Die Hervormer

Martin Luther se 95 stellings (1-10)

Vanweë ’n liefde vir die waarheid en ’n diepe begeerte om dit behoorlik toe te lig, verklaar eerwaarde vader Martin Luther, Magister in die Vrye Kunste en die Heilige Teologie en daarin ’n gewone hoogleraar te Wittenberg, hiermee dat die onderstaande stellings onder sy voorsitterskap gedebatteer gaan word alhier. Derhalwe versoek hy diegene wat nie teenwoordig kan wees om mondelings debat te voer nie, om dit skriftelik te doen. In die Naam van ons Here Jesus Christus. Amen.

  1. Luther 95 ThesenAs ons heer en meester Jesus Christus sê Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt 4: 17), bedoel Hy daarmee dat ’n mens se hele lewe een van bekering behoort te wees.
  2. Die woord bekering in hierdie verband verwys nie na die sakrament van boetedoening (dit wil sê, die bediening van die bieg en genoegdoening deur ’n priester) nie.
  3. Tog behels dit nie net innerlike bekering nie; innerlike bekering is van geen waarde nie as dit nie ook lei tot die uiterlike afsterwe van die vlees nie.
  4. Daarom bly alle sondestraf van krag solank die mens ’n afkeer van homself het (dit is die ware innerlike bekering), totdat die tyd aanbreek om die koninkryk van die hemel binne te gaan.
  5. Die pous wil nie en kan nie iemand van sondestraf kwytskeld nie, behalwe in daardie gevalle waar die straf volgens sy eie oordeel of ingevolge bepalings van die kerklike reg opgelê is.
  6. Die pous kan niemand se sonde self vergewe nie; hy kan hoogstens verklaar en bevestig dat iemand deur God vergewe is. ’n Uitsondering is dat hy wel iemand van sondeskuld kan vryspreek in gevalle waar die kerklike reg aan hom die bevoegdheid daartoe verleen, en as ’n mens dan hierdie gesag minag, sal die sondeskuld stellig bly voortbestaan.
  7. God vergewe niemand hul sonde sonder om ook van hulle ’n ootmoedige gehoorsaamheid aan die priester (sy verteenwoordiger) te verwag nie.
  8. Kerkregtelike maatreëls rondom sondeskuld en bekering is uitsluitlik van toepassing op hulle wat lewe en nie op enigeen wat besig is om te sterf nie.
  9. Daarom bewys die Heilige Gees deur middel van die pous telkens aan ons ’n weldaad wanneer daar in ’n dekreet ’n uitsondering gemaak word vir ’n noodgeval of ’n sterfgeval.
  10. Priesters wat hul tugbevoegdheid kragtens die kerklike reg gebruik om mense wat besig is om te sterf onder die indruk te bring dat hulle bestem is vir die vaevuur, tree onkundig en boosaardig op.