Die Hervormer

Martin Luther oor die betekenis van die opwekking van Jesus Christus

 

Luther het in sy uitleg van die Apostoliese Geloofbelydenis aan die opwekking van Christus aandag gegee. In sy Klein Kategismus vir die gemeentepredikant en prediker (1529) het hy ’n kort uitleg van die Apostolicum aangebied.

In hierdie uitleg het hy die volgende oor die betekenis van Jesus Christus se dood en opstanding geskryf: Ek glo dat Jesus Christus ... my Here is, wat my ... verlos het, bevry het van alle sonde, die dood en die mag van die duiwel ... sodat ek sy eiendom kan wees en in sy Ryk onder Hom kan lewe en Hom kan dien in ewige geregtigheid, onskuld en saligheid, net soos Hy wat uit die dood opgestaan het leef en regeer tot in ewigheid. Dit is gewis waar.

5 WEBLuther onderstreep dat die Christus van die belydenis, my Here is. Wat Hy vermag het, gaan my aan. My lewe word geraak. Christus se opstanding (wat nie los van sy menswording en dood bedink kan word nie) bevry my van sonde, dood en die bose. Wat verder onderstreep moet word, is sy argumentering vanuit die “gerealiseerde eskatologie”. Met ander woorde, Luther sien bevryding van sonde, dood en boosheid nie net as ’n belofte nie, maar as iets wat nou alreeds ’n werklikheid is. So seker as wat Christus die dood oorwin het en nou alreeds oor alles Heer is, so seker is dit dat ek nou alreeds in die vrugte van sy bevryding deel, en daarom in ooreenstemming daarmee moet lewe. Dít alles leerstellig; maar hoe het hy hierdie oortuigings in die prediking hanteer?

Op Paassondag, 31 Maart 1532, preek hy oor die woorde van die Kategismus wat verband hou met die opstanding van Christus. Insiggewend is dat hy die opeenvolgende gedagtes neergedaal het na die hel, en op die derde dag opgestaan het uit die dood as ’n eenheid behandel. Die rede: Hierdie twee aspekte van ons verlossing hang onlosmaaklik saam. Één opmerking oor die “hellevaart” is belangrik. Sy “neerdaling na die hel” het die doel gehad om die dood en die bose (of die duiwel) finaal te oorwin – en sy opstanding is die bewys daarvan. Die opstandingsboodskap is daarom vir Luther die hart van die Christelike geloof. Hy wys ook daarop dat ons met die verwagting kan lewe dat ons nou alreeds seker weet dat God ons ook uit die kloue van die sonde, bose en dood gaan red. Met Christus het ons opstanding alreeds begin.

Vir Luther is die opstanding nie net ’n belofte nie, maar ’n teenswoordige werklikheid wat deur die doop bevestig word. Hierdie perspektief skep ’n totaal ander benadering tot die graf. By die graf moet ons vir mekaar sê, die nuwe lewe saam met Christus het reeds begin. Volgens Luther is die hoof en hart van ’n gelowige reeds in die hemel, al is die voete nog in die graf. Dít was sy manier om te sê: Ons deel nou alreeds in die nuwe lewe saam met Christus, al gaan die lewe op aarde nog voort.

(Prof Van Wyk is die Kerk se koördineerder vir ekumeniese skakeling)