Die Hervormer

Die blywende waarde van Martin Luther se teologie

Die jaar 2017 is vir ons as Kerk ’n baie belangrike jaar. Ons herdenk saam met ander Protestantse kerke die 500-jarige bestaan van die Reformasie. Kerklik gesproke, is hierdie die grootste geleentheid van ons ganse bestaan. Ons gaan op verskillende wyses die Reformasie van die 16de eeu feestelik herdenk.

Die jubileum word wêreldwyd hoofsaaklik as ’n Luther-fees gevier aangesien die datum gekoppel word aan 31 Oktober 1517, die dag toe Luther sy beswaar teen die aflaatstelsel in 95 stellings wêreldkundig gemaak het. ’n Hele aantal teoloë het die afgelope paar dekades daarop gewys dat die Hervormde Kerk minstens ’n goeie aanvoeling vir Luther se teologie het. Daar is egter min Hervormers wat kennis dra van die inhoud van sy teologie. Dit is daarom belangrik dat ons hier aan die begin van hierdie jubileumjaar ’n kort (maar totaal onvolledige) oorsig sal gee van die inhoud van Luther se teologie.

LutherEksistensiële teologie

Die blywende waarde van Luther se teologie is dat dit oor die geloofsvrae van die individuele gelowige handel. Sy teologie is eksistensiële teologie. Dit gaan oor ons bestaan voor die aangesig van God. Luther het as jong priester met die vraag geworstel hoe hy as mens, wat nie genoeg goeie werke kan doen nie, staande kan bly voor die oordeel van God. Hy het geglo dat God ’n God van geregtigheid is, wat mense straf na verdienste. Sy groot “Reformatoriese deurbraak” het gekom toe hy die Romeinebrief intensief bestudeer het, en daarin ontdek het dat God, die Vader van die Gekruisigde, ’n barmhartige en genadige God is. Hy het verder ontdek dat ’n mens, slegs deur geloof, deel kry aan die barmhartigheid van God. Goeie, voortreflike werke is nie nodig om God se guns te wen nie. 

Die ontdekking van die evangeliese aard van God se geregtigheid het van Luther ’n vry mens gemaak. Die gedagte van vryheid het hom só oorweldig dat hy sy naam van Martin Luder na Martin Eleutherius Luther verander het. Dít het hy op 31 Oktober 1517 gedoen in ’n brief aan die biskop van Mainz waarin hy beswaar gemaak het teen die aflaatstelsel. Vryheid is vir Luther vryheid van die dwang om jou menswees deur voortreflike werke te regverdig. Dít wat jy gedoen kry, bepaal nie jou aanvaarbaarheid by God nie. Wie dít snap, sê Luther, is vry om sy naaste in liefde te dien. Geloofsvryheid stel jou in staat om jou naaste langdurig in liefde te dien.

Om reg te onderskei 

’n Ander belangrike bydrae wat Luther tot die kerklike lewe en teologiese nadenke gemaak het, is dat daar reg onderskei moet word. Hy het ’n paar keer gesê dat wie reg kan onderskei, is ’n ware teoloog. Daar moet onderskei word tussen wet en evangelie, geloof en politiek, en kerk en wêreld. Wie werke met geloof verwar, is nie op die regte manier besig met die Bybel nie. Wie dink dat politiek godsdiens is, verstaan nie die Nuwe Testament nie, en wie sosiale ontwikkeling met die essensie van kerkwees verwar, lei die kerk op ’n pad van selfvernietiging. ’n Kerk wat daarop aanspraak maak dat hy ’n Reformatoriese kerk is, maar nie kan insien dat geloof iets méér is as doenigheid en bedrywigheid nie, het nog nie met Luther, en Paulus, kennis gemaak nie.

Volgens die Lutherse tradisie is geloof denkende geloof, maar nie blote denke nie. Luther se teologie word dikwels beskryf as “konflikwetenskap”, aangesien teologie en filosofie met mekaar in konflik staan. Luther en sy bondgenote (veral Philipp Melanchthon) het groot agting vir filosofie (wat ’n versamelnaam vir al die wetenskappe is) gehad. Danksy hierdie twee manne is wetenskaplike kennis en redelike nadenke binne die hoofstroom van die Protestantisme nog nooit as vyande van die kerk gesien nie. Wat Luther wel geleer het, is dat geloofsake nie filosofiese opinies is nie. Hy het die uniekheid en uitsonderlikheid van die geloofsartikels beklemtoon. Só het hy byvoorbeeld geargumenteer dat die “maagdelike geboorte” filosofies onsin is, en slegs vanuit die geloof verstaan en beredeneer kan word. By Luther leer ons dat geloof en teologie méér is as ’n stuk werklikheidsverstaan. Luther leer dat geloof ook dink, maar dat denke as sodanig nie geloof is nie.

Die Bybelse boodskap

’n Belangrike vraag is: Wat glo die gelowige? Die gelowige glo volgens Luther die evangelie – die evangelie wat te vind is in die Bybel. Geloof is aktiewe vertroue, maar het ook inhoud. Hierdie inhoud word in die Bybelse boodskap, wat verkondig word, gevind. Geloof glo nie die Bybel nie, maar die evangelie wat in die Bybel te vind is. Wie Luther navolg, is bevry van al die gekibbel oor die gesag en die inspirasie van die Bybel. Niemand het nog méér vir die Bybel gedoen as Luther nie (danksy hom het ons ’n Afrikaanse vertaling), maar met biblisisme en die getwis oor die vraag of die Bybel ’n handboek vir die wetenskappe is, het hy niks te make nie.

Een van Luther se goeie insigte is dat die evangelie nie met wêreldvertroue verwar moet word nie. Die vertroue dat die wêreldgeskiedenis, en dat elke afsonderlike volksgeskiedenis, breukloos in die koninkryk sal uitmond, is bygeloof en dwaling. Die sosiale orde en die stryd om sosiale geregtigheid, ten einde ’n beter orde daar te stel, het weinig met geloof en die koninkryk te make. Die wisselgange en onvolmaaktheid van die wêreld is nie ’n openbaringsbron vir God en sy ryk nie. God word geken deur die kruis van Jesus Christus, terwyl die voetspore van die drie-enige God verborge bly in ons wêreld. Om hierdie rede het Luther onderskeid gemaak tussen die ryk van die wêreld en die ryk van God. Die “tweerykeleer” het ten diepste te make met die twee gestaltes van geregtigheid – die geregtigheid van God in Christus, en die geregtigheid van die wêreld. Vertroue in wêreldse geregtigheid loop uit op teleurstelling, terwyl die geregtigheid waarvan Paulus praat, te make het met blywende hoop en vreugde.

’n Morele verpligting?

Luther moet nou ook nie doelbewus verkeerd verstaan word nie as sou hy gesê het dat die Christen geen morele verpligting het nie. Luther se argument is: Omdat ons nie die koninkryk kan laat aanbreek nie, kan ons, in gelatenheid, konsentreer op die relatiewe verbetering van sosiale omstandighede. Omstandighede verander wanneer elke gelowige, met konsentrasie op die liefdesgebod, volgens die eise van die tien gebooie lewe en werk. Wanneer elke Christen eerlik, hardwerkend en barmhartig is, sal die wêreld ’n draagliker plek gemaak word. Vir die groot strukturele veranderinge in die sosiale orde en die ekonomie is die politici verantwoordelik. Hierdie lot moet egter gereeld in gebed voor die Here gestel word – vir leiding, maar ook vir bestraffing – want inderdaad is hulle ’n korrupte spul. 

Ten spyte daarvan dat Luther sy hele lewe lank by politieke konflikte (soos die boereopstande) betrek was, was hy ten diepste ’n pastor wat hom besig gehou het met mense se pyn en lyding. Ná 500 jaar bly sy insigte oor die dood en die lewe ná die dood steeds bruikbaar. Sy mening dat die deelname aan Nagmaal die beste voorbereiding op die eie dood is, en die grootste troos bied vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, bly vir my een van die belangrikste dinge wat ek by Luther geleer het. As ’n mens in één sin moet sê waar ’n samevatting van Luther se teologie te vind is, sal ek sê dat dit te vind is in die dankbare lofprysing van die klassieke Nagmaalformulier. Lof en dank aan die Here wat barmhartig en genadig is (Ps 103 en Rom 5), is die kern waaroor dit by Luther handel. 

(Prof Natie van Wyk is die Kerk se Koördineerder: Ekumeniese Skakeling, en hy koördineer ook saam met dr Wim Dreyer alle aktiwiteite rakende die viering van Reformasie 500)