Die Hervormer

Martin Luther se 95 stellings (11-20)

Vanweë ’n liefde vir die waarheid en ’n diepe begeerte om dit behoorlik toe te lig, verklaar eerwaarde vader Martin Luther, Magister in die Vrye Kunste en die Heilige Teologie en daarin ’n gewone hoogleraar te Wittenberg, hiermee dat die onderstaande stellings onder sy voorsitterskap gedebatteer gaan word alhier. Derhalwe versoek hy diegene wat nie teenwoordig kan wees om mondelings debat te voer nie, om dit skriftelik te doen. In die Naam van ons Here Jesus Christus. Amen.

5 2 WEB11.  Die siening dat kerkregtelike sondestraf omgesit kan word in die straf van die vaevuur, is onkruid wat sonder twyfel gesaai is terwyl die biskoppe aan die slaap was.

12.  In die verlede is kerkregtelike sondestraf nie ná nie maar vóór absolusie opgelê om as toets te dien of die berou wat getoon is, werklik opreg is.

13.  Diegene wat besig is om te sterf, word deur middel van die dood van al hul sondeskuld bevry; wat die kerklike reg aanbetref, is hulle reeds dood en dus onthef van alle verdere regsgevolge.

14.  Onvolkome vroomheid en liefde bring noodwendig groot angstigheid by ’n sterwende persoon mee; en hoe minder volmaak die vroomheid en liefde, hoe groter die angs.

15.  Hierdie vrees en angs (sonder dat dit nodig is om oor ander dinge iets te sê) is reeds voldoende om iemand die straf van die vaevuur te laat ervaar, want dit kom baie na aan die verskrikking van vertwyfeling.

16.  Die hel, die vaevuur en die hemel blyk op dieselfde wyse van mekaar te verskil as wat vertwyfeling, byna-vertwyfeling en heilsekerheid van mekaar verskil.

17.  Vir die siele in die vaevuur neem die verskrikking noodwendig af namate die liefde toeneem.

18.  Dit blyk dat dit nie bewys kan word nie, hetsy op Skriftuurlike of enige ander gronde, dat siele in die vaevuur niks meer kan verdien nie of in liefde kan toeneem nie.

19.  Ook blyk dit dat dit nie bewys kan word nie dat hierdie siele van hul saligheid heeltemal seker kan wees, al is ons baie seker daarvan.

20.  Daarom bedoel die pous met die woorde volle kwytskelding van sondestraf nie sonder meer alle strawwe nie, maar slegs dié wat hy self opgelê het.