther se geskrifte haar en ander nonne gemotiveer om hul klooster te verlaat. Dit was egter nie so maklik nie as gevolg van die nonne-eed wat hulle afgelê het. Enige hulp aan die nonne sou die doodstraf beteken. Hulle het aan Luther geskryf en sy hulp gevra.

 

Luther het by ’n vriend, Koppe, gaan aanklop vir raad. Koppe, wat ’n handelaar van beroep was, het die nonne in vaatjies op sy wa versteek. So kom Katharina, Luther se toekomstige bruid, in ’n wynvaatjie by Wittenberg aan. Al die ander nonne is later in die eg verbind, behalwe Katharina. Nadat alle ander pogings misluk het om haar in die huwelik te verbind, het sy te kenne gegee dat sy net met twee mense sal trou, naamlik Amsdorf of Luther self.

Op 13 Julie 1525 trou Luther met Katharina van Bora. Hy het altyd spottender na haar verwys as die “verlatene”. Die huwelik het golwe veroorsaak en baie kritiek uitgelok. Luther voeg die daad by die woord wanneer hy die monnike-eed afsweer. Hy het besluit dat sy huwelik die pous sou ontstel, sy pa tevrede sou stel, die engele sal laat glimlag en die duiwel sal laat huil.

Volgens oorlewering was dit ’n gelukkige huwelik. Luther het geskryf dat hy dit geniet het om elke oggend langs “twee poniesterte” wakker te word. Luther het geglo dat die mens nie vir eensaamheid geskape is nie. Baie mense het hul huwelik as gelukkig bestempel. Dalk was dit omdat Luther dikwels eerder na sy vrou geluister het wanneer dit kom by die publikasie van sy artikels of selfs die hantering van die huishouding in die Swart klooster waar hul gesin woonagtig was. Katharina het haar vinger gehou op alles. Sy was netjies en georganiseerd en het selfs hul eie bier gebrou.

Luther en Katharina het ses kinders gehad: Hans (7 Junie 1526); Elizabeth (10 Desember 1527); Magdaleen (4 Mei 1529); Martin (9 November 1531); Paul (29 Januarie 1533); en Margaret (17 Desember 1534). Elizabeth sterf as kind in Augustus 1528. Magdaleen het in haar tienerjare gesterf, in 1542.

Buiten hul gesin was die Luther-huis gevul met ander mense. Katharina se tannie, Lena, het vir baie jare by hulle gebly. Hulle het agt weesnefies en -niggies help grootmaak en het menige ander blyplek gegee. Volgens oorlewering was daar tot 25 mense vir aandete aan tafel in hul huishouding. Van alle gaste is verwag om deel te neem aan die gebruike en gebede van die gesin se lewe. Vir ontspanning het die Luthers gewoonlik ’n rolbalspel in die tuin gespeel of deelgeneem aan ander gesinspeletjies soos skaak, en hulle was baie lief vir musiek. Hulle het een hond as troeteldier gehad en het die meeste van hul eie kos in die tuin aangeplant.

Hulle was geduldige ouers en het hul kinders gedissiplineerd grootgemaak, met baie liefde. Luther en Katharina het ’n wonderlike voorbeeld van ware liefde en ’n Bybelse familielewe gestel. Luther het dikwels na sy vrou verwys as Domina mea, my meester, of selfs Meneer Käthe.

Luther het die huwelik as uniek beskou en selfs die kontemporêre sienings van sy tyd uitgedaag oor hul perspektief op die huwelik. Dit is duidelik dat Luther vas geglo het dat die huwelik ’n instelling van God is. Katharina was vir Luther ’n onmisbare hulp en sielsgenoot en sekerlik sy waardevolste skat in die bediening en in sy werk gedurende die Reformasie. In ’n stadium het hy dit self so verwoord: Die grootste genade en die mooiste gawe van God is om ’n goeie, vriendelike, vrome en huislike eggenote te hê met wie ’n mens in vrede lewe en aan wie ’n mens alles wat jy het, kan toevertrou.

Hul verhouding was besonders. Luther het werklik alles aan Katharina toevertrou. Van ’n alewige stroom gaste in hul huis tot die bestuur van sy begroting en belange wat gedoen moes word – en dit op ’n salaris van ’n professor in daardie tyd. Luther was heeltemal reg toe hy vroeër in sy huwelik gesê het dat die engele sal glimlag en die duiwels sal huil oor hierdie vrou wat sy lewe ryker en voller gemaak het. Reeds in die 16de eeu moes enige man toegee dat daar agter elke goeie Hervormer ’n beter, meer gekwalifiseerde Hervormer staan. Só ’n liefde van twee sielsgenote en hul gesinslewe saam laat werklik engele glimlag en duiwels huil...

(Dr Delport is predikant in Gemeente Swartkop)