Die Hervormer

Die Reformasie en die gedrukte media

Rondom 1440 word die boekdrukkuns in Duitsland deur Johannes Gutenberg uitgevind en daarna landwyd en verder ontwikkel. Teen 1517 is daar reeds talle drukkerye regoor Europa wat meer as 30 miljoen afskrifte van ’n verskeidenheid publikasies uitgegee het. Die era van die massamedia het aangebreek.

Martin Luther se 95 stellings, wat hy aanvanklik volgens oorlewering op 31 Oktober 1517 teen die deur van die Kasteelkerk op Wittenberg vasgesit het, het gou onder die aandag van die snelgroeiende drukkersbedryf gekom. Die invloed van die gedrukte media op die openbare mening het kerkleiers skielik regop laat sit. Soms is plakkate van verskillende groottes gedruk en in openbare ruimtes opgesit. Dit was egter die druk en verspreiding van pamflette (wat enigiets kon insluit van enkelbladsy-strooibiljette tot omvattende 20-bladsy-artikels en -preke) wat die grootste impak gemaak het.

 

41 WEBDie onmiddellike en wye reaksie op die publikasie van sy 95 stellings het blykbaar selfs vir Luther onkant gevang – in sy woorde: Ek sou heeltemal anders en baie meer akkuraat geskryf het as ek geweet het wat gaan gebeur. Gevolglik het Luther sy volgende versamelings stellings (disputate) in gewone omgangstaal geskryf en het dit veel minder akademies daar uitgesien.

Die kerk van die tyd was van oortuiging dat gesprekke oor leerkwessies nie in die openbare domein tuishoort nie, maar eerder agter toe deure deur enkele ingewydes bespreek behoort te word. Die bykans onbelemmerde verspreiding van inligting en idees het nuwe moontlikhede ontsluit, die verbeelding aangegryp, en die Reformasie ’n verrassende maar broodnodige hupstoot gegee. Politieke en godsdienstige magte is uitgedaag op maniere wat voorheen haas ondenkbaar was. Die skielike toename in geletterdheid verbreed ook meteens die horisonne van die opkomende middelklas.

Die snelontwikkelende nuwe mediaomgewing van die tyd het baie gemeen met vandag se sosialemedianetwerke op platforms soos elektroniese gespreksforums, blogs, Facebook en Twitter. Dit was ’n gedesentraliseerde en grootliks onbeheerde (en onbeheerbare!) sosiale sisteem waar die deelnemers self verantwoordelik was vir alles – van die inhoud tot die reëls en verspreiding.

Danksy Luther se skielike bekendheid, sou hy bloot die teks van nuwe preke, artikels of disputate na ’n goedgesinde drukperseienaar neem, en gou sou dit soos ’n warrelwind deur die netwerk van drukkerye regoor Duitsland trek. Rondreisende handelaars en predikers was van die effektiefste verspreiders van die pamflette van dorp tot dorp. Waar dit genoeg belangstelling gewek het, is dit deur plaaslike drukkerye gereproduseer en versprei, in die hoop om ’n vinnige wins uit die debat te maak.

Die eerste preek van Luther wat in Duits verskyn het (’n preek oor aflate en genade), is ten minste 14 maal herdruk in 1518 alleen. Bykans een derde van die ongeveer 8 miljoen pamflette wat gedurende die eerste dekade van die Reformasie gedruk is, was Luther se werke. Baie ander was direkte pogings om Luther te korrigeer of te diskrediteer, of die pous te verdedig.

Die ongekende vermoë om so wyd en openlik oor aktuele kwessies te debatteer, het gelei tot groot opgewondenheid en ’n ervaring van betrokkenheid by iets betekenisvol. Op stadspleine en dorpsvergaderings, en in woonhuise, kroeë en restaurante, is die inhoud van die pamflette oor en oor bespreek. Die debat is onomkeerbaar na die “gewone” mense geneem. Die media van die dag, en derhalwe die populêre opinie, het aan Luther se teologie die nodige stukrag verleen vir dit wat sou volg.

Die dikwels felle pogings tot sensorskap en mediabeperking was meestal futiel – die golf was te groot, en die proses, veral vir jongmense, heeltemal te opwindend. Luther se teenstanders het die snelle vaart waarteen die Reformasieleer versprei het, vergelyk met ’n aansteeklike virus. In hedendaagse terme sou gesê kon word dat Luther se boodskap “viraal gegaan” het, en daar was geen keer meer aan die Reformasie nie.

Georg Vogler, kanselier van die Ansbach-streek in Bavaria, Duitsland, het met sy dood in 1550 ’n omvattende versameling pamflette uit die tyd van die Reformasie nagelaat aan Rothenburg, ’n dorp in die streek, waar dit in die Reichsstadtmuseum te siene is.

(Dr Van Staden is een van Die Hervormer se twee subredakteurs en leraar in Gemeente Sionspoort)