Die Hervormer

Martin Luther oor die lyding van Jesus Christus

Luther het gedurende die Lydenstyd van 1519 ’n “preek” oor die lyding van Christus gepubliseer. Hierdie “preek” is eintlik ’n kort artikel van agt bladsye, en dit dra die titel ’n Preek oor die verstaan van die heilige lyding van Christus. In die artikel behandel Luther ’n tipiese vroomheidstema van sy tyd, naamlik die verinnerliking van die lyding van Christus.

Luther lewer kritiek op die Middeleeuse benadering wat op die veruiterliking van die godsdienstige lewe gefokus het. Die blote nakoming van vroomheidrituele soos vas en gebed maak ’n mens nog glad nie welgevallig vir God nie. Die regte innerlike toe-eiening van Christus se lyding is belangrik. Christus se lyding kan alleenlik reg toegeëien word wanneer ons ons eie sonde en verlorenheid erken. Slegs vanuit die perspektief van ons verlorenheid, kan ons die diepte van God se liefde in Christus se lyding ontdek.

Lyding van ChristusLuther het 15 stellings opgestel wat oor die lyding van Christus handel. Vanaf stelling agt redeneer hy dat die nut van die herdenking van Jesus se lyding en dood met menslike selfkennis te make het. Op Goeie Vrydag behoort dit dus ten diepste oor hermeneutiese selfontdekking te gaan. Ons moet ontdek wie en wat ons ten diepste is, naamlik mense wat afsydig is teenoor God en ons medemens. Ons in-ons-self-gekeerdheid is lewensverwoestend – nie net van ons eie lewens nie, maar uiteindelik ook dié van Jesus.

In die negende stelling kom hy dan terug op die gedagte van verskrikking en vrees. Christus se lyding is nie die verskrikking nie, maar ons sonde – en daarom boesem die kruisiging vrees by ons in vir God se oordeel. Hierdie angs en vrees vir God se toorn kan nie ongedaan gemaak word deur vroom kerklike rituele nie, maar slegs wanneer ons deur geloof begryp word en aanvaar dat Christus se kruis ten diepste genade is. Wie een enkele dag só oor God se lyding nadink, doen beter as om ’n hele jaar lank deur rituele en doenighede genade van God te probeer afdwing. Wat Luther benadruk, is dat genade en barmhartigheid ontvang moet word, en dat ons dit nie moet probeer bewerkstellig nie. Vroom doenighede is nie genoeg om die verwoesting van ons sonde ongedaan te maak nie. God self wil dit doen – en ons moet dit só aanvaar.

In die 12de stelling neem Luther die argument ’n stappie verder. Goeie Vrydag en die besinning oor Christus se lyding is belangrik, maar die nadenke oor die evangelie kan nie daar stop nie. Ons moet aanbeweeg na Paassondag en die opwekking van Christus. Die worsteling van die gewete oor sonde en skuld is één aspek van die evangelie. Die ander aspekte het met vryheid en die vooruitsig op nuwe lewe te make. Aanhoudende gewetenswroegings oor ons mislukte menswees getuig nie van geloof nie. Geloof aanvaar die genade van Christus en beweeg aan om in vryheid en hoop verder te lewe.

(Prof Van Wyk is die Kerk se koördineerder vir ekumeniese skakeling)