Die Hervormer

Die Reformasie en die orde van die erediens (Deel 1)

Gesprekke oor die orde van die erediens hou met twee goed rekening. Aan die een kant moet ons weet hoe die leer in verband staan met wat in die erediens gebeur. Aan die ander kant moet ons ook oplet na die boodskap wat die liturgie self oordra.

Hoe die elemente van die erediens met mekaar verband hou, en hoe en waar ou tekste en nuwe formulerings in die erediens gebruik word, het alles vir lidmate betekenis. Liturgie gaan dus oor hoe die erediens lyk, maar ook oor wat elke bousteen van die erediens afsonderlik en die erediens as geheel beteken.  

LuterJustinus die Martelaar (100-165 nC) sorg vir ’n juweeltjie met sy vertelling van wat gelowiges in die jaar 150 in Rome gedoen het om die Sondag te vier. Hy skryf dat, op Sondae, almal wat in Rome of in die omliggende platteland woon, bymekaarkom. Die erediens begin met Skriflesing. Die een wat leiding neem, preek daaruit en spoor die gemeente aan om wat hulle gehoor het, te gaan uitleef. Dan staan die gemeente hande omhoog en bid vir hulself en vir almal oral. Saam sê hulle Amen, en dan groet die lidmate mekaar met soene.

Daarna vier almal die Nagmaal. Die gemeente bring dankoffers na die voorganger toe, onder andere brood, en wyn wat met water gemeng is. Die voorganger neem die gawes in ontvangs en loof God die Vader, Seun en Heilige Gees in ’n dankgebed. Die gemeente antwoord met Amen, en die diakens deel die gawes uit.

Teen die tyd van die Hervorming lyk die erediens baie anders as in Rome in die jaar 150.  

  • Die ampsdraers is koninklik, verhewe.  
  • Die gemeente is doodstil. Net die priesters praat en net die koor sing.
  • Van wat gesê word, kon die lidmate niks verstaan nie. Latyn was kerktaal, al kon niemand in die gemeente meer die taal praat nie.
  • Die gebede was nie meer die gemeente s’n nie. Die priesters het formuliergebede onhoorbaar afgerammel.
  • Daar is bitter min met Skrifuitleg gepreek.
  • Lidmate was meestal net toeskouers by elke Sondag se Nagmaal (of Misoffer), en die priesters het die tekens van brood en wyn namens die gemeente gebruik, want lidmate sou glo die sakramentstekens nie met die nodige ontsag kon gebruik nie, of dit moontlik stort. Gegewe dat die brood en wyn die werklike liggaam van Jesus Christus sou wees, was storting daarvan ’n erge vergryp. As die brood wel by die lidmate uitgekom het, het die priester dit in die lidmaat se mond gesit.  

Dis teen hierdie verwronge erediens dat die Hervormers die stryd opneem. Maar daar was nie onder die Hervormers eenstemmigheid oor presies hoe die erediens moes lyk nie. Die slagspreuk van die Hervorming het bepaal hoe die Hervormers oor die erediens gedink het: Net die Skrif. Net Christus. Net genade. Net geloof.  

Die Hervormers sou die Bybel fynkam, en by die vroeë kerk gaan kers opsteek vir leiding oor ’n erediens. Die Hervormers kom agter dat die erediens eers twee dele gehad het, naamlik die Woordbediening en die sakramentsviering. Vir die Hervormers was die Woord- en sakramentsbediening ook ewe belangrik. By Rome was die Woord destyds net ’n aanloop tot die sakrament. En lidmate moes weer voluit kon deelneem aan alles wat in die erediens gebeur. Tydens die Hervorming was dit bloot ’n vertoning, en die gemeente daarvan toeskouers.  

Die Hervorming lewer toe wyd uiteenlopende idees op oor hoe die Hervormde erediens kon lyk. Martin Luther was meer behoudend van die status quo, terwyl Ulrich Zwingli ’n geheel en al ander liturgie voorgestaan het. In Strassburg het Bucer ’n middeweg probeer vind, en sy idees het Johannes Calvyn beïnvloed. Calvyn se ordes het wyd inslag gevind.  

Luther en die liturgie van die Wittenbergse Hervorming
Terwyl Luther in die Wartburg-kasteel geskuil het, het Andreas Bodenstein von Karlstadt (1486-1541) een Oukersaand in Wittenberg die Mis én Nagmaal in Duits bedien, weggedoen met die seremoniële togas en afgeskop met ’n veldtog teen Roomse gebruike. Die sakrament van die skuldbelydenis, die eis om voor die Mis boete te doen, laat hy uit. Maar Karlstadt gaan, vir Luther se gevoel, te ver.

Met sy terugkeer uit Wartburg preek Luther toe agt preke op agt agtereenvolgende dae om die orde te herstel. Want Luther het bly glo dat die bestaande erediens uit die Bybel kom, en met die vroeë kerk ooreenstem. Nie die erediens moes vervang word met iets nuuts nie, maar die inhoud daarvan moes hervorm word.    

Luther begin by die idee dat Christelike aanbidding bestaan uit God se Woord en ons gebede. Hy was gesteld op hoe geloof, en daarom ook liturgie, die gelowiges raak. Omdat die Woordverkondiging in die Roomse erediens geminag en verdraai is, besluit hy dat geen erediens meer sonder prediking sou wees nie. Prediking is uitleg van die Skrif, nie die Apokriewe nie, en is ook nie legendes oor heiliges nie. Twee eredienste is elke Sondag gehou, en telkens bedoel vir die hele gemeente en nie net vir klein uitgesoekte groepies wat privaat bedien wou word nie. Hy was nie voorskriftelik oor die Skrifgedeeltes waaroor gepreek moes word nie.  

Nagmaal sou weekliks in Sondae se eredienste gevier word. Die daaglikse Mis, weer eens dikwels gemik op geslote kleingroepies, is afgelas: Die Woorddiens aan almal is veel belangriker. Vir Luther is die Nagmaal ’n genadegawe van God aan die hele gemeente, en nie ’n offer van die gemeente aan God nie. Almal sou ten volle deelneem, en lidmate wat Nagmaal gebruik, sou dit voor in die kerk doen, sodat almal dit kon sien. Almal in die erediens moes die evangelieverkondiging kon verstaan. Daarom dat die Nagmaalformulier in Latyn of Duits kon wees, afhangende van wie en waar die gemeente was.   

Lidmate sou voortaan sowel die brood as die wyn as sakramentstekens kon ontvang. Die brood kon hulle met die hand vat. Luther wou nog nie sowel die brood as die wyn afdwing nie, want gelowiges was nie daaraan gewoond nie en dalk ook nog nie daarvoor gereed nie.   

Luther vra musikante om nuwe geestelike liedere vir gebruik in die erediens te komponeer, en self komponeer hy etlike van die gesange in ons Liedboek: 27 (46, 476, 477), 28 (64, 252, 558), 69 (80, 267), 104 (336, 360, 405), 322 en 430. Ons sing dus nou nog liedere in ons erediens wat klink nes Luther hulle destyds geskryf het. Luther het geglo dat die hele gemeente aan die samesang in die erediens moes kon deelneem.

Hy skryf vir die doopformulier die gebed wat die Noagvloed en die farao se ondergang in die Rooisee onthou as voortekens van die doop. Hy het geglo dat Maria eervol herdenk moes word, maar beslis nie aanbid kon word nie. Hy het die eerste helfte van die Heil Maria-gebed in die Hervormde erediens ingesluit.  

Luther wou gestalte gee aan die Hervormde teologie daar waar dit saak maak: waar die gemeente God in die erediens ontmoet. Hy kom nie met nuwighede nie, maar keer terug na die verwaarloosde gebruike en beginsels van die vroeë Christelike kerk, met die Bybel as grondslag. Aanbidding in die erediens word opnuut verstaan as ’n ontmoeting van God met sy gemeente. In die ontmoeting tree God én ons op: God praat, ons antwoord. God doen, ons reageer. Ons almal neem deel.

(Ds Hennie la Grange is leraar in Gemeente Kampersrus)