Die Hervormer

’n Teddiebeer genaamd Hope

Op 18 Februarie 2016 breek ’n brand uit in die Gloria Dei Lutheran Church in Duluth, Minnesota, VSA. Alison Stucke vertel in die elektroniese nuusbrief Living Lutheran van die kerk wat as liggaam van Christus tot aksie aangespoor is deur hierdie katastrofale gebeurtenis.

Feitlik al die ameublement in die kerkgebou, soos die preekstoel, orrel, klavier, kansel en loodglasvensters, is vernietig in die brand. Die 110 jaar oue kerkgebou in die Gotiese styl, die kerkbanke, kerkkantoor, saal en kategeseklasse is deur rook- en waterskade onbruikbaar gelaat.

Teddy Hope’n Klein gemeentetjie in die ooste van Duluth, die Faith Lutheran Church,het aangebied dat Gloria Dei Lutheran saam met hulle eredienste hou. David M Carlson, die predikant van Gloria Dei,sê dat hulle van dag een af met ope arms ontvang is.

Ander kerke in die omgewing het fondsinsamelingsgeleenthede ten bate van Gloria Deigeloods en die sinodale kantoor in noordoostelike Minnesota het kantoorruimte vir die gemeente beskikbaar gestel. Die hele gemeenskap van Duluth het uitgereik na Gloria Deimet meegevoel, ondersteuning en liefde. Die brandweermanne wat die vuur probeer blus het, het gesorg dat daar elke Sondag blomme in die erediens is.

Een van die geskenke wat die gemeente die meeste geraak het, het by hulle aangekom tydens die Groot Lydensweek. Dit het gekom van die First Lutheran Church in Lorain, Ohio. Dit was ’n teddiebeer met die naam Hope en het gekom van ’n gemeente wat self deur ’n traumatiese tyd gegaan het. Hope het ’n geel lint om haar nek en aan die geel lint is daar sewe gelamineerde kaartjies wat die stories vertel van sewe gemeentes wat Hope al besoek het. Hope het oor ’n tydperk van 11 jaar na gemeentes gegaan wat die een of ander vorm van verlies of tragedie deurgemaak het, soos brande, skade na ’n tornado, die skielike afsterwe van ’n predikant en ander traumatiese gebeure. Op elke kaartjie is daar ook ’n foto van die gemeente.

Hope se eerste tuiste was by die Christ Lutheran Church in Michigan Central. Dié gemeente skryf op hul kaartjie: Hierdie teddiebeertjie was vir ’n tyd lank in ons midde. Sy het al die Skriflesings en preke gehoor, al die gebede wat gebid is en al die liedere wat gesing is. Sy ken die hartseer en die vreugdes van ons mense en was vir ons ’n simbool van die liefde wat so mildelik deur ons geloofsgemeenskap aan ons betoon is. Sy kom nou na julle om vir julle troos, vrede en hoop te bring.

Die Michigan-gemeente het in 2005 vir Hope na Wichita, Kansas gestuur, en van daar het sy gemeentes in Missouri en Wisconsin besoek, voor sy by First Lutheran uitgekom het. First Lutheran se kaartjie sê onder andere: Hope was elke Sondag saam met ons. Ons stuur Hope met ons gebede na Gloria Dei en na plekke nou nog onbekend, maar waar daar hoop benodig word.

Die onverwagte geskenk het net op die regte tyd by Gloria Dei aangekom. David Carlson het die gemeente van Hope se aankoms vertel tydens die Paassondagdiens. Hy het gesê: Die lewende liggaam van Christus is ’n werklikheid, soos uitgebeeld op die kaartjie van First Lutheran en die ander gemeentes. Die hoop op die opstanding word so op ’n tasbare manier verwoord en dit gee ons moed vir die pad vorentoe.

Gloria Deise lidmate is hard aan die werk om hul kerkgebou te herstel en gaan Hope dan na ’n nuwe tydelike tuiste stuur. Maar tot daardie dag is Hope ’n geliefde metgesel van die gemeente terwyl hulle hul toekomspaadjie aandurf.