Die Hervormer

Ringsvergadering 1982... 2015

’n Mens kan nie altyd staatmaak op jou geheue nie. Dit is soos ’n siffie waarvan die gate deur die jare al hoe groter word. Die inligting val maklik deur die gate en net daardie inligting wat jy wíl onthou en die inligting wat ’n blywende indruk op jou gemaak het weens die aard daarvan, sal in die siffie agterbly.

Desnieteenstaande is daar ’n paar duidelike beelde wat in my gedagtes opkom wanneer ek terugdink aan die eerste ringsvergadering wat ek ongeveer 33 jaar gelede bygewoon het.  Ek het as diaken na die vergadering gegaan. Dit het oor twee aande gestrek. Die eerste aand het ons in groepe verdeel (Apostolaat, Ekumene, Jeugwerk, Kategese, ensovoorts) en elke gemeente se verslae van die betrokke raad deurgegaan. Die onderskeie groepe het dan ’n samevattende verslag oor hul spesifieke groep se werksaamhede saamgestel.

Die tweede aand is hierdie verslae onder ’n vergrootglas geplaas en elke fyn besonderheid daarvan is bespreek. Waar ’n gemeente  “ja” moes antwoord en daar ’n “nee” op die verslag verskyn het, moes die betrokke predikant en sy kerkraad verduidelik waarom die nalaat of leemte in wit en swart verskyn het.

Na ’n volle aand se bespreking van die verslae, kon verligte ampsdraers weer hul weg huis toe vind en gaan poog om alle leemtes wat uitgewys is, reg te stel. Dit was ’n tyd en era waarin die instandhouding van ’n bepaalde struktuur dikwels op die voorgrond beland het. As jou gemeente se struktuur nie in ’n groot mate ooreengekom het met die pro forma-struktuur wat deur die destydse Kerkwet voorgehou is nie, moes daadwerklike stappe geneem word om die leemtes te hanteer.

33 vergaderings later neem ek aan ’n ringsitting deel waar die aanslag en fokus nogal heelwat geskuif het. Daar is steeds verslae. Daar is steeds afgevaardigdes wat die verslae sorgvuldig bestudeer en daaroor gesprek voer. Die soeke na geskikte antwoorde om die vergadering oor moontlike leemtes tevrede te stel, is egter afwesig. Ons beleef mekaar as vriende en medewerkers wat almal onder moeilike ekonomiese en ander toestande die werk van ons hemelse Vader moet verrig. Die gesprekke wat ons voer, het met geloof en roeping te make. Dit gaan oor hoe ons die saak van die Here kan bevorder en nie oor die instandhouding van ’n vaste struktuur nie.

Wat bemoedigend was, is die feit dat ouderlinge kosbare insette gelewer het. Daar heers ’n gees van opgewondenheid oor die verkondiging van die evangelie en ’n soeke na geleenthede om waarlik diensbaar te wees. Die verslae en die inhoud daarvan dien as aansporing en leermateriaal om mekaar se denke te stimuleer.

Ons beleef nie kompetisie nie. Vroeër sou ’n mens nog jou eie gemeentesyfers met ’n ander gemeente s’n vergelyk en óf goed óf sleg gevoel het na gelang van jou prestasie. Nou is daar gewoon die behoefte om die beste te wees wat jy kan vir God en sy koninkryk binne ’n bepaalde bedieningsruimte. Die tydgees van 33 jaar gelede het sekere eise aan ons gestel en binne daardie tydgleuf was dit sinvol en bruikbaar. Die tydgees wat ons tans ervaar, roep ons op tot nuwe denke en nuwe strategieë. Die Kerk het inderdaad reeds begin om die nodige aanpassings  te maak en is steeds Hervormend besig om dit te doen.

Ringsvergadering 2015 was ’n opbouende en verrykende ervaring!